“Mag die Here u gebed verhoor op die dag van nood, mag die Naam van God van Jakob u beskerm. Mag Hy u te hulp kom uit die heiligdom, u bystaan uit Sion.”
Magteloosheid verdring jou vertroue. Magteloosheid verdring alle hoop, alle vreugde, alle lewenslus. Om magteloos te voel, is om te voel daar is niks wat jy self kan doen wat jou lewe kan verander of verbeter nie…
Magteloosheid laat jou heeltemal verlam. En die wêreld waarbinne ons leef, is ‘n wêreld waarbinne ons al meer en meer magteloos voel. Met die inperkingsregulasies was ons volkome van enige magte gestroop. Soveel so dat nie net ons vryheid ingeperk is nie, maar ook ons vermoë om te werk. En wanneer ons so magteloos voel, dan word daardie magteloosheid baie gou ook hopeloosheid.
Hierdie hopeloosheid bring ‘n gevoel van betekenisloosheid en uitein-delik dat jy jou norme eenkant skuif en jouself isoleer en vervreem. Magteloosheid verdring uiteindelik ook jou vertroue in die HERE… Dit laat jou ook twyfel oor wie jy is, oor jou karakter, jou persoon, en jou hele bestaan.
Ons gaan vir die volgende paar preke stilstaan by verskeie karakters uit die Bybel en sien hoe die Here hulle op die proef gestel het, en hoe hulle behoue gebly het.
Besluite en aksies wat jy neem het konsekwensies. Keuses wat jy maak het gevolge. Beskerming wat jy vir jouself in eiewaan en selfvoldaanheid maak, kan verkrummel en tot niet gaan. Wie op aarde kan jou beskermer of vertroueling wees? Keer terug na God. Vertrou op God. God alleen is ons Beskermer. Pasop as jy op iets of iemand anders vertrou. Luister na God. By God alleen is genade.
Ek onthou uit my kinderdae dat my katkisasiemeester ons geleer het dat die VRAE by die Heidelbergse Kategismus NETSO belangrik is as die ANTWOORDE! Kyk jy na die oorspronklike skrywers se kommentaar op die Kategismus (vgl. Het Schatboek, deur Zacharias Ursinus) dan is die vraag is ook deel van die belydenis. Toets dit maar self met die heel eerste vraag na jou “enigste troos”… Dit veronderstel ‘n vreeslike probleem en dat daar net één antwoord is! Ek hoop u volg my argument. Ek wens u lees sommer weer die Heidelberger met nuwe oë.
Vanaand moet u goed oplet. Sondag 15 handel oor Jesus se swaarkry, lyding, veroordeling en vervloeking. Hy het ‘n bittere, bittere lydensweg geloop! Sy hele aardse lewe eintlik ‘n Via Dolorosa (pad van trane)!
En kyk dan nou na die vraagstelling van Sondag 15, waar die onderwyser na hierdie lyding met ‘n verkleinwoordjie verwys- “Wat verstaan jy onder die woordjie : gely? In Nederlands gebruik hy “woordeke”. Is dit nou nie sleg as hy so ‘verkleinerend’ oor ons Verlosser se lyde praat nie?