Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 121 of 345

Kinders van God, roep Hom gerus aan as ‘ons Vader’!

Skriflesing: Jesaja 63:16; Matteus 6:5-13; 1 Johannes 3:1,2
Teksvers: I Johannes 3:1a
HK Sondag 46

Dit is opvallend dat alhoemeer mense die gebruik van God se eiename vermy. Dan hoor ons hulle “van” God praat as die Opperwese of Die Een Daarbo of soortgelyke terme. Dit getuig natuurlik dat so ‘n mens God nie meer persoonlik ken en waarskynlik nie meer gereeld aanroep nie.

So was dit ook al in Jesus se tyd dat mense bang was om “met” die heilige God te praat. Nog minder was dit gepas om “God as Vader” aan te spreek! Jesus leer ons egter om op ‘n persoonlike en intieme wyse met die Here self te praat. Ja, jy mag sy vader aanroep as jou Vader!

‘n Ewige Verlosser aan ‘n moeder beloof

Skriflesing: Genesis 3:1-24
Teksvers: Genesis 3:15

Van kleins af leer ken ons die woorde van Genesis 3:15 as die moederbelofte. Dit is die grootste en die eerste belofte aan die mens na die sondeval. 

Dit is tog vreemd dat die belofte nie aan Adam, die mens nie, maar sy vrou mannin gemaak word. Dit is ʼn belofte aan ‘n moeder, wat nog nie ‘n moeder is nie. ‘n Ewige belofte. Uit die nageslag van die vrou, sal die Verlosser kom wat die slang se kop vermorsel. 

Daarom hernoem die mens sy vrou. Mannin kry ‘n nuwe naam, Eva, met die oog op die belofte van lewe. Ons staan vandag stil by die fondament van God se verbondsgemeenskap met die oog op die nagmaal. 

Verbondsgemeenskap

Gemeenskap en verbond loop hand aan hand. God bestaan reeds voor die skepping in ‘n gemeenskap tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Omdat God ‘n God van gemeenskap is, skep Hy ook die mens in gemeenskap met Homself.

God maak die mens deel van Sy gemeenskap. Dit is die doel van die mens se bestaan, om in gemeenskap met God drie-enig te leef. Hierdie gemeenskaplikheid met God is egter nie ‘n eksterne of uiterlike gemeenskap nie, maar innerlik.

God skep die mens na sy beeld. Die mens ontvang ‘n gemeenskaplike beeld van God. God blaas in sy neus die asem van die lewe. Dit is die inwoning van die Heilige Gees. Nou kan die mens God se wil uitvoer en ewig met God in gemeenskap leef. Daarom die opdrag: bewerk en bewaak.

Om te werk is nie ‘n vloek nie, maar ‘n Goddelike roeping. Dit is by die bewaak deel waar die mens en sy vrou hulle roeping versaak. Deur die sonde verbreek die mens se gemeenskap met God. Die Heilige Gees kan nie langer in die mens woon soos voor die sondeval nie.

Om hierdie verhouding te herstel, maak God ‘n verbond met die mens. Die fondament van daardie verbond word gebou op die moederbelofte van Genesis 3:15. Daar sal Een wees uit die nageslag van die vrou, wat die slang se kop sal vermorsel.

God sal self voorsien om die sonde en die dood, wat deur die sondeval gekom het, te vernietig en te oorwin. Telkens sien ons hoe God dan die mens kom opsoek om in gemeenskap met Hom te leef. Noag, Abram, Isak, Jakob, Moses (Levi), Dawid.

God se beloftes bind geslagte aan mekaar. Deur geloof word hierdie beloftes vervul.

Hierdie is egter nie verskillende verbonde nie, maar een verbond met verskillende bedelinge. Ons gaan vervolgens deur die kwartaal stilstaan by die betekenis van elkeen van hierdie bedelinge met die vervulling in Christus.

Mag u daardeur sien hoe God Homself deur die geslagte in verbondsgemeenskap stel, met sy kerk wat Hy losgekoop het, om weer in gemeenskap met Hom te leef.

Lourens (vdm)

Rig jou oë op die Here

Skriflesing: 2 Kronieke 20:1-30
Teksvers: 2 Kronieke 20:12
HK Sondag 45

Koning Josafat sit vasgevang in ‘n geweldige krisis. Daar is ‘n leermag oppad waarteen hy sy eie volk nie kan verdedig nie. En hulle is al baie naby. Engedi is nie verder as twee dae te voet van Jerusalem af nie. 

Wat sal jy doen as die oorlog op jou voorstoep dreig? Josafat bid. En hy laat roep ‘n vasdag uit. Hy soek sy hulp van die Here. Hy beroep hom op die beloftes van God. 

Ons staan vanaand stil by die aangrypende gebeurtenis waar God self ingryp en vir sy volk oorlog voer, omdat hulle bid. 

Dien die Here met blydskap, as gemeente saam!

Skriflesing: Psalm 100
Teksvers: Psalm 100:4-5

Juig, dien, blydskap, jubel, dankliedere, lofsange, prys sy Naam!
’n Dankpsalm. ’n Psalm by uitstek wat tot eer van God gesing word.

’n Psalm wat die verbond so pragtig bekragtig en verduidelik. ’n Psalm vir die gemeente by die aanvang van die nuwe jaar.

Ons gaan na drie sake kyk:

  • Juig tot eer van die Here.
  • Erken die Here.
  • Dien die Here as gemeente saam.
« Older posts Newer posts »