Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 9 of 125)

Jerusalem daarbo is vry

Skriflesing: Galasiërs 4:21-5:1 (1953); Galasiërs 5:1 (1983); Openbaring 21:1-3; Psalm 87
Teksvers: Galasiërs 4:26; 5:1

Paulus se doring in die vlees was waarskynlik die Jode wat alles wat hy met sy sendingwerk opgebou het weer probeer afbreek het. Hulle wou die mense net weer aan die wet van Moses verslaaf en hulle van hulle nuwe vryheid beroof. 

Vandag bekyk ons die figuurlike verstaan van ware en vrye kerk-wees deur die beeld van “Jerusalem daarbo”. 

En dan kom die oproep van Paulus in Gal 5:2 – “Moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie”. 

Hy vir wie baie vergewe is, het baie lief, maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief

Skriflesing: Lukas 7:36 – 50 (2020)
Teksvers: Lukas 7:47

Jesus maak hier ‘n noue verbintenis tussen vergifnis en liefde. Hierdie gedeelte vertel van ‘n vrou wat moontlik ‘n slegte lewe gelei het, en deur Jesus verseker is dat al haar sondes vergewe is. 

Die besef van haar baie sondes, het haar gedring om vir Jesus liefde te betoon en dankie te sê. Sy het nie aan die gebruike en voorskrifte van die Fariseërs gedink nie. Sy het haar besef van vergifnis, in liefdesdade laat oorgegaan. Daarom het sy met haar trane en salf Jesus se voete gewas en met haar hare droog gemaak. 

Wat word in jou lewe sigbaar as jy aan al jou sondes dink wat volkome deur Jesus Christus vergewe is? Kom ons dink ‘n bietjie na oor ons liefde vir die Here en vir mede-gelowiges. Onvergewensgesindheid lei tot liefdeloosheid of ’n gebrekkige behoefte om die Here en my naaste onvoorwaardelik en met oorgawe lief te hê. 

Die jaar van genade en vryheid

Skriflesing: Lukas 4:14-32; Jesaja 61:1-3; Jesaja 66:2 (1983)
Teksvers: Lukas 4:18,19

Maak gerus ‘n tydjie om die twee teksverse van Jes 61 en Luk 4 se aanhaling daarvan met mekaar te vergelyk. 

As Lukas die Here Jesus aan die Griekssprekendes (heidendom) bekendstel, gebruik hy hierdie spesifieke woorde wat nou in die koms van Jesus as die langverwagte Messias vervul is. Vir die Jode van sy tyd voldoen Hy nie aan hulle vereistes nie. So is die prediking van die Gekruisigde Jesus nie so baie aanvaarbaar vir die huidige wêreld met sy wellustige soeke na sukses nie. 

Is hierdie Jesus vir jou genoeg? 

Jesus van God verlate, sodat ons nooit verlate sal wees nie

Skriflesing: Matteus 27:32-56 (2020)
Teksvers: Matteus 27:46

Het jy al werklik eensaam, vergeet en verlate gevoel? As gevolg van die sondeval, kan selfs gelowiges soms ‘n verlatenheid ervaar. Die Bybel vertel ons van mense wat God verlaat. Ons lees ook dat God die Israeliete soms oënskynlik verlaat het. Ons hoor egter ook van gelowiges wat pleit dat God hulle nie sal verlaat nie. 

Tydens die kruisiging hoor ons Jesus Christus se kreet: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Hoe is dit moontlik dat God vir Jesus kon verlaat, terwyl ons tog bely dat die Drie-enige God, Vader en Seun en Heilige Gees onskeibaar is? Kan Jesus dan deur God verlaat wees en tog nie van God geskei wees nie? Waarom was dit dan nodig dat Jesus van God verlaat moes word? Wat is die troos wat ons put uit Jesus se Godverlatenheid aan die kruis? 

Kom ons verwonder ons oor die blye boodskap, dat Jesus ter wille van ons deur God verlaat is en dat ons nou die sekerheid het dat ons op grond van Christus nooit van God verlate sal wees nie. 

SPIEËL JOUSELF IN DIE WOORD WAT VRYMAAK

Skriflesing: Jakobus 1:19-27; Matteus 7:13-28 (1983)
Teksvers: Jakobus 1: 22-25

Ons het verlede week gehoor dat elke mens ‘n keuse of keuses het, maar nie ‘n vrye wil nie. Ons het eenvoudig nie die waarheid in onsself nie en moet dus van die slawerny van ons sondige wil bevry of vrygemaak word! 

Hierin sien ons die liefdevolle en genadige hand van die God en Here wat ons in Christus só liefhet dat Hy vir ons die wet gegee én vervul het. En nou kan ons deur die geloof (die nou poort) ingaan en op die (smal) pad van gehoorsaamheid lewe deur die krag van sy Gees. 

Hierin moet ons egter God se medewerkers wees en daarvoor het Hy ons sy Gees en Woord gegee. 

« Older posts Newer posts »