Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 268 of 328)

Die waarheid en niks minder as die waarheid

Skriflesing: 2 Samuel 18
Teksvers: 2 Samuel 18:19-33

Die verhaal van Agimaäs en die Ethiopiër (Kusiet) is ‘n nogal ietwat moeilike verhaal om vas te vang en te verstaan. Miskien moet ons meer konsentreer op die ander figuur in hierdie verhaal om daaruit te leer wat God vir ons wil sê. Of… dalk het beide Agimaäs en Dawid presies dieselfde tipe probleem en dan word dit dalk makliker om die waarheid van hierdie deel van die Bybel te verstaan. Immers, gaan die Bybel heel eerste oor dit wat ons van God kan leer ken en bely! Lees dus gerus die gedeelte behoorlik deur en probeer bepaal wat die werklike verskil was tussen die twee boodskappers. En as ons dit kan begryp kan ons dit ook gemaklik toepas op die prediking tydens die doop en opvoeding van die kinders in ons gemeente. Dit lyk tog wel of Dawid juis daarin (sy opvoedingstaak) so ietwat ernstig gegly het.

Laai af

My grootste skat is Jesus Christus

Skriflesing: 1 Timotues 6
Teksvers: 1 Tim 6:17-19

Wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe? Daar is soveel dinge wat ‘n mens van sy fokus op Jesus Christus kan aftrek. Een van die dinge is materialisme. Ons fokus en verknogtheid op besittings, kan maklik ‘n struikeling word tussen ons en die Here.
Ongelukkig kan dit gebeur dat ons by die gebrek aan dit wat ons dink ons behoort te hê, ook skeiding tussen ons en die Here kan meebring. Daarom kom Paulus onder leiding van die Heilige Gees om mense met ‘n fokus op aardse goedere al dan nie (dit sluit baie van ons in) te ver-maan om hulle skat in die Here te soek en te vind.
Kom laat ons nie ons hoop op die onsekerheid van aardse besittings vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Die Here is die gewer van alles wat ek is en het.
Ons fokus as gelowiges is om met die aardse middele wat die Here vir ons gee, goed te doen aan ander en om ryk te wees in goeie dade, vrygewigheid en mededeelsaamheid.
Gelowiges met ‘n ingesteldheid op die Here, vergader so vir hulle ’n ewige skat as ’n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

Laai af

Genade triomfeer oor goddeloosheid

Skriflesing: Maleagi 3
Teksvers: Maleagi 3:16

Die Here wat ons harte ken, weet wanneer die gelowiges, wat groot eerbied en ontsag vir die Hom het, mekaar bemoedig om aan die Here gehoorsaam te bly. Die Here hoor ons soeke na Hom en gee daarop ag.

Volgens Maleagi 3:16 het die Here ’n gedenkboek opgestel waarop die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam aangeteken is. Elkeen wat selfverloënend op die Here gefokus bly, sal vir Hom ’n kosbare besitting wees.

Vir hulle wat deur die Heilige Gees gehoorsaam aan die Here vasgehou het, sal Hy goed wees, net soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk. Hier op aarde kom mense weg met baie dinge, maar met die wederkoms van die Here, sal elkeen die verskil sien tussen wie goed gedoen het en wie goddeloos was, tussen wie die Here gedien het en wie die Here nie gedien het nie.

Laai af

God is lig, in Hom is daar geen duisternis nie

Skriflesing: 1 Johannes 1
Teksvers: 1 Johannes 1:5

Die blye boodskap van Jesus Christus is dat God deur Jesus Christus vir ons die ware Lig geword het. Hy is die Lig wat lewe vir ons gebring het. In Hom is daar daarom geen duisternis nie. Daarteenoor kom die Here om deur die Heilige Gees vir elkeen te waarsku dat die wat aan Hom deel het, nie in die duisternis van die sonde kan of wil bly lewe nie. Die wat steeds volhardend in die donkerte van die sonde wil lewe, praat daarom nie die waarheid nie. Jy word opgeroep en in staat gestel om in die lig van Jesus Christus te lewe. Hy is die Lig en Hy self leef in die lig. Elkeen wat in en deur die Ware Lig lewe, het die sekerheid dat die bloed van Jesus hom/haar reinig van elke sonde. Ons kan daarom nooit beweer dat ons nie sonde het nie. Dan jok ons vir onsself en dan is die waarheid van Jesus Christus nie in ons nie. Die Heilige Gees dring ons om ons sondes te bely. Jesus Christus is getrou en regverdig en daarom vergewe Hy ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Ons wat in die lig van Jesus Christus lewe, kan nie beweer dat ons nie gesondig het nie. Mag Hy wat die Ware Lig is, vir ons uit die donkerte van ons sondige aard lig.

Laai af

Die gelowige se roeping in’n bose wêreld

Skriflesing: 1 Pet 2:11-17
Teksvers: 1 Pet 3:8-12

  1. Die wêreld waarin ons geroep is. Die apostel Petrus skryf vir “vreemdelinge en bywoners” wat ter wille van hulle geloof ly. Die mens wat in Christus verlos is, gaan ʼn vreemdeling wees in die wêreld en ter wille van Hom gespot word. Die wêreld se stryd teen die kerk duur al vanaf die sondeval voort tot vandag toe.
  2. Die inhoud van ons roeping. Petrus sê egter ons is geroep om in hierdie bose wêreld in liefde te lewe. Dit geld in die eerste plek vir medegelowiges onder mekaar in die kerk, maar dit sprei ook uit na buite om selfs die mense wat jou kwaad aandoen, te seën.
  3. Die seën op ons roeping. Hierdie roeping behoort die gelowige vol te staan sodat ons die seën van God kan erf (v. 9). Hierdie erfdeel is in die eerste plek die ewige lewe wat ons deur genade alleen van God af ontvang, maar gedeeltelik word die seën in hierdie wêreld reeds sigbaar in God se teenwoordigheid ten midde van ons swaarkry.

Laai af

Genade op genade

Johannes maak hierdie besondere proklamasie in sy proloog in die Evangelie oor die koms van die Messias.

En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade“. (Joh 1:16)

In die Engelse weergawe staan iets soos ‘genade bo en behalwe die genade wat reeds gegee is‘. Met reg kan dit vergelyk word met die golwe van die see wat kom en weer kom… en weer kom.

Eerstens verwys dit na die genade wat in die tyd van Ou Testament, dws vóór Christus aan Israel bewys is, en wat nou opgevolg word deur die genade wat uit die koms van Christus na Israel en alle mense toe kom. God was geduldig oor die mense van die outyd. Nou kom Christus en God gee nog meer genade. Golf na golf.

So gee die Here nou nog ‘genade op genade…’

Elke dag weer genade. Elke sonde word keer op keer vergewe. Elke môre is sy genade nuut (Kl 3:23). Elke dag ‘n nuwe skoon blaadjie.

Elke keer as daar weer nuwe mense tot bekering kom. Elke nuwe sondaar wat by die reeds begenadigde gemeente toegevoeg word. Elke keer sing die engele oor een sondaar wat hom bekeer.

Elke dag wat ons opnuut weer onder sy voorsiening mag lewe en sy genadige versorging mag ontvang in middele en gesondheid en in geleenthede.

Ja, selfs in die uitdagings van beproewings is sy genade telkens weer daar om ons staande te hou.

Voorwaar kan ons bely dat ons van die begin af deel was van die belofte van die Messias wat die slang se kop sal vermorsel (Gen 3:15). Maar bo en behalwe die beloftes, is ons nou deel van nog meer genade omdat God sy woord gehou en sy Seun gegee het as versoening vir al ons sondes vir ewig en altyd!!

Waarlik genade op genade op genade!

Ds Maarten

 

« Older posts Newer posts »