Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 270 of 328)

God se huis en Salomo se hart. God woon in ons harte

Skriflesing: 1 Kon 8:12-21; 1 Kor 3:9b-22
Teksvers: 1 Kon 8:12,13,27-30; 1 Kor 3:9b,16,17

1 Kon 8:12-13,27-29 “Toe het Salomo gesê: “Die Here het gesê Hy wil in duisternis woon. 13) Daarom, Here, het ek vir U ‘n waardige huis gebou, ‘n verblyf waar U altyd kan woon. 27) “Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! 28) Hoor tog, Here my God, die gebed van u dienaar, hoor sy smeking, luister na die hulpgeroep, die gebed wat u dienaar vandag tot U rig. 29) Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig, sodat U die gebed kan hoor wat ‘n dienaar van U na hierdie plek toe bid.”

1 Kor 3:9,16,17 “Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God. Julle is ook die gebou van God. 16) Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie? 17) As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle.”

Ons gaan na drie sake kyk:

  • God woon in ons hart.
  • God vra getuienis vanuit ons hart.
  • God vra gebede vanuit ons hart.

Maak oop

Gee wat God jou gee vir sy diens

Skriflesing: I Kron 29:1‑19
Teksvers: I Kron 29:5b,14,18

Dawid se hart was brandende vir die Here. Hy wil sommer ‘n huis, ‘n tempel vir die HERE bou. Dan word hy verbied en moet hy dié groot voorreg oorlaat aan sy seun, Salomo, wat ná hom koning sou word.

En dan sien ons hoe sy hart staan.. hy begin versamel en oorvloedig. Eintlik gee hy net terug! En dan volg hierdie belydenis wat ook op ons gedenksteen staan en wat die preekteks was tydens die ingebruikneming van ons kerkgebou 40 jaar gelede: “ Alles kom tog van u af en ons gee aan U wat ons van U gekry het” (I Kron 29:14). Vergelyk dit nou met ons tema en lees dan Romeine 111:33-36, veral vers 36.

Laai af

Belofte, belydenis, troos en verwagting – Jesus Christus kom weer

Skriflesing: 1 Kor 11:14-34
Teksvers: 1 Kor 11: 26

Elke keer as ons nagmaal gebruik, word ons opgeroep om te besef dat ons deel het aan die Here se maaltyd. Hy is die Gasheer wat ons uitnooi om sonder enige bybedoelings of skynheiligheid of onverskilligheid, te kom aansit aan die tafel van die Here.

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seën uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam vir julle. Doen dit ter herinnering aan My.” So ook met die beker ná die ete, met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed. Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, ter herinnering aan My.”

Dan volg die woorde van ons teksvers (vers 26): “Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom”.

Mag jy deel hê aan die nagmaal deur vas te hou aan sy belofte dat Hy weer kom. Mag jy vashou aan sy belofte dat Hy weer kom. Mag jy hierdie nagmaal en elke dag vertroos word en uitsien na Jesus Christus se wederkoms.

Laai af

Die leëraanvoerder van die Here!

Skriflesing: Jos 5:1-6:7
Teksvers: Jos 5:13-15

Dikwels is ons so besig met die kerk van die Here, dat ons vergeet wat kerk eintlik oor gaan. Alles gaan oor die eer van God. Waar God is betree ons “heilige grond”. Ons kan so besig wees om korrek kerkordelik op te tree, maar intussen vergeet ons Wie eintlik in beheer is. God se genade oor sy kerk is ongelooflik groot en volmaak. So het ons reeds die oorwinning behaal, maar ons moet nie ons verantwoordelikheid vergeet nie. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Josua lei die Israeliete oor die Jordaan. Jos 3:1ev
  • Josua lei die Israeliete tot Besnydenis en Paasfees. Jos 5:2-12
  • Die leëraanvoerder v/d Here lei self die Israeliete. Jos 5:13-15

Laai af

Kerkraadsvergadering en sy werking

Donderdagaand het die Kerkraad saam met die diakens vergader, volgens artikel 4 en 5 van die Kerkorde om te besin en te besluit oor ‘n tweetal predikante, vir beroeping na die gemeente. Enige ampsdraer wat verkies word is ‘n baie belangrike saak in die koninkryk, soveel te meer ‘n predikant wat die gemeente moet voorgaan in Skrifverklaring en leiding. Daar was oor die sestig kerkraadslede en diakens teenwoordig en almal het baie ernstig voor God gebuig na gebede en bespreking.

Op die kerkraadsvergaderings is daar baie sake wat bespreek word. Die hele gemeentelike bedrywighede word behandel en bespreek en verslag van gedoen. Drie baie belangrike kommissies is die wat spesifiek handel oor die Woordbediening. Daar is die bedieningskommissie wat handel oor alle sake rondom die bediening van die Woord. Daaronder word die prediking bespreek en al die werk van die predikante en die ouderlinge aangaande die Woordbediening. Die volgende kommissie is die katkisasiekommissie wat handel oor die katkisasie, die kinders se bywoning, die katkisasieonderwysers se voorbereiding, lesmateriaal en alle sake rondom die katkisasie. Die evangelisasiekommissie handel oor alle evangelisasiewerk. Die gemeente het ‘n beleid om veral betrokke te wees by die opleiding van predikante en daarom is ons baie betrokke by “Mukhanyo Theological School” waar ds. Maarten ook ondervoorsitter is van hulle raad. Ons is betrokke by Covenant College in Zambië, in ‘n minder mate nou by Hefsiba in Mosambiek. Ons is baie betrokke by Geref. Kerk Tembisa. Die evangelisasiekommissie se werksaamhede word opgedeel in drie dele, Binnelandse evangelisasie, Buitelandse evangelisasie, dan ‘n paar enkelpersone wat ons ondersteun. Bybelverspreiding word ook by die kommissie gereël. Dan is daar ook nog verskeie ander kommissies wat rapporteer onder andere die Jeug-, Finansies-, Instandhouding-, Diakonie en ook ad hoc (tydelike kommissies met spesifieke opdragte). Dit is elke keer ‘n baie lywige vergadering en alles gaan om die Eer van God en die uitbreiding van die koninkryk.

Dit is met groot dankbaarheid dat die Gereformeerde kerk Centurion, baie gawes (lidmate) het met verskeie talente wat in die Koninkryk gebruik word. Maar elke lidmaat is deel van die liggaam van Christus en saam dien ons God (1 Kor 12:12-31). Elke lidmaat van die jongste tot die oudste is belangrik in die kerk vir God. Ons leef vanuit ‘n diepe afhanklikheid van God (Mat 5:3) en Jesus Christus is die Hoof van die gemeente (Ef 1:22,23) en ons is sy liggaam.

Ef 1:22,23 “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk. 23) Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal ver- vul.”

Ds Gerrit

« Older posts Newer posts »