Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 220 of 329)

Nie selfvoldaanheid nie maar dankbaarheid!

Pred 9:1-12

Ons kan so maklik dink dat EK ‘n geweldig impak by die werk, skool in my omgewing maak. Die eie-ek is tog so dikwels ons norm. Daarom meet ons andere aan onsself, ek is die vinnigste, slimste, sterkste, oulikste, mooiste, rykste ens.

Maar wat het ek of besit ek wat ek self verdien het? Is alles nie genade van God nie? Is alles wat ek het nie aan my gegee om te dien nie. Die Skrif is duidelik dat hy wat die belangrikste wil wees, moet die minste wees. Ons Here Jesus Christus, die Koning van die konings, het op ‘n donkie gery. Op aarde het Hy nie sondaars voor Hom weggevee nie, maar vir hulle gebid, hulle bemoedig, vertroos en die evangelie verkondig. Trouens Hy het vir ons as sondaars Sy lewe kom aflê.

Die dissipels het gestry wie van hulle is die belangrikste in die koninkryk, selfs gestry oor wie langs Jesus sal sit. Dieselfde geld natuurlik vir intellektuele kapasiteit. Dit is nie noodwendig die intellektueles wat die beste daaraan toe is of wat die kitaar moet slaan nie. Dit is diegene wat biddend voor God staan, diep afhanklik van Hom.

Dit beteken nie dat jy jou eie talente moet minag nie, maar bloot dat jy dit na waarde skat soos wat God dit aan jou gegee het en dit gebruik tot eer van God en tot voordeel van jou naaste. Ons lees in Prediker 9 dat die goeie en die slegte met alle mense gebeur. Nie een is gevrywaar van die swaarkry op aarde nie. God gee reën en droogte, rykdom en armoede.

Daarom moet daar geen selfvoldaanheid wees nie, maar dankbaarheid. Daar moet dankbaarheid in ons harte wees dat ons kinders van God is. Dankbaarheid dat Hy ons gekoop het met Christus se kosbare liggaam en bloed. Dankbaarheid dat ons meer as oorwinnaars, deur Jesus Christus is. Doen alles dus met toewyding en werk hard maar rustig. God is in beheer.

ds Gerrit

Die Heilige Nagmaal moet in opregtheid gebruik word!

Skriflesing: 1 Kor 11:27-33
Teksvers: 1 Kor 11:27-29
HK: Sondag 30b vr en antw 81,82

Die nagmaal moet met die regte gesindheid, kennis, vertroue in geloof bedien en gevier word. Die betekenis van die “gewone brood en wyn” moet ten volle verstaan, gerespekteer en in opregtheid gebruik word. Daarom is daar ’n spesiale waarskuwing oor die gebruik van die nagmaal. Dit is ’n ernstige saak as jy na die Nagmaalstafel kom sonder dat jy jou hart en denke daarvoor voorberei het. Dit is net so ’n ernstige saak as jy na die nagmaal, “sommer maar net” as ’n gewoonte gebruik. Die nagmaal “VERSTERK” ons telkemale in die geloof. Daar moet ’n geestelike groei en versterking wees telkemale as ons nagmaal gebruik. Met die regte gesindheid ontvang ons die Here se ryke seëninge ook in die nagmaal. Daar is drie sake waarna ons gaan kyk wat die regte gesindheid bewerk.

  • Dink terug aan die kruisiging. v23-26a
  • Dink vooruit na die wederkoms en die hiernamaals. v26b
  • Dink aan nou jou geloof en jou harsgesindheid.v27-28,31-32

Laai af

« Older posts Newer posts »