Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 265 of 328)

Die grootste in die Koninkryk

Skriflesing: Mat 18:1-14; Mark 9:33-37; Luk 9:46-48

Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel? Hierdie is ’n vraag waaroor selfs die dissipels gestruikel het. Wie van hulle was die belangrikste? Daarom gaan hulle na Jesus toe met hierdie vraag. Jesus antwoord hulle, maar met ’n totaal ander antwoord as die wat hulle verwag het. Jesus openbaar wie die belangrikste is in die koninkryk van God.

Ons gaan na drie sake kyk…

  • Wie mense dink is die belangrikste!
  • Wie Jesus sê is die belangrikste!
  • Wat ons moet doen om die belangrikste te wees!

Laai af

Ware geloof kom tot uiting in jou dankbaarheid teenoor God. Nood, Uitkoms, Dankbaarheid

Skriflesing: Luk 17:11-19
Teksvers: Luk 17:11-19

In die Winter kla ons dit is te koud en in Somer kla ons dit is te warm. Of dit is te droog of te nat – daar is altyd fout. Ons dankbaarheid teenoor God is dikwels relatief. As dit goed gaan vergeet ons so maklik die Here, maar as dit sleg of swaar gaan hardloop ons gou na die Here toe. Ons is gou om te bid en te vra, maar ook stadig om dankie te sê en te prys.

  • Die nood van tien melaatses.
  • Die uitkoms van tien melaatses.
  • Die dankbaarheid van Een melaatse.

Laai af

Jou lewe as brandoffer, ‘n lieflike geur vir die Here!

(Last updated on Desember 8th, 2019)

Skriflesing: Levitikus 1; Matt 22:36,37; Efes 5:1,2 (OAV)
Teksvers: Levitikus 1:9b

Op hierdie dag waar ons die Here ernstig sal bid vir reën in ons land, is dit weer uiters nodig dat ons ons opnuut sal toewy aan die grote God en Here van ons verlossing.

Nadat God sy volk wonderbaarlik uit die slawerny van Egipte verlos het, roep Hy hulle op tot toegewyde godsdiens. Hy roep eerste (Lev 1:1). Hy is nie soos die heidense afgode wat wag om te kyk of sy onderdane Hom aanbid om so die ‘gode’ se guns te wen nie. Hulle is sy gunsgenote! Hy leer hulle selfs hoe die offers lyk waarvan Hy hou en wat vir Hom aanneemlik is.

So roep ook die apostel Paulus in Rom 12:1 –

“Gee julleself (lett: julle liggame) aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”. (Vgl ook Ef 5:1,2)

Laai af

‘N NUWE BEGIN

Het jy al in jou lewe gewens dat jy weer nuut, ja weer oor kan begin? ‘n Nuwe begin is ‘n nuwe geleentheid vol vreugde en uitdagings. In Klaagliedere 3:18-23 verwoord die skrywer die wonder om nuut te begin na ‘n tyd van beproewings en swaar kry. Danksy die HERE, sê die skrywer, het hy nie omgekom nie, want daar is geen einde aan die Here se barmhartighede nie. In sy lewe jubel hy dat God se barmhartighede elke môre nuut begin.

Vir elkeen wat in Jesus Christus glo, word elke dag ‘n nuwe begin en ‘n nuwe geleentheid om oor bly te wees. Ons daaglikse bekering in Christus, verseker ons dat God daagliks, ja van oomblik tot oomblik nuut met ons begin. Sy genade is elke oggend van ons lewens opnuut vir ons beskikbaar en elke dag is sy getrouheid binne ons bereik. Dink net daaraan dat die Here se liefde en barmhartighede nooit deur ons uitput kan word nie.

So begin elkeen van die 21 jong belydende lidmate vandag met ‘n nuwe fase in hulle geloofslewe. ‘n Nuwe begin waarin elkeen sy of haar geloofsverantwoordlikheid oorneem by hulle ouers. Hierdie nuwe geloofsfase hou in dat elkeen met groot dankbaarheid teenoor hulle ouers en ander geloofsvormers nou self deur die werk van die Heilige Gees kan en wil bely dat Jesus Christus elke dag vir hulle die weg en die waarheid en die lewe is.

Ons het almal een of ander tyd in besonder ‘n nuwe begin nodig. Na ‘n tyd van terugslae en hartseer, verlang ons na ‘n nuwe begin waarin ons weer sal kan begin bou aan die positiewe in ons lewe. Soms verval ons in ‘n groef van sonde, perspektiefloosheid en vrese. Dan kom die Here en lei ons deur sy Woord en die Heilige Gees om op te staan en weer na die Here toe te gaan om so in die Naam van Jesus Christus weer nuut te begin. Ja ook vir jou is daar ‘n nuwe begin waar jy dalk in sorge en sonde oud en vaal geword het. Die wat in Jesus Christus glo, ontvang weer die sekerheid dat Jesus alles nuut maak en weer en weer nuut sal maak tot met sy wederkoms waar ons altyd in die vernuwende krag en genade van Jesus Christus sal kan lewe.

‘n Nuwe begin hou ook in dat jy net meer en meer van die Here se goeie guns en genade sal ontvang. Ja elke nuwe dag en elke nuwe begin in en deur Jesus Christus bring ons ook by hernuwing tot die besef van sy oorvloedige liefde en barmhartigheid. ‘n Nuwe begin in en deur Jesus Christus hou egter in dat ons sal bid om die vrylating van al die ou bagasie en die donkerte. Dit is die aantreklike van Jesus Christus se uitnodiging vir almal wat vermoeid en belas is. Neem sy juk op julle. Sy juk is sag en sy las is lig. In 2 Korinthiërs 5:17 staan daar dat iemand wat in Christus is, ‘n nuwe skepsel is; die ou dinge het verby gegaan, kyk, deur die Here het alles nuut geword.

Ds Paul

DROOGTEHULP IN DIE NOORD-KAAP

Soos u bewus is heers daar ʼn erge droogte in groot dele van die Noord-Kaap. ʼn Afvaardiging van SDDS het groot dele in die Noord-Kaap gaan besoek om met gemeentes en boere in daardie gebiede kontak te maak, ten einde vas te stel op welke wyse die kerke kan help. Hulp is dringend nodig vir water, voer, brandstof, arbeiders, kos, klere, skoolgelde, brandstof, krag ens.

Die impak van die droogte is so geweldig dat boere gedwing was om die meeste van hulle vee teen baie lae pryse te verkoop. Die bietjie vee wat oor is word tans byna voluit gevoer om hulle aan die lewe te hou.

Die dringender nood lê egter by die huis. As gevolg van die langdurige droogte is baie van die boere se kontantvloei totaal uitgeput. Dit raak ʼn stryd om kinders op skool en in die koshuis te hou. Die afstande wat baie van hierdie boere moet aflê om hulle kinders by goeie skole te kry raak ook te groot en baie moes noodgedwonge hulle kinders uit dié skole haal, omdat die uitgawes aan vervoer en losies nie meer bygebring kan word nie.

Graag deel ons ook die vreugdes met u. Ondanks die omstandighede heers daar ʼn moedigheid en kameraadskap. Dit het ons nederig gemaak om te sien hoe dankbaar hierdie boere in die Here is. Ons vra ook voortdurende voorbidding!

Dit is vir ons verblydend om te kon opmerk dat die fondse wat ons reeds beskikbaar gestel het met groot sorgvuldigheid beheer en met wysheid bestee word. Die nood is werklik groot en dringend. Wees verseker dat elke bietjie hulp, hoe gering dit ookal mag wees, werklik ʼn impak het.

U word vriendelik versoek om die nood in u gemeente bekend te maak. Waar lidmate dit in hulle harte vind om ook ‘n bydrae te maak om die nood te verlig, versoek ons vriendelik dat diakonieë enige bydraes na die volgende rekening sal oorplaas:

Rekeningnaam: SDDS

Rekeningnommer: 3330141750;

Takkode: 632005;

Verwysing: Droogtehulp

U broeder in Christus

Ds Fritz Potgieter (Geref. Kerk Bloem.Suid)

Voorsitter: SDDS (Brief verkort. 31 Okt 2019)

« Older posts Newer posts »