Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 277 of 328)

Wedergeboorte lei tot sekerheid en dankbaarheid

Skriflesing: 2 Tim 3:10-4:22 Jak 4:4
Teksvers: 2 Tim 4:10 Jak 4:4
DL Hoof 3 en 4 par 7-17

  • Wees ywerig en getrou in diens van God.
  • Wees gewaarsku teen die suigkrag van die wêreld.

Hierdie artikels van die Dordtse Leerreëls is baie troosvol. Want hier word dit baie duidelik gestel hoe groot God se genade en vertroosting is deur die wedergeboorte. Maar elke mens bly ‘n sondaar. Maar na jou wedergeboorte is jy in staat om al meer en meer te kies om die regte lewe te lei. Alles is en bly God se genade wat jou lei deur die Woord, Gees, sakramente en die tug. Bly altyd ywerig om God te dien. Bly altyd waaksaam teen die verleiding van die Satan, die wêreld en jou eie vlees.

Laai af

Vorentoe is nie agtertoe nie!

Skriflesing: Lukas 5:1-11 en 22:31-34; Johannes 21
Teksvers: Johannes 21:3

Die Heilige Gees (as primêre Outeur van die Bybel) mors nie met woorde nie. Alles in die Bybel is dus woorde wat vir ons van waarde is. So ook die skynbaar min-seggende woorde van Petrus, of soos hy in die teks genoem word, “Simon” Petrus.

Hy is nou weer in sy tuisdorp in Galilea. Doodverveeld! Hier is hy sommer by die See van Tiberias/Galilea. En dan: Ek gaan visvang. Op die oog af heel onskuldig. Hy is immers ’n visserman van beroep. En om nou sy ledigheid te verdryf, gaan doen hy darem iets sinvol. Vanaand gaan daar vis op die tafel wees!

Mens sou die vraag moet vra: Is dit wat Petrus nou moes doen? Is dit wat Jesus van hom verwag? En dan kyk ons dieper, en sien hoe Jesus self vir Petrus omgee en hom help om sy fokus reg te kry.

Wat doen ons terwyl ons wag dat Jesus kom soos Hy beloof het?

Laai af

God se Almag geopenbaar in sy Name!

Elke mens het ‘n naam. Ons weet gewoonlik nie wat ons name beteken nie tensy ons gaan navorsing doen daaroor. Sommige mense gee net mooi name aan kinders, ander familiename maar min mense gee name wat werklik die karakter van iemand beskryf.

God is so groot en Almagtig dat daar verskeie name is hoe God Homself aan ons openbaar. Ons kan nie praat van God se karakter nie, want God is volmaak en nie saamgestel uit kenmerke nie. Elke kenmerk van God is volledig Hy. ‘n Mens moet ook nie sy (Hebreeuse name) gebruik om daardeur “geleerd of gelowig” te wil klink nie. Gebruik God se name soos wat dit in jou taal vertaal is. Daar is nog baie ander name in Hebreeus en Grieks wat vir God, Vader Seun en Heilige Gees gebruik word.

Hier volg net ‘n paar Hebreeuse name:

EL, ELOAH: God “almagtig, sterk, allerhoogste” (Gen 7:1; Jes 9:6) ELOHIM: God “Skepper, almagtig en sterk” (Gen 17:7; Jer 31:33)

EL SHADDAI: “God Almagtig,” “magtige God van Jakob” (Gen 49:24; Ps 132:2,5) ADONAI: “Here” (Gen 15:2; Rigters 6:15) JHWH/JAHWEH/JEHOWA: “HERE” (Deut 6:4; Dan 9:14) – “Ek is wat Ek is” (Eks 3:14).

JAHWEH-JIREH: “Die Here voorsien” (Gen 22:14)

JAHWEH-RAPHA: “Ek, die Here wat julle gesond hou” (Eks 15:26) JAHWEH-NISSI: “Die Here gee my die oorwinning” (Eks 17:15),

JAHWEH-M’KADDESH: “Ek is die Here, Ek heilig julle aan My” (Lev 20:8; Eseg 37:28) JAWEH-SHALOM: “Die Here gee rus” (Rigters 6:24)

JAHWEH-ELOHIM: “Here God” (Gen 2:4; Ps 59:5)

JAHWEH-TSIDKENU: “Die Here verskaf reg aan ons” (Jer 33:16) JAHWEH-ROHI: “Die Here is my Herder” (Ps 23:1)

JAHWEH-SHAMMAH: “Die Here is daar” (Eseg 48:35) JAHWEH-SABAOTH: “Die Here vd leërskare” (Jes 1:24; Ps 46:7)

EL ELYON: “Allerhoogste” (Deut 26:19)

EL ROI: “U is ‘n God wat my sien” (Gen 16:13)

EL-OLAM: “Ewige God” (Ps 90:1-3) – God se natuur is sonder begin of einde, vry van alle tydsbeperkinge en Hy bevat in Homself die ware oorsaak van tyd. “Van ewigheid tot ewigheid is U God.” EL-GIBHOR: “Almagtige God” (Jes 9:6)

Bron: https://www.gotquestions.org/Afrikaans/God-name-van.html

EWIGE LEWE

Skriflesing: Markus 10:17-27

Markus 10 is ʼn gedeelte wat deur kultegroepe gebruik word om die beheer oor hulle lede te versterk.

Lees die gedeelte deur en dink solank oor die volgende vrae:

1. As die man in Markus 10 so ernstig is oor die ewige lewe – waarom is hy dan nie bereid om te doen wat die Here vir Hom sê nie?

2. Waarom gee die Here so ʼn opdrag aan die man? Geld dit vir ons ook?

3. Waarom begin die dissipels dink dat niemand dan gered kan word nie?

4. Wat bedoel die Here as Hy sê dat dit vir mense onmoontlik, maar vir God moontlik is?

5. Hoe hou dit verband met Jesus se vraag aan die man in die begin?

6. Waarin lê ons sekerheid?

7. Watter offer mag dit van ons vra – en is ons daartoe bereid?

Laai af

“Strooi” is nie “koring” nie

Skriflesing: Jeremia 23
Teksvers: Jer 23: 28 en 29

Daar is mense wat soms so maklik sê: “so sê die Here…” of “die Here het vir my gesê…”. Maar is dit werklik die Woord van die Here? As dit werklik die Woord van die Here is, hoe sal ek dit weet?

In Jeremia 23 word die profete aangekla omdat hulle sommer so maklik-maklik verklaar dat die Here deur hulle gepraat het. Die Here kla die profete egter aan dat hulle die volk mislei en sommer net maak of hulle ‘n openbaring, droom of visioen van die Here ontvang het. Dit wat hulle as die Woord van die Here opdis, is sommer eie breingimnastiek, of sommer iets wat iemand anders vir hulle vertel het of sommer woorde aan mense wat die mense graag sal wil hoor.

Mag jy die gawe van die Here ontvang om werklik te kan onderskei wat die Woord van die Here (egte koring) is en wat sommer menslike insig en eie woorde (strooi) is.

Laai af

« Older posts Newer posts »