Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 107 of 332

Die Heilige God maak ons heilig sodat sy naam geroem word

Skriflesing: 1 Petrus 1:13-21
Teksvers: 1 Petrus 1:14-17
HK Sondag 47

Waarom leer ons Here Jesus ons om die eerste bede te
bid? Besef ons wat ons bid as ons vra dat die Here se
naam geheilig word?

Ons kan nie ons Vader in die hemel se Naam heilig maak
deur ons optrede nie. Ons verander nie Sy heiligheid nie.
Ons bid egter dat daar verandering by ons sal plaasvind.
Ons bid dat God ons sal lei in ons optrede sodat ons daardeur
sy Naam sal grootmaak.

Ons fokus is vanaand baie spesifiek oor dit waarvoor ons
bid as ons vir die Here vra om hierdie verandering by ons te
bring.

Kyk saam met God na sy reënboog in die wolke

Skriflesing: Gen 9:1-17; 2 Pet 3:3-9; Hooglied 8:6,7 (1953); Jes 54:9-11; 1 Kor 3:9-15
Teksvers: Genesis 9:8-17

Tydens u voorbereiding kan u ‘n bietjie nadink oor die wonderlike
reënboog. Ouers, kan u asseblief indringend met jul
kinders praat oor die wonder van die reënboog: hoe dit
ontstaan na die reën, die verskeidenheid kleure en die
betekenis daarvan by Noag, nl. die belofte dat daar NOOIT
weer so ‘n verskriklike waterramp op aarde sal wees nie. Ja,
so het die Here in sy trou gesweer (belowe) en sal dit nooit
verbreek nie.

En onthou daarby dat jy, nes Noag en die ark, by die Doop
self ook deur die water heen gespaar is… in ‘n heilige
VERBOND wat die Here self reeds ook met jou (deur water)
gesluit het!

Sinode 2023

Van môre (Maandag) af vergader die GKSA weer in die Algemene Sinode om die sake van die kerk van die Here te bespreek en te reël. Ons bede is dat dit waarlik ʼn vergadering onder leiding van die Heilige Gees sal wees, wat dien tot die opbou van die kerk van Christus en tot die eer van God. 

Vanaf 30 Jan – 4 Feb vergader 280 afgevaardigdes van die 7 Streeksinodes van SA in die Sinodesaal in Molenstraat, Potchefstroom. Elke dag van 8vm tot 10nm word daar gebid en gewerk om die agenda van 800 bladsye (uitgesluit die ondersteunende state van nog 500 bladsye) deur te werk. Na hierdie eerste week is die volgende week, (6 tot 10 Feb) ook geskeduleer, waartydens die afgevaardigdes in groeperings van hul Streeksinodes (in Streeks-verband) aanlyn vergader, om die agenda af te handel. 

Tydens my voorbereiding van al die stukke ter tafel vir die Sinode, het ek weereens diep bewus geraak van die wye verskeidenheid van werk in die “groter” kerk van die Here. Die manne- en vroue-krag en inspanning wat inherent en agter al die rapporte (verslae) lê, is indrukwekkend. Ons dank die Here vir al die mense en hul gawes (en tyd) wat hulle bestee aan die diens van die Here. 

Die voorsitters en skribas (die moderamen) van die Sinode word Maandag na die konstituering van die vergadering verkies. Rapporte van die drie jaar (en langer) se werk word agtereenvolgens gelewer en dan na adhoc kommissies verwys met aanbevelings vir goedkeuring of afkeuring. As die Sinode dus saans vroeg verdaag, vergader meeste afgevaardigdes weer in hul betrokke kommissies tot laatnag. Die notule word daagliks gelees en goedgekeur. (Ek vertel dit maar net dat u ʼn idee kry van wat by sinodale vergaderings gebeur). 

Laat ons die Here dank vir hierdie mense en die werk wat gedoen is deur al die Deputategroepe en ook bid dat Hy, die Koning van sy kerk, hierdie heilige vergadering die volgende twee weke mag seën met die leiding en genade van die Heilige Gees. 

Ds Maarten 

Kinders van God, roep Hom gerus aan as ‘ons Vader’!

Skriflesing: Jesaja 63:16; Matteus 6:5-13; 1 Johannes 3:1,2
Teksvers: I Johannes 3:1a
HK Sondag 46

Dit is opvallend dat alhoemeer mense die gebruik van God se eiename vermy. Dan hoor ons hulle “van” God praat as die Opperwese of Die Een Daarbo of soortgelyke terme. Dit getuig natuurlik dat so ‘n mens God nie meer persoonlik ken en waarskynlik nie meer gereeld aanroep nie.

So was dit ook al in Jesus se tyd dat mense bang was om “met” die heilige God te praat. Nog minder was dit gepas om “God as Vader” aan te spreek! Jesus leer ons egter om op ‘n persoonlike en intieme wyse met die Here self te praat. Ja, jy mag sy vader aanroep as jou Vader!

« Older posts Newer posts »