Skrywer: admin (Page 271 of 328)
Donderdagaand het die Kerkraad saam met die diakens vergader, volgens artikel 4 en 5 van die Kerkorde om te besin en te besluit oor ‘n tweetal predikante, vir beroeping na die gemeente. Enige ampsdraer wat verkies word is ‘n baie belangrike saak in die koninkryk, soveel te meer ‘n predikant wat die gemeente moet voorgaan in Skrifverklaring en leiding. Daar was oor die sestig kerkraadslede en diakens teenwoordig en almal het baie ernstig voor God gebuig na gebede en bespreking.
Op die kerkraadsvergaderings is daar baie sake wat bespreek word. Die hele gemeentelike bedrywighede word behandel en bespreek en verslag van gedoen. Drie baie belangrike kommissies is die wat spesifiek handel oor die Woordbediening. Daar is die bedieningskommissie wat handel oor alle sake rondom die bediening van die Woord. Daaronder word die prediking bespreek en al die werk van die predikante en die ouderlinge aangaande die Woordbediening. Die volgende kommissie is die katkisasiekommissie wat handel oor die katkisasie, die kinders se bywoning, die katkisasieonderwysers se voorbereiding, lesmateriaal en alle sake rondom die katkisasie. Die evangelisasiekommissie handel oor alle evangelisasiewerk. Die gemeente het ‘n beleid om veral betrokke te wees by die opleiding van predikante en daarom is ons baie betrokke by “Mukhanyo Theological School” waar ds. Maarten ook ondervoorsitter is van hulle raad. Ons is betrokke by Covenant College in Zambië, in ‘n minder mate nou by Hefsiba in Mosambiek. Ons is baie betrokke by Geref. Kerk Tembisa. Die evangelisasiekommissie se werksaamhede word opgedeel in drie dele, Binnelandse evangelisasie, Buitelandse evangelisasie, dan ‘n paar enkelpersone wat ons ondersteun. Bybelverspreiding word ook by die kommissie gereël. Dan is daar ook nog verskeie ander kommissies wat rapporteer onder andere die Jeug-, Finansies-, Instandhouding-, Diakonie en ook ad hoc (tydelike kommissies met spesifieke opdragte). Dit is elke keer ‘n baie lywige vergadering en alles gaan om die Eer van God en die uitbreiding van die koninkryk.
Dit is met groot dankbaarheid dat die Gereformeerde kerk Centurion, baie gawes (lidmate) het met verskeie talente wat in die Koninkryk gebruik word. Maar elke lidmaat is deel van die liggaam van Christus en saam dien ons God (1 Kor 12:12-31). Elke lidmaat van die jongste tot die oudste is belangrik in die kerk vir God. Ons leef vanuit ‘n diepe afhanklikheid van God (Mat 5:3) en Jesus Christus is die Hoof van die gemeente (Ef 1:22,23) en ons is sy liggaam.
Ef 1:22,23 “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk. 23) Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal ver- vul.”
Ds Gerrit
Skriflesing: Hand 17:16-34
Teksvers: Hand 17:16-34
In Handelinge 17 kry ons te doen met Paulus se model van evangelisasie. Nadat hy moes vlug vir sy lewe, arriveer hy in Athene, en word daar gekonfronteer met ‘n klomp vrae en aanvalle teen die Christelike geloof.
Kom luister saam om te sien hoe hy dit hanteer en beantwoord, en ook hoe hy homself handhaaf. Daar is ‘n klomp dinge wat ons by hom kan leer oor hoe ons evangeliseer en vrae oor die evangelie beantwoord.
Skriflesing: 2 Kronieke 33; 2 Konings 21
Teksvers: 2 Kron 33:12, 13
Voordat Manasse in ballingskap weggevoer is, het hy die mees gruwelike sondes gepleeg. Hy was openlik uittartend teenoor die Here en het die Here op elke denkbare manier geminag.
Nadat die Here hom en die volk sonder sukses gewaarsku het, het Hy vir koning Manasse in groot vernedering en in pyn in ballingskap laat wegvoer. In die ballingskap het dit nog slegter met Manasse gegaan. In die diepste ellende het Manasse toe tot die Here sy God om genade gesmeek. Die Here het hom tot bekering gelei en Hy het opregte berou voor die Here getoon.
In die ballingskap het hy gebid om genade en uitkoms. Sy fokus was op die Here alleen. Die Here was hom genadig en het sy smeekbede verhoor en hom laat teruggaan na Jerusalem. Sy koningskap is herstel. Manasse het toe geweet dat die Here die enigste ware God is.
Sy hele lewe het verander en hy het hom aan die Here en die Here se saak toegewy tot met sy dood. Groot en oneindig is die Here se genade!
Die kerkraad besluit eerskomende Donderdagaand oor die verdere stappe tot die beroeping van ‘n nuwe jong herder en leraar vir die gemeente. Tot dusver het ons ons name uit die gemeente gevra en ‘n lang lys ontvang. Die kerkraad kon hierdie name sif tot daar ‘n kortlys oorgebly het.
Op sy komende vergadering sal die kerkraad dus waarskynlik tot ‘n tweetal kom wat aan die gemeente in ‘n verkiesingsvergadering (DV voor die Nagmaalsdiens volgende Sondag) voorgehou sal word. Die gemeente (alle belydende lidmate, mans en vrouens en ook die lidmate van die Engelse bediening wat teenwoordig is) stem dan per geslote stembrief oor wie hulle glo die persoon is wat beroep moet word.
Hierdie verkiesing verskil egter van ‘n politieke landsverkiesing daarin dat dit eintlik net ‘n instrument is vir die Here om vir ons te lei in die aanwysing van die regte persoon (Hand 1:15evv). Laat ons nie hier dink oor die gewig van ‘n stem en oor stemreg soos die wêreld dit doen nie, maar oor die voorreg om onder die biddende leiding van die Here te vra wie Hý wil dat ons moet beroep.
Indien sake verloop soos ons beplan sal die uitslag van die verkiesing dan so gou moontlik aan die gemeente bekend gemaak word, waarskynlik aan die einde van sodanige erediens en sal die kerkraad die te beroepe leraar mondelings en skriftelik verwittig. Daarna sal die kerkraad skriftelike ooreenkomste opstel en indien die leraar die beroep aanvaar is dit die wens van die kerkraad dat die persoon nie later nie as Januarie 2020 hier by ons begin werk.
Die grootste beroep in hierdie saak is egter dat elke lidmaat hierdie hele saak ernstig, biddend en gereeld aan die Here moet opdra. Wat die Here dan besluit sal goed en reg wees soos ons dit van Hom afgebid het.
Ds Maarten