Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 272 of 328)

Sondig en tog vergewe

In 2 Samuel 7 hoor ons Dawid se versugting om vir die Here ‘n tempel te bou. Tog sê die Here, ten spyte van sy mooi intensies, dat hy nie die tempel mag bou nie omdat hy in te veel oorloë betrokke was. Sy seun, Salomo, sou wel die tempel mag bou. Verder beloof die Here dat daar altyd ‘n koning in Israel uit die geslag van Dawid sal wees. Ons weet egter dat daar oor baie jare al geen koning in Israel is nie. Het die Here dan sy belofte vergeet? Nee, beslis nie. Jesus Christus wat uit die geslag van Dawid kom, het deur sy lyding en kruisiging hier op aarde heen, sy ewige Koning-skap oor die ganse heelal kom bevestig.

Kyk maar net Dawid wat ‘n besondere man van die Here was. Diep gelowig en tog sondaar. Wanneer die Here straf oor Dawid aankondig as gevolg van sy owerspel, bedrog en moord, aanvaar Dawid die Here se regverdige oordeel. Hy verootmoedig hom voor die Here en pleit om genade. Alhoewel die Here Dawid se sonde vergewe het, sterf die kind tog wat in owerspel verwek is. So leer ons dat die Here Dawid se sonde vergewe, maar die onmiddellike gevolge van sy sonde word nie sommer opgehef nie. Hierdie diep berou, anders as in Saul se geval, word verwoord in Psalm 32 en Psalm 51.

Leer dan hoe groot en genadig die Here is oor die gebroke sondaar wat sy toevlug tot die Here neem. Die Here maak die sondaar in Jesus Christus nuut. Die Here verseker ons deur die Woord en die Heilige Gees dat ons sondes werklik vergewe is.

In Psalm 32 erken Dawid dat hy die Here se liefde en genade en goedheid glad nie verdien nie. Hy erken in Psalm 32: 1 en 2 dat hy die wet en gebooie van die Here nie kon gehoorsaam nie. Dit ten spyte van die pragtige woorde wat hy in Psalm 119 oor die wet van die Here geskryf het.

Dawid bely in Psalm 51 dat hy al sondig was voor sy geboorte. Dit wys op die erkenning van die erfsonde wat in sy menswees ‘n realiteit is. Daar is niks goeds in hom as die Here nie die goeie deur die Heilige Gees in hom werk en hom gewillig maak om meer en meer te lewe soos wat die Here dit van hom vra nie.

In Psalm 51:11-13 erken Dawid dat hy nie gered kan word deur ‘n vroom lewe nie. Hy erken dat redding alleen ‘n genade daad van die Here is. Daarom kon hy pleit om ‘n “nuwe hart”. Hy pleit dat die Here nie sy Gees van hom af sal wegvat soos wat dit die geval met Saul was nie. Hy weet dat die Here alle reg het om sy rug op hom te keer. Sonder die Here se genade is daar nie vergifnis en lewe nie. Dawid het opregte berou oor dit wat hy teenoor die Here verkeerd gedoen het.

Vir ons is die realiteit van die genadige Here wat vergifnis gee deurslaggewend in ons daaglikse handel en wandel.

Ds Paul

Here hoor my as ek tot U nader!

Skriflesing: Nehemia 1
Teksvers: Nehemia 1:4-10

Nehemia fokus in hierdie eerste van tien gebede op die grootheid van die Here. Dit is sy basis waarop hy staan om tot die Here te nader.

Die Here is die groot en ontsagwekkende God. Verder bely hy die sonde van homself, sy gesin en die van die Israeliete. Dan eers kan hy op die Here fokus wat getrou bly aan sy beloftes.

Laastens kom hy in hierdie gebed om sy behoefte aan die Here te stel. Geen gebed kan gebid word sonder die be-sef van die Here se grootheid en ons eie afhanklikheid aan die Here nie.

Mag jy met groot verwagting tot die grote God nader in gebed, wetende dat jy totaal en al van Hom afhanklik is.

Laai af

Word kragtig in die Here

Skriflesing: Efesiërs 6:10-20
Teksvers: Efesiërs 6:10-13

Hoe kom ‘n mens by die hart van ‘n probleem uit? Ons het deesdae soveel teorieë oor wat presies die oorsaak van al die probleme in die wêreld, ons land, ons gemeenskap en lewe is. Ons word so gebombardeer met inligting en kitsoplossings, dat ons baiekeer nie by die hart van die saak uitkom nie. Ons behandel net die simptome.

Paulus beskryf egter vir ons die waarheid van die grootste probleem wat gelowiges in die gesig staar: Ons is besig met ‘n oorlog! ‘n Geestelike oorlog, geestelike worstelstryd wat vir elkeen van ons die belangrikste ding moet wees wat jy in hierdie wêreld doen. Is ons gereed? Weet ons wie ons is?

Laai af

Jesus is ons Eksodus

Skriflesing: Joh 13:31 tot 14:12
Teksvers: Johannes 14:6

Laat julle harte nie ontstel word nie….” Maar glo! Glo in God, glo ook in Jesus Christus… Dit is die boodskap vanuit die Johannesevangelie wat so helder weergalm: Glo! Glo dat Jesus waarlik die Christus is, die Verlosser van hierdie wêreld.

Dit weerklink ook so duidelik in die “Ek is”-uitsprake waarmee Jesus dit bo alle redelike twyfel stel dat Hy waarlik die Verlosser is. Nie alleen is Hy die Brood van die lewe nie, Hy is ook die Lig van die wêreld. Hy is die deur van die skape. Hy is die goeie Herder wat Sy lewe gee vir die skape, want Hy self is ook die opstanding en die lewe… En nou hoor ons dit hier ook, dat Jesus die weg, die waarheid en die lewe is…

In al hierdie dinge is Jesus nie alleen besig om Sy dissipels te leer wie Hy is nie, Hy is ook besig om hulle voor te berei vir alles wat nog voorlê: Die pad van geloof wat hulle moet stap.

Ons staan vervolgens stil by Jesus wat die Weg, die waarheid en die lewe is. Amen

Laai af

« Older posts Newer posts »