Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 240 of 328)

Christus is ons Opstanding en lewe!

Skriflesing: 1 Kor 15:1-26
Teksvers: 1 Kor 15: 13-15
HK: Sondag 17

Ons belydenis vra ‘n reguit vraag sonder om baie besonderhede aan die vraag te voeg: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

1. Waarom dink jy sal die woordjie “nut” gebruik word om te beskryf hoe die opstanding waarde toevoeg tot ons geloof? Hierdie nut word vir ons beskryf op drie maniere, gaan kyk gerus V/A 45.. 1 Pet 1:3-10

2. Op watter wyse sal die opstanding uit die dood geskied? Is dit geestelik of ‘n liggaamlik of beide? Rom 6:4 en 8:34, Ef 2:5-6

3. Hoekom leer Jesus ons dat ons liggaam en siel belangrik is, en nie geskaad mag word nie? 1 Kor 6:19

Laai af

 

Die hemelvaart is tot òns voordeel!

Skriflesing: Johannes 16:7
Teksvers: Johannes 16:7

Ons vier hierdie week die hemelvaart en volgende week Pinkster. Laat ons weer besef dat ons in ons aanbidding van God te make het met die verheerlikte Seun van God, wat nou weer by sy Vader is en wat terselfdertyd ook steeds ware mens gebly het. Hy is egter daar tot ons beswil en voordeel.

1. Wat beteken die hemelvaart van Jesus Christus vir ons? (Kyk gerus weer na u belydenis in HK Sondag 18 en 19.)

2. Waarheen het Jesus gegaan toe Hy opgevaar het en dink jy dit was vir Hom ‘n heel nuwe ervaring? (Mark 16:19; Joh 6:62)

3. Luister hoe antwoord Jesus die hoëpriester en kyk of jy die grootste belofte wat ons vandag het daarin kan vind (Matt 26:64).

4. Lees gerus die volgende verse in voorbereiding op die prediking: Joh 16:7 en 14:16; 4:34; 8:31-34;Ef 1:19-23; Fil 2:9; Hand 1:8-11

Laai af

Daar sal waarskynlik goeie mense in die hel ook wees!

Lees: Mat 19:16-30; Mar 10:17-31; Luk 18:18-30

Baie keer dink mense dat die hemel net vol “goeie mense” is en die hel vol “slegte mense”. Baie keer dink ons: Wat kan ek nog doen wat “goed” is sodat ek God kan beïndruk, of iets kan doen wat darem tot my voordeel is om in die hemel te kom. Baie keer dink ons dat wat ek doen belangrik is vir God se besluite oor my.

God wil nie iets van jou hê nie, alles behoort aan hom. God wil jou hê, Hy wil jou hart hê, Hy wil gehoorsaamheid hê, Hy wil hê dat ons sy wil moet doen. Ons lees van hierdie jongman, wat baie ryk was, en wat alles gedoen het wat hy moes, hy het die gebooie onderhou, maar Jesus sê vir hom: “Gaan verkoop alles wat jy het en volg My!”

Dit was vir hom baie swaar. Hy het bedroef weggegaan. Tog het hy na Jesus toe gekom in nederigheid, hy het gehardloop, hy het gebuig voor Jesus, Hy het Hom in eerbied aangespreek en eerlike vrae gevra. Ons lees in Mar 10:21 dat Jesus hom liefgekry het. Maar hierdie versoek van Jesus was te veel vir hom. Hy het bedroef geraak. Hoe kan jy sommer maar alles wat jy het verkoop?

Jesus het hier verseker bedoel dat die jongman God nog nie volkome liefgehad het met sy hart en siel en verstand nie. Hy het nog te kort geskied. Sy besittings was vir hom nog baie belangrik. Daarom moet ons onthou dat ons goeie werke ons nie in die hemel bring nie. Ons rykdom bring ons nie in die hemel nie. Ons godsdienstige lewe bring ons nie in die hemel nie. Ons geloof in Jesus Christus, bring ons in die hemel.

Jesus Christus was dié volmaakte mens. Jesus Christus was volkome gehoorsaam aan sy hemelse Vader. Jesus Christus het niks op aarde gehad nie, alhoewel alles aan Hom behoort het, het Hy nie geroem op aardse rykdom nie, Hy het op ’n donkie gery, maar Hy het altyd die wil van sy Vader gedoen. Hy het liefgehad tot aan die kruis. Hy het sy dienswerk op aarde volbring. Glo in Jesus Christus as jou enigste weg na die hemel. Dien God in liefde en in dankbaarheid. Vra altyd vir genade op genade.

Ds. Gerrit

« Older posts Newer posts »