Skrywer: admin (Page 266 of 328)
Mens hoor hierdie woorde gedurig as ons geloof in die gedrang is. Dan word daar vertel hoedat ander gelowe in opstand sal kom indien daar so met hulle godsdiens gespot word. Ek onthou juis hoe iemand, wat op die punt was om een of ander militante aksie in die naam van Jesus van stapel te stuur, dit ’n paar jaar gelede nogmaals vir my gesê het. Toe sê ek vir hom hulle tree niks anders as daardie einste godsdienstiges op nie.
“Maar ons moet opstaan vir die Here,” sê hy driftig.
“Inderdaad, maar dan soos wat die Nuwe Testament ons leer,” antwoord ek. Toe herinner ek hom aan 1 Petrus 2:15: “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen ’n einde sal maak aan al die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Toe voeg ek by dat Petrus ons boonop in vers 18-21 oproep om in moeilike omstandighede lyding te verduur vir Christus. Met name skryf hy in vers 20: “Om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het sodat julle in sy voetspore kan volg.”
“Beteken dit ons mag niks doen nie?” vra die persoon.
“Nee, dit beteken ons handel altyd in liefde, ook as ons protesteer. Ons voorbeeld is Jesus, nie ander godsdienste nie. Ons doen wat 1 Petrus 2:23 sê: “Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.””
Ons moet weet ons geloof gee soms aanstoot. Die Nuwe Testament waarsku ons oor en oor dat dit sal gebeur. Die vraag is egter hoe ons hierop reageer. En dit is juis hier waar ons 1 Petrus 2:21 en 23 getrou moet navolg. Jesus self wys vir ons hoe ons moet optree in sulke tye. Ons beledig nie terug nie. Ons raak nie aggressief nie. Ons veg nie. Ons baklei nie. Ons pak ons aanvalswapens weg. Vroeër moes Petrus self dit ook leer toe Jesus gearresteer is in die Tuin van Getsémané. Ons lees in Johannes 18 hoe hy sy swaard uitgeruk het en begin baklei het. Toe het Jesus hom gestop, want Sy ryk kom nie deur mag en geweld nie.
Ons mag protesteer as ons Heer se mooi Naam in die gedrang is. Maar ons kry eers al die feite voordat ons blindelings instorm. Ook herinner ons onsself aan Jesus se voorbeeld in 1 Petrus 2 oor hoe ons moet optree. Slegs deur ons eie voorbeeldige optrede in sulke tye sal ons ’n getuienis, hê. Wanneer ons nie kwaad met kwaad vergeld, of belediging met belediging nie (1 Petrus 3:9), sal ons met integriteit en beskeidenheid oor ons geloof kan praat (1 Petrus 3:15-16). Ons as navolgers van Christus is nie militant of triomfantalisties nie. Ons is knegte van ons Here. En ons leef ook so.
Stephan Joubert
Skriflesing: Rom 1:1-17
Teksvers: Rom 1:16-17
SOLA SCRIPTURA – Die Woord alleen
SOLA GRATIA – Slegs uit genade
SOLA FIDE – Deur die geloof alleen
SOLUS CHRISTUS – Deur Christus alleen
SOLI DEO GLORIA – Aan God alleen al die eer
Skriflesing: Filippense 3
Teksvers: Filippense 3:17-21
Die Here waarsku die gelowiges in Filippi om op te pas vir die honde, die slegte werkers en die vals besnyding. Dit is die dwase mense en die dwaalleraars wat mense so maklik op sleeptou kan neem om die sondige en die verkeerde sommer te glo. Dit is mense wat op uiterlike dinge vertrou en nie op die Here se genade in Christus Jesus nie. Dit is mense wat vyande van die kruis van Christus is. Dit is aardse mense wat die verderf tegemoet gaan, wie se maag hulle god is en wat hulle eer in hulle skande vind.
Daarteenoor het die Heilige Gees vir Paulus geleer om die Here sy alles te maak. Dit wat eers ‘n bate was, beskou hy as verlies ter wille van Christus. Daarom span hy hom in om die ewige burgerskap deur Jesus Christus in die hemel te kan binnegaan.
Waarna luister jy, wat en wie glo jy as daar omstrede sake in die geloofswêreld ter sprake kom? Is Christus my alles of is die skande en sonde van die wêreld besig om vir my sin te maak?
Luther, Calvyn, Zwingli en Knox was as mans baie bekend tydens die Reformasie. Daar was egter ook vroue wat destyds op verskillende plekke en maniere in Europa meegewerk het om die Reformasie te bevorder. Dit was veral besonders omdat hulle opgetree het in ‘n tyd waar die vrou in die Rooms-Katolieke Kerk nie gereken was nie. Daar was twee tipes vroue wat tydens die Reformasie op verskillende maniere die reformasie ondersteun en bevorder het. Eerstens was dit vroue wie se mans as hervormers opgetree het. Tweedens was daar die adellike vroue wat ‘n groot liefde en ywer aan die dag gelê het vir die Reformatoriese waarhede. Hier volg inligting oor van hierdie Reformatoriese vroue wat die nuwe verstaan van die Christelike geloof, soos deur Luther en Calvyn beskryf is, hulle eie gemaak en positief ondersteun het:
KATHARINA VON BORA (1499-1550)
Katharina von Bora was Martin Luther se vrou. Sy het vanaf vyfjarige ouderdom as ‘n non in ’n klooster grootgeword. Sy het van Luther se beswaar teen die Roomse Kerk gehoor en haar daarmee vereenselwig. Sy en elf ander nonne het toe een aand in 1523 uit die klooster ontsnap en in Wittenberg aangekom. ‘n Paar jaar later is sy daar met Luther getroud. Sy het ‘n geweldige groot rol in Luther se lewe gespeel. Haar lewe laat ‘n mens onwillekeurig dink aan die vrou van Spreuke 31:10-31. Sy het byvoorbeeld geboer, ’n gastehuis en konferensiesentrum bedryf en handel gedryf. Baie van Luther se besoekers het in haar gastehuis tuisgegaan. Katharina het ook studente-akkomodasie gereël, sy het toegesien dat bier gebrou word en na die tuin en vee omgesien en ook die huishouding se finansies in orde gehou. Sy was, met Luther se dood, die eerste vroulike erfgenaam. Alhoewel sy later deur die staat onterf is. Luther het sy vrou bewonder vir haar skerp intellek en ook haar praktiese ingesteldheid.
ARGULA VON GRUMBACH (1492–1568)
Argula von Grumbach was ‘n vrou uit die adelstand in Beiere. Sy was van kleins af ‘n ywerige leser en het ook die Bybel bestudeer. Sy moes dit tuis doen, want formele opvoeding buite ’n klooster was nie vir jong meisies toelaatbaar nie. Sy het saam met haar man, Friedrich von Grumbach, naby Ingolstadt gewoon. Sy het eendag gehoor van ’n jong student, Arsacius Seehofer, wat by die teologiese fakulteit in Ingolstadt die standpunte van Luther ondersteun en versprei het. Die rektor en die universiteitsraad het vir Seehofer in hegtenis laat neem en hom gedwing om sy steun vir Luther terug te trek. Argula het ’n brief in Duits aan die universiteitsowerhede geskryf waarin sy hulle uitgedaag het om oor teologiese kwessies en spesi-fiek die student se saak met haar te debatteer. Hulle het egter geweier. Haar brief het egter ’n kitstreffer geword en was een van die mees gedrukte geskrifte van daardie tyd. Baie van haar geskrifte daarna het die boodskap van die Reformasie in Duitsland en na ander lande bevorder.
JEANNE D’ALBRET (1528-1572)
Jeanne d’Albret was ‘n Franse adelike. Sy was van jongs af uitgesproke en nie bang om op te staan teen onreg nie. Sy skryf op 12-jarige ouderdom ’n sterk bewoorde beswaarskrif teen haar gedwonge huwelik. Nadat haar huwelik nietig verklaar is, het sy met haar geliefde getrou. Haar seun, was koning Hendrik IV van Frankryk. Op Kersdag 1560 was sy een van die eerste adellikes wat openlik hulle protestantse geloof bely het. As heerser oor die ryk van Navarre het sy die vlugtelinge in Genève finansieel ondersteun. Sy het ook op skrif die protestantse geloof verdedig. Sy het die Bybel in Frans laat vertaal sodat enige gelowige die Bybel self kon lees. Sy het haar ryk se ekonomiese en juridiese sisteme hervorm. Dit alles ten spyte van al die oorloë waarby sy as heerser van haar land betrokke was.
KATHARINA SCHÜTZ ZELL (1497/8-1562)
Sy was een van die mees uitgesproke vroue, ‘n ware vuurvreter, wat by die hervorming betrokke was. Sy was ’n geleerde vrou, getroud met haar mede-hervormer, Matteus Zell. Sy was bekend vir haar barmhartigheid en omgee vir mense. Sy het byvoorbeeld haar ontferm oor die voortvlugtende hervormermans se vroue. Tydens ’n vlugtelingkrisis in haar tuisdorp, het sy die behoeftiges versorg. Sy en haar man was van die mees verdraagsame ondersteu-ners van die Reformasie. Sy het byvoorbeeld by Luther gepleit om liefdevol teenoor Zwingli op te tree oor hulle verskille met mekaar.
Die Here het bogenoemde vroue saam met ander mans en vroue instrumenteel gebruik om die groei en vestiging van die Reformasie daar te stel. Soli Deo Gloria!!!
Ds Paul