Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 267 of 328)

Verhoudings in jou lewe

Elke mens staan in ‘n klomp verhoudings in sy lewe. Dit begin met huweliksverhoudings, gesinsverhoudings, werksverhoudings, vriendskapsverhoudings en nog baie meer. Maar die belangrikste verhouding is sekerlik die verhouding met God.

Gesonde verhoudings is een van die belangrikste bepalers van lewensgeluk. Daarom is dit so belangrik om altyd aan jou verhoudings te werk, of jy ‘n groepsmens is of nie. Eerstens gaan dit oor jou verhouding met God. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en verstand.(Mat 22:34-40) Dit is die grond van jou gesindheid in verhoudinge. As jy respek en eerbied en ontsag vir God het, sal jy ook respek en eerbied vir jou naaste hê wat die tweede gebod in is.

Die res van die verhoudings waarin jy op aarde verkeer, hetsy huweliksverhouding, gesinsverhouding, werksverhouding, vriendskapsverhoudings moet jy nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. (Ef 6:1-9) Elke verhouding waarin jy staan moet jy koester en aan werk.

In enige verhouding waarin jy staan, moet jy altyd respek en eerbied vir mekaar hê. Moet ook nie eerbied en respek verwag as jy dit nie gee nie. As jy nie ‘n vriend respekteer en uit jou pad gaan om liefde te bewys nie, moet jy ook nie respek en liefde terugverwag nie. Koester jou vriendskappe en dra mekaar op die hande. Wees goed vir mekaar. Laat die vrug van die Gees ook in jou verhoudinge tot uiting kom.

Gal. 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Wat ‘n voorreg is dit om vriende te hê by wie jy veilig voel en is. Vriende met wie jy lief en leed kan deel. Vriende wat vir mekaar omgee as dit goed gaan en as dit sleg gaan. Vriende wat mekaar in die liefde van God op die hande dra. Veral vriende met wie jy jou geloof kan deel. Waardeer opnuut die vriendskappe wat jy het, koester dit, en wees goed vir mekaar. Moet nie net van ’n vriendskap voordele verwag nie, maar gee ook aan ander en vorm mekaar tot eer van God.

Spr. 27:17 Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”

Ds Gerrit

‘n Gruwelike ontvoering!

Skriflesing: Rigters 21 (Geheel Rigters 19-21)
Teksvers: Rigters 21:21

Vir seker is hierdie drie hoofstukke (19-21) die aakligste deel van die verhale van die hele Skrif. Dit lees nie lekker. Dit het geen les om te leer nie. Daar is geen korrektief nie. Net ’n aaklige verhaal van misbruik en ongehoorsaamheid en moord en roof. Mense-roof nogal!

In aansluiting met die praatjie van Fiona Botha vanaand oor mensehandel en -roof (Human Trafficking) gaan ons kyk na die mense-roof om die arme Benjaminiete van ondergang te red. Hulle verweer is seker maar: die doel heilig die middele.

Ongelukkig gaan jy daarmee nie voor die heilige God en hemelse Koning wegkom nie. (Kyk ook Amos 1:6,7 vgl met 2 Kron 28:18)

Laai af

Wysheid van God teenoor die dwaasheid van die mens ‘n Wyse vrou en ‘n dwase man

Skriflesing: 1 Sam 25:1-22
Teksvers: 1 Sam 25:3, 26, 32, 33, 39

Wanneer ons dikwels dom en dwaas optree, en wanneer ons nie God se wil in ons lewens laat seëvier nie, dan tree God soms op ‘n drastiese manier in om ons wil te verander. God het gesien dat Dawid dwaas wou optree om reg in eie hande te neem en te vergeld omdat hy as Dawid veronreg gevoel het. “…My kom die wraak toe, Ek sal vergelde, spreek die Here;…” Heb 10:30. God het daarom ‘n wyse en dapper vrou wat reg en geregtigheid geken het maar ook die dwaasheid geken het, gestuur om Dawid te stop. God het ‘n vrou in sy wysheid gebruik om die dwaasheid van ‘n man te verander. Ons gaan na drie sake kyk:

  • God gee wysheid aan Abigail.
  • God gee nederigheid aan Abigail.
  • God gee uitkoms aan Abigail.

Laai af

“Julle is my vriende!”

Skriflesing: Joh 15:1-17
Teksvers: Joh 15:14-16 (v14)

Jesus Christus is die Hoof van die Kerk. Jesus word geopenbaar as ons Verlosser, Saligmaker, Hoogste Profeet, Koning, Herder. Maar nou noem Hy ons sy vriende. Wat ’n ontsaglike voorreg en genade dat Hy ons sy vriende noem. Daar ontstaan sekerlik baie vrae: Wat bedoel Jesus met ons as sy vriende? Is Hy ook ons Vriend? Hoe hanteer jy ’n vriend en wanneer is iemand jou vriend? Ons gaan na drie sake kyk:

  • Jesus noem ons vriende!
  • Jesus het ons uitgekies!
  • Jesus verwag dat ons vrugte sal dra!

Laai af

« Older posts Newer posts »