Dit is baie swaar om te dra aan ‘n las van die verlede wat jou opgelê word, sonder dat jy self daarvoor verantwoordelik is. Die afgelope week was daar baie geskryf in die openbare media oor die boek: The lie of 1652 wat onlangs verskyn het. Hiermee maak die skrywer sekere aannames en gevolgtrekkings wat direk toegepas word op vandag. 

Dit herinner aan die woorde van die Here deur die profeet Esegiël in hoofstuk 18 dat die ouers (vaders) groen druiwe geëet het en die tande van die kinders het stomp geword. Daarmee verwys die Here self na die spreekwoord van die Israeliete wat voel dat die kinders die las moet dra van die ouers se optrede. 

So word vandag se nageslag ook verantwoordelik gehou vir die optrede van voorgeslagte bykans 400 jaar gelede. Is dit billik of regverdig of iemand verantwoordelik te hou vir iets wat hulle nie gedoen het nie? Dit is ‘n baie moeilike en soms netelige saak oor presies hoe ons verantwoordelikheid kan neem om die verkeerdhede van die verlede reg te stel? Word die sondes van die vaders dan “gestraf” aan die kinders, die derde en vierde geslag? Of tot aan die duisendste geslag? 

Ongelukkig is dit so dat aksies gevolge het. Dit wat jy doen sowel as dit wat jy nie doen nie. 

Net so is dit ook waar dat die geskiedenis een ding bewys, dat ons nie leer uit die geskiedenis nie. Immers, niks onder die son is nuut nie, soos die Prediker sê. Om uit ons perspektief terug te kyk na die verlede, is dit baie maklik om sekere dinge duidelik te sien. Dit geld nie net vir ons eie lewe nie, maar ook vir die geskiedenis van die mensdom. 

Dit maak die koms van ons Here Jesus so belangrik en merkwaardig. Dat ons vergewe word vir ons verkeerdhede en sondes, en dat ons deur ons lewens te verander, sekere dinge kan regstel. Vergifnis is sekerlik een van die kragtigste dade wat ‘n mens se lewe verander. 

Daarom leer ons Here Jesus ons om te bid: vergewe ons ons skulde net soos ons ons skuldenaars vergewe… 

Dink maar aan die swaar las wat soveel mense dra omdat hulle nie kan vergewe nie, omdat hulle nie kan vrede maak met die verkeerdhede en sondes van ander mense nie. En soms ook nie met hulle eie sondes nie. 

Die kruisiging van ons Here Jesus Christus bring elke mens voor vergifnis en oordeel. Die twee misdadigers neem elkeen hul eie standpunt in. Die een wat pleit om vergifnis en genade, die ander een wat veroordeel. Die dissipels wat vlug en verraai en verloën word gekonfronteer met skuldgevoelens. Petrus wat pleit om genade en in trane uitbars en Judas wat nie kan vrede maak met wat hy gedoen het nie… 

As ons binnekort Kersfees vier, dan dink ons terug aan die verlede. Aan die onreg wat Jesus aangedoen is. Hy wat sonder sonde is, moes sterf ter wille van ons s’n. Maar Hy verkwalik ons nie daaroor nie, Hy gee ons nuwe hoop en nuwe moed. Niemand wat ploeg en agtertoe kyk is immers geskik vir die koninkryk van God nie. 

Lourens Venter (vdm)