Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 170 of 332

Verhoog tot ons voordeel en tot sy eer!

Skriflesing: Johannes 3, Efesiërs 4, Filippense 2
Teksvers: Johannes 3:13-15; Efesiërs 4:9-10

Ons behandel vandag die neerdaling en verhoging van die Here Jesus Christus. 

Hy is die lydende Messias, maar deur lyding gaan Hy tot heerlikheid. Deur sy hellevaart (wat sy hele lewe geduur het, maar veral aan die einde in die Godverlatenheid aan die kruis – Sondag 15 en 16) het Hy stelselmatig neergedaal in die smarte wat oor ons moes kom. Dit het Hom die vervloekte kruis en onregverdige veroordeling tot die dood gekos! Daarmee het Hy ons daarvan verlos maar ook vir ons ‘n deurbraak gemaak wat niemand anders kon of sou kon doen nie. 

Daarom is Hy verhoog sodat elke knie sal buig en elke tong bely dat Hy die Here is. Hy en Hy alleen! 

Verwag ontsettende lyding, maar vertrou altyd op God!

Skriflesing: 1 Petrus 4:12-19
Teksvers: 1 Petrus 4:19

Elke kind van God wat gehoorsaam en heilig voor God lewe, verduur lyding vanweë hulle christenskap. Dit is omdat mense die evangelie en God teenstaan, weerstaan en verwerp. Dit is die lyding waarvan daar gepraat word in die voorafgaande deel van Petrus. Maar in hierdie gedagte-eenheid wat ons gelees het, hoor ons van die vurige lyding wat die hele of volle kerk van die Here sal tref. Dit is nie net persoonlike swaarkry en lyding nie, maar ’n offisiële lyding van die owerhede wat oor die hele kerk sal kom, maar natuurlik ook persoonlik oor elkeen. 

Ons gaan na vier sake kyk: 

Verwag lyding. 1 Petr 4:12 

Verbly jou in lyding. 1 Petr 4:13-14 

Verstaan jou lyding. 1 Petr 4:15-18 

Vertrou jou lewe in jou lyding aan God toe. 1 Petr 4:19 

God beskerm diegene wat op Sy plan vertrou

Skriflesing: Handelinge 23:12-23
Teksvers: Handelinge 23:16

Hoofpunte:

  1. Die duiwel se plan.
  2. God se plan.
  3. My vertroue in God se plan.
    “Maar die seun van Paulus se suster het gehoor van die plan om hom voor te lê en kaserne toe gekom en dit vir Paulus gaan vertel.”

Die Here Jesus gee waarlik om vir sy kinders se swaarkry

Skriflesing: Openbaring 14 (ook 11-13); Hand 7:55; Jes 3:13; Psalm 82
Teksvers: Openbaring 14:1

In die bose dae van hierdie wêreld moet die kerk sy doel en taak steeds voluit uitleef, naamlik om God te aanbid en goeie getuies vir Hom te wees. 

Die wêreld maak dit egter nie makliker nie en bring dit hartseer en swaarkry en lyding vir die kerk van die Here. 

Die voorgestelde PEPUDA-wetgewing gaan dinge onder andere redelik ernstig ongemaklik vir ons maak. Natuurlik is dit nie iets vreemds wat met ons gebeur nie (1 Petrus 4:12). Die kerk van die Here moet dit elke dag te wagte wees en ook daarvoor voorberei (Joh 16:33). 

Die troos vandag is egter dat die Here Jesus, wat op sy ewige troon sit, regtig vir sy kerk omgee en vir sy kinders in hulle nood bystaan en optree. 

Is dit maklik om ’n christen te wees?

Hierop is daar nie ’n eenduidige, enkelvoudige antwoord nie. Aan die een kant ja, aan die ander kant nee. Daar is ’n eenvoudige antwoord: Joh 3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” 

En tog vra God ook dat ons Hom voluit moet dien. Pred 12:13 “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word”. Maar ons glo en bely dat alles is net GENADE. Is dit dan nog maklik om ‘n christen te wees? Die probleem kom in as ek christenskap koppel aan… my verwag-tinge, my dade, my doen en late en werke. Want juis wat ék wil, strook nie altyd met wat God wil nie. God se raadsplan staan vas. En tog vra God net dat ons opreg en eerlik, vas en seker, in Hom sal glo. Ons bely elke Sondagoggend ons geloof. Ja ons dwaal af, ons is dikwels kleingelowig, maar tog bely ons alles voor God: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die ver-keerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps 139:23,24) Nooit het God aan ons geleer dit gaan maklik wees nie. Maar altyd leer God aan ons dat daar by Hom ge-nade, barmhartigheid en lankmoedigheid te vinde is. Daarom slaan ons ons oë op na God. By God is daar vergifnis en redding. By God is daar genade. By God is daar vergewing. By God is daar vir my rus. 

As ek dit dus net regkry om voluit op God te vertrou, in Hom te glo, Hom te dien, selfs bereid is om minder te word, sodat God meer word en in nederigheid voor Hom staan, is dit maklik. Dan lê die klem nie meer by my en wat ek moet doen nie, maar die klem is by God en wat God vir my doen. Dan is dit maklik, omdat ons voluit op God vertrou! 1Joh 5:3-5 “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4 want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” 

Ds. Gerrit 

« Older posts Newer posts »