Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 118 of 345

Is jy gereed?

Nog ‘n geweldige ramp het die wêreld geskud. 

Op 9 Februarie 2023 om ongeveer 4uur die oggend vroeg, terwyl die meeste mense nog vas aan die slaap was in hierdie winternag in Turkye en Sirië, het ‘n aardbewing van 7.8 op die Richterskaal, opgevolg deur ‘n tweede skudding van 7.7, dood en verwoesting gesaai. Die syfer tot op vandag waar ek hier skryf reken daar is meer as 41 000 reeds mense dood. Steeds word mense na meer as ‘n week nog lewend onder die hope puin van die meer as 7000 hoë geboue wat geval het, uitgehaal. Die hartseer en pyn van hierdie landstreke raak die harte van meeste mense regoor die aardbol, en daar word op allerlei wyse gesimpatiseer en met noodleniging onder moeilike omstandighede gehelp. 

Ek moes dadelik dink aan die versie in Ef 5:14-20 …“Daarom sê die lied: ‘Word wakker, jy wat slaap, en staan op uit die dood; en Christus sal jou lewe verlig.’ Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges. Koop die tyd uit, want ons lewe in ‘n goddelose tyd. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen. Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. Dank God die Vader altyd oor alles in die Naam van ons Here Jesus Christus.” 

Die aardbewing se emosionele, finansiële en psigiese gevolge is onmeetbaar op enige skaal. Ons harte gaan uit na elkeen wat die pyn van soveel verlies in die volgende weke, maande en jare moet probeer verwerk. Wat ons egter wel weet is dat ook hierdie ramp deel uitmaak van die tekens van die naderende koms van Jesus Christus op die wolke van heerlikheid (Mat 24). 

In ‘n wêreld waar ons konstant herinner word aan die tydelike en verganklike bestaan wat ons ons hier beleef, moet ons ons oefen om ons harte te fokus op die onverganklike God en sy ewige beloftes! Mag die Woord ons onwankelbare fondasie wees. Mag ons ons oë rig op die ewige gebou in die hemel wat God vir ons voorberei het. Want Jesus is aan die kom en die verwoesting van sy oordeelsgloed sal veel erger wees as enige katastrofe wat hierdie wêreld in sy hele bestaan beleef of gesien het. Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak, en sy geliefde uitverkorenes red soos brandhout uit die vuur. 

Laat ook hierdie aardbewings van Turkye vir ons ‘n herinnering wees dat Jesus oppad is, en aan die vraag of jy daarvoor gereed is. 

Is jy nog aan die slaap of is jy wakker en gereed?

Ds Maarten 

Oordenking 16 Februarie

‘n Brief aan die uitverkorenes van God!

Waar Christus is, is daar hoop en lewe
Waar daar lewe is, is daar hoop.
Donderdag 16 Februarie 2023
Lees: 1 Petr 1:1,2
1 “Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
2 Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!”

‘n Antieke Romeinse spreekwoord, wat die meeste van ons goed ken lui:
• “Waar daar lewe is, is daar hoop!”

Vir ons as Christene is die Bybel daar en ons lees in Joh 3:16 dat elkeen wat in Jesus Christus glo, het die ewige lewe.
Ook in 1 Petr 1:3 lees ons dat ons ‘n Lewende hoop het op die ewige lewe.

Petrus skryf hier aan jong christene, bedoelende mense wat maar pas tot geloof in Jesus Chrisus gekom het en hy noem hulle met twee name: Uitverkorenes en Vreemdelinge.

Uitverkorenes. Dit is die mense wat volgens “die voorkennis van God” uitgekies is om op aarde vreemdelinge te wees, maw bywoners, maar wat hulle burgerskap in die hemel het.

In Psalm 139:16 lees ons: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Maw God het my gesien, my uitgekies, nog voordat ek gebore is. Wat ‘n ontsettende troos is dit nie. En nou dat ons gebore is en mense is, het God ons deur die Heilige Gees afgesonder, gewederbaar om aan Hom gehoorsaam te wees.

Daarom weet ons as christene dat ons is nie burgers van die sondige wêreld nie. Ons is burgers van die hemelse koninkryk. Fil 3:20 “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook
die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” Dit is nie sonder rede dat ons burgers van die hemelse koninkryk is nie, want ons waardes en norme is anders as die wêreld. Ons leef nie vir onsself nie, maar ons leef tot eer van God. Die wêreld vind ons vreemd. 1 Petr 4:4 “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” Maar ons het die voorreg dat die Heilige Gees in ons werk. Ons het die voorreg dat ons die Bybel het waardeur God met ons praat. Ons is wedergebore deur die Heilige Gees sodat ons glo.

Daarom het ons ‘n Lewende Hoop (1 Petr 1:3) op ons erfenis in die hemel.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 13 Februarie

God se geopenbaarde en verborge wil.
Maandag 13 Februarie 2023
Lees: Gen 29 en 30 Kol 2v11-14

Deut 29:29 “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.”

Te veel kere in ons lewens, vergeet ons wat ons moet onthou en onthou ons wat ons moet vergeet.

Wat moet ons onthou?
Ons moet onthou wat God in die Bybel aan ons openbaar het. Dit is God se geopenbaarde wil. In die Bybel openbaar God aan ons wat Hy wil hê dat ons van Hom moet weet en wat Hy wil hê dat ons moet doen. Dit kom ook natuurlik na vore in die verbond wat God met ons gesluit het.

Sewe maal word die woord verbond in hierdie hoofstuk, Deuternomium 29 gebruik.
• ‘n Verbond is ‘n vaste ooreenkoms wat nooit deur God verbreek sal word nie.
Prof Jaap Helberg verklaar die verbond as volg:
“Verbond behels hier dat God in sy verkiesende genade die mens, of ’n groep mense, in ’n bepaalde verhouding met Horn stel wat nie net van momentele betekenis is nie, maar van blywende betekenis. God onderneem in die verbond sekere verantwoordelikhede teenoor die mens en bepaal ook sekere verantwoordelikhede wat die mens vrywillig teenoor Hom moet nakom.”
Wat is die inhoud van die verbond?
Die verbond het twee kante:
Eerstens God se kant, ons noem dit die monopleuriese karakter van die verbond. Gen 17:7

God het belowe dat Hy altyd vir ons ’n God sal wees. God sal altyd vir ons sorg as sy kinders. God wat so groot en almagtig en alomteenwoordig en alwetend is, sal altyd daar wees vir sy verbondskinders. Dit openbaar God in sy Woord duidelik aan ons.

Tweedens – Die mens se verantwoordelikheid, die dupleuriese karakter van die verbond.

Dan is daar egter ook verantwoordelikhede wat ons vrywillig moet nakom. Dit beteken dat ons God moet erken en bely en liefhê. Nou is dit so dat ons dit nie uit ons eie kan doen nie. Ons is sondaars wat altyd ons eie wil doen en nie God se wil nie. Maar God se genade is juis so groot dat Hy ons so liefhet dat Hy sy Seun Jesus Christus gestuur het om in ons plek die verbond ten volle te vervul en na te kom, omdat Jesus Christus volmaak en sonder sonde is.
Kol 2:13,14
13 ”Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”

Wat is die geopenbaarde en verborge wil van God dan prakties?

Uit genade is God se beloftes altyd daar en Hy sal altyd sy verbond nakom.
Ons moet egter aan Hom gehoorsaam wees en opreg en eerlik ons na Hom bekeer.
Al is nog sondig en onvolmaak en kry dit nie reg om altyd gehoorsaam aan God te wees nie, word ons deur die Heilige Gees gelei om God te dien. Ja ook daarin help en lei God ons.
• Kom ons lees daarom elke dag die Bybel en luister na wat God van ons vra en doen biddend wat Hy vra.
• Kom ons bekeer ons elke dag van ons verkeerde weë.
Ons weet dat almal wat God sy kinders gemaak het, uit sy ryke genade, sal die koninkryk beërwe. Maar hulle wat niks met God te doen wil hê nie en doelbewus, uit eie keuse Hom verwerp, is self verantwoordelik vir hulle lot.

Ons wil U elke dag liefhê deur gehoorsaam te wees aan U geopenbaar wil soos wat ons dit in die Bybel lees.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Help my Here, om my eie wil te versaak

Skriflesing: Gen 25:19-34; 27:1-40; Rom 9:10-13; Heb 11:20
Teksvers: Genesis 27:37b (Heb 11:20)
HK Sondag 49

Om ons te laat buig in aanvaarding van sy wil, laat God ons
baie keer presies die dinge beleef wat onsself regtig nie
graag wil nie. Dit maak egter ons oë oop vir sy wil. Dan
moet ons alte dikwels net ons eie wil versaak (opgee).

Die toekoms is immers in sy Vaderhande – as dit nie so was
nie sou ons ‘n hopelose en selfs wanhopige spul mensies
gewees het. Terwyl ons ons eie planne beraam, is dit dit
van die uiterste belang dat ons God vra om ons te help om
ons ten volle aan sy wil in oorgawe en absolute gehoorsaamheid
te onderwerp.

Dis regtig nie so maklik om dit opreg en eerlik te bid nie!

Verloor die geveg maar verkry die oorwinning

Skriflesing: Gen 32:1-32
Teksvers: Gen 32:28

Soms is dit so dat al wen jy die oorlog of die geveg het jy
nie die oorwinning behaal nie. Die vraag is egter, hoekom
veg jy? Is dit nodig om in stryd te gaan, om oorlog te
maak, om met iemand te veg?

Jakob, een van die drie aartsvaders, Abraham, Isak en
Jakob, was ‘n regte bedrieër. Sy lewe lank het hy planne
gemaak om te oorleef en dit ondanks die feit dat die Here
self aan hom verskyn het (Gen 28:13,16) en hom
bemoedig het. Jakob stoei met God en wil Hom nie laat
gaan voordat Hy hom seën nie.

  • Die rede vir die stoeigeveg
  • Die verloop van die stoeigeveg
  • Die uiteinde van die stoeigeveg
« Older posts Newer posts »