Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Uncategorized (Page 81 of 101)

GloMediaTV skop volgende week af!

(Last updated on Februarie 28th, 2020)

GloMediaTV is ‘n internetgebaseerde TV-kanaal wat geloofsprogramme op die Reformatoriese grondslag beskikbaar stel.

Sover is die volgende programme beskikbaar:

  • 50 Bybelverhale vir kleuters van 5 minute elk.
  • 20 Bybellessies en sang vir kleiner kinders van 12 minute elk.
  • 5 Tienerprogramme oor aktuele aangeleenthede.
  • 7 Stories van Hoop waar gelowiges hul eie geloofspad deel.
  • 12 Dagstukkies van 5 minute elk (wat gratis via sosiale media versprei word).
  • 25 Bybelboodskappe van 12-15 minute elk.
  • 10 Bybelskool-aanbiedings van 15 minute elk.
  • 5 Besprekingsprogramme waar ‘n paneel van kenners oor aktuele saampraat (en verskil).

Heelwat van die programme word deur Gereformeerde predikante of lidmate gelei of aangebied.

Al bogenoemde is egter net die begin, want hiervandaan vorentoe sal meer 250 minute se kykstof per week bygevoeg word tot die platform.  Daar sal ook volledige eredienste opgeneem word, kerknuus en lidmaattoerusting sal aan die orde kom en daar sal gewerk word aan ‘n kerkmusiekprogram waar Afrikaanse gemeentesang sentraal staan.

En eerskomende Sondag, 16 Februarie 2020, skop hierdie kanaal af!   Gaan besoek bloot die webblad www.glomedia.tv en sien wat vir jou aangebied word.

GLOMedia.tv funksioneer as ‘n internet-gebaseerde betaalkanaal (soos Netflix) en die koste beloop R49 per maand of R550 per jaar.  Oupas en oumas kan ook namens hulle kleinkinders inteken en so sorg dat die volgende geslagte opbouende videomateriaal het om na te kyk.  Daar bestaan ook die opsie om selfs kinders uit mindergegoede huise te borg om toegang tot die kanaal te hê.

Enige persoon kan bloot die webblad www.glomedia.tv besoek, aanlyn inteken en so deel word van hierdie opwindende gemeenskap van gelowiges aanlyn.

Die Koronavirus

Die Koronavirus bring skrik en vrees oor die wêreld. In China het die bekampings- en voorkomingsmetodes, drastiese afmetings aangeneem. Mense, gesinne, studente is beperk tot hul blyplekke en slegs een familielid mag die huis verlaat om te gaan kos koop. In Wuhan is daar net een Supermark oop vir 11 milj. inwoners. Daar word spesiale hospitale in China gebou vir die behandeling van pasiënte. Dit is ’n epidemie wat verskriklike gevolge het en nog kan hê. Maar die vraag is altyd, hoe moet ons as Christene dit verstaan en daaroor dink? Ons moet weet dat ons altyd onder die genade van God alleen leef. Ons moet ook weet dat ons in lewe en sterwe aan ons Here Jesus Christus behoort. Daarom moet ons biddend ook met hierdie saak handel en bid vir God se genade. Die lewe moet met respek hanteer word en Christelike liefde moet teenoor almal uitgedra word.

Die Skrif is duidelik daaroor dat daar swaarkry gaan kom. As ons Mat 24,25 lees, dan lees ons die profetiese redes van rampe en vervolging en verdrukking wat daar sal wees. Maar ons moet nie nou dink hierdie Koronavirus is noodwendig die aanbreek van die laaste plae voor die wederkoms nie, daar was al baie groot en baie ernstige plae voorheen. Dink maar aan die groot griep in vroeë 1900 toe die sogenaamde “Drie-daggriep” in Suid Afrika uitgebreek het en meer as 350 000 Suid Afrikaners dood is. Dit was ’n verskriklike tragedie en hartseer. (https://www.vryeweekblad.com/wetenskap-en-tegnologie/2019-04-19-die-groot-griep-vergete-stemme-se-stories-van-seer-herleef/)

Wat kan ons as gemeente doen? Ons kan en moet vir hierdie saak bid. Daar is van ons broers en susters in die geloof, wat in China onder hierdie verskriklike plaag deurloop. Kom ons bid….

  • Dra almal, die siekes, die mediese personeel en die hele bevolking aan God op.
  • Bid vir wysheid en insig by almal rondom hierdie saak.
  • Bid dat die evangelie uitgedra sal word ook onder hierdie omstandighede oor die hele wêreld.
  • Bid vir God se genade omdat Hy alleen die Groot Geneesheer is.

Mag ons almal biddend ons voor God verootmoedig en mag sy genade vir ons almal genoeg wees.

ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »