Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 278 of 328)

VADER

(Aramees: ABBA Grieks: Patēr)

’n Mens loop dikwels die uitdrukking “abba” raak in meer populêre geestelike geskrifte. Daarom is dit goed dat ons ’n slag dieper daarna kyk. Abba is die Aramese vorm van die Hebreeuse ‘ab’ en kom voor in die uitdrukkings ‘abi’ (“my vader”) en abba (“ons vader”). Ons vind dit ook in ’n titel, soos byvoorbeeld by rabbi’s, soos abba Gamaliël.

Volgens die woord abba se gebruiksgeskiedenis was dit oorspronklik net deel van ’n kindergebed. Die pa van die gesin sou dan aan sy kinders sê: Julle kan die aanspreekvorm Abba vir God gebruik solank julle nog kinders is, maar nie langer as julle volwassenes is nie, en dan feitlik uitsluitlik in kultiese en liturgiese verband van eredienste.

Volgens die Ou Testament kom abba baie min voor en is dit dan te verstane in die sin van die Hebreeuse ‘ab’ (vader). Dit is die vaderfiguur wat die familie konstitueer, die orde in die familie handhaaf, familielede beskerm en die taak het om hulle op te voed. Hy moet ook toesien dat die verbondsbepalinge nagekom word. Vir koning Dawid is God ’n Vader volgens 2 Sam 7:14: “Ek sal vir hom ’n Vader wees en hy sal vir My ’n seun wees.” God se Vaderskap van die skepping loop soos ’n goue draad deur die hele Ou Testament.

Die Nuwe Testament gebruik abba slegs drie keer, telkens in ’n noemenswaardige verband: een keer in die Markus-Evangelie en twee keer by Paulus in die briewe aan die Romeine en Galasiërs.

Gewoonlik word die Griekse woord vir Vader, patēr, gebruik, en nie Abba nie, maar in die beslissende en intense momente kry ons abba. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat Abba as aanspreekvorm vir God “gereserveer” is vir die besondere momente. Selfs wanneer Jesus aan sy dissipels se versoek voldoen om ’n eie gebed te hê, net soos die ander rabbi’s en hulle skole, gebruik Matt 6:9-13 en Luk 11:2-4 nie Abba nie, maar die gewone Patēr.

’n Mens sou dink dat Jesus aan sy groep dissipels die besondere toestemming sou gegee het en hulle selfs sou aanmoedig om Abba te gebruik. Trouens, Jesus sou later van laster beskuldig word omdat Hy God sy Vader noem. Dit bevestig net weer die vasgestelde gebruik dat die Jode uit respek vir God Abba vermy het. Wat wel uitstaan, is dat daar tussen Jesus wat Abba in sy lydensgebed gebruik en sy hemelse Vader ’n unieke verbintenis was. Dit herinner ons nogal aan die Griekse patria potestas wat die mag van ’n vader beklemtoon het in die tipiese Griekse familie.

In die Nuwe Testament kom die term vader (patēr) in ʼn godsdienstige sin 245 keer voor. God is die goeie Vader (Matt. 7:9-13) wat verstaanbaar net soos aardse vaders versorgend en beskermend optree. Hy is ook geestelike Vader (1 Kor. 4:14). Abba verskil wel deeglik van Patēr wat algemeen gebruik is. Die Evangelies (vgl. Markus) plaas Abba slegs in Jesus se intense oomblikke van lyding (vgl. Mark. 14:30) en die bedoeling is dat ons as Christene dit moet respekteer. God se vaderskap word wel in biologiese sin in die Ou Testament in Genesis 1:28 vermeld. Psalm 103:13 verklaar die volgende oor God se geestelike vaderskap: “Soos ’n vader hom ontferm oor kinders, ontferm die Here Hom oor die wat vir Hom ontsag het.”

’n Belangrike aspek van God se Vaderskap is die eskatologiese betekenis daarvan. Die Gees as eindtydse gawe van die Vader begelei gelowiges om deel te wees van die eindgebeure en God daarom met die grootste respek Abba te noem.

God is die Vader van die skepping (Ef. 3:14) en ook van die verlossing, deur sy Seun se kruisdood. Die natuurlike beeld van die vader in die Joodse en Christelike huishouding kom voor, maar eintlik is sy Vaderskap die oorsprong en onderhoud van die hele skepping. Sy Vaderskap het alle verskille tussen Jode en Grieke, tussen slawe en vryes en tussen man en vrou in die eindtydse perspektief geplaas (Gal 3). Deur Jesus het die Vader ’n nuwe geslagsregister van gelowiges as familie van die Vader begin. En dié register sluit aardse en hemelse familie in. God se Vaderskap, deur die intieme Abba te gebruik, bevestig sy koningsheerskappy vir tyd en ewigheid.

Daarom buig ons eerbiedig saam met Paulus in Efesiërs 3:14 “… voor die Vader van Wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang”.

Verkorte uittreksel: Die Kerkblad dd Okt 2018 – Prof Jan Du Rand

Redding is enkel en alleen ‘n genadedaad van die Here

Skriflesing: Romeine 1 en 8
Teksvers: Rom 1:20-22; 8:3
DL: Hoof 3 & 4. Punt 4 – 6
HK: Son 7 (21) en 25 (65)

Oor die eeue heen was daar al baie dinge gesê oor die positiewe en of negatiewe beskouings ten opsigte van die mens. Sommige mense is oor optimisties oor die mens en ander word weer aangekla dat hulle hiper negatief is oor die wese van die mens. Wat is jou mening oor die mens vandag? Is die mens op sy eie tot iets goeds in staat? Daar is ‘n algemene siening in die wêreld dat die meeste mense darem weet wat goed en sleg, reg of verkeerd is. Dit word die sg “lig van die natuur genoem”.

Om die vraag na die goeie en of slegte aard en wese van die mens te bespreek, laat die opstellers van die Dortse Leerreëls, hoofstuk 3 & 4, punt 4 tot 6 die lig van die Here skyn oor drie sake:

  • ‘n Mens kan nie gered word deur die sg “lig van die natuur” nie.
  • ‘n Mens kan nie gered word deur die onderhouding van die wet nie.
  • ‘n Mens kan slegs gered word op grond van die genade van die Here wat deur die Heilige Gees en die Woord van God, ons harte oopmaak vir die Blye Boodskap van redding en genade.

Laai af

God gee lewende water uit ou en nuwe putte!

Skriflesing: Gen 26:12-35; Gen 21:22-33
Teksvers: Gen 26:19-22, 25,32-33 Gen 21:25,30-31; Joh 7:38

In die Bybel word waterputte soms gebruik as ‘n seëning uit die hand van God. Die mens soek, ook in sy godsdiens, voortdurend nuwe dinge, terwyl al wat ons nodig het, is om die ou waterputte oop te grawe, wat God lankal aan die kerk gegee het. Geestelik gesien bevat die ou putte die lewende water, alles wat ons nodig het om van te lewe, bv. Die Woord van God, gebed, aanbidding, lofpryssing, geloof, die krag van die Heilige Gees, dankoffers en dienswerk. Soms gooi die Satan die “ou putte” toe, sodat ons baie dors word. Wanneer daar daadwerklike geestelike herlewing in die kerk is, is dit wanneer die ou putte weer oopgegrawe word. Dit is wanneer die Bybel weer opreg bestudeer word en die Heilige Gees toegelaat word om vrylik deur die Woord in ons harte te werk.

Ons gaan na drie sake kyk:

1 Grawe die ou putte oop, dit is gesonde water.

2 Grawe nuwe putte, daar is nuwe vars water.

3 Gee oorvloedige lewende water, vir almal.

Laai af

God ‘n ervaarbare werklikheid in my lewe

In 2 Timoteus 3:5 word daar gepraat van die krag van godsdiens. Wat is hierdie krag van ons diens aan die Here?

Elke gelowige wat in ware geloofsgemeenskap met die Here staan, sal kan getuig hoe die krag van die Heilige Gees elke dag en elke oomblik in sy of haar lewe ‘n werklikheid is.

Vir die gelowige is dit baie belangrik om daagliks die persoonlike gemeenskap met die Here te kan beleef. Juis in die tyd van ons lewe, word dit net meer en meer ‘n behoefte om die Here as ‘n ervaarbare werklikheid te kan beleef.

As jy voel dat jou lewe vreugdeloos, sinloos, vol vrese, woede en uitdagings is, is dit nodig om te bid dat die Here deur sy Woord en Gees vir jou ʼn daaglikse ervaarbare werklikheid sal wees. Dit is dan wat die krag van God, in ons diens aan die Here, ‘n heerlike werklikheid word.

Vra jouself gerus maar af wat is die werklikheid en selfs wenslikheid van die Here in jou daaglikse lewe? Die Here wat by my huis, by die werk, by die skool en op die pad vir my ‘n werklikheid is, ‘n ervaarbare werklikheid, sal kan getuig dat sy of haar manier van dink en doen totaal anders geword het.

Om die krag van godsdiens te kan ken en te ervaar, is dit nodig dat ons die Here sal ken en vertrou soos Hy Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het. Juis die geloof in die Here, sal soveel stukrag en moed vir jou gee in die uitdagende tye in jou lewe.

Mag jy deur die Heilige Gees gelei word om vanuit jou persoonlike verhouding met die Vader, Seun en die Heilige Gees, die strome lewende water wat uit jou binneste vloei, te ken en te kan beleef.

Ds Paul

« Older posts Newer posts »