Skrywer: admin (Page 264 of 328)
Skriflesing: Luk 2:1-20
Teksvers: Luk 2:9-14
Die eerste direkte aankondiging van Jesus Christus se geboorte word deur ’n engel gebring. Die engel bring dit aan anonieme skaapwagters. Verwonderd en met ’n heilige vrees luister die skaapwagters na hierdie boodskap. Die engel troos hulle om nie bang te wees nie. Om dit verder te beklemtoon verskyn daar ’n menigte van engele wat ’n loflied sing, ’n hemelse koor van volmaakte sang. God se heerlikheid word openbaar in sy Seun. Die eenvoudige krip word ‘n heilige plek, want ons Here Jesus Christus lê daarin as die Seun van God en die Seun van die mens.
Ons gaan na drie sake kyk vanaand:
- ’n Engel bring die goeie tyding.
- Engele juig oor die goeie tyding.
- Die goeie tyding is ware vrede.
Skriflesing: Fil 1
Teksvers: Fil 1:6 -11
Vanoggend, soos elke Sondag, herdenk ons die opstanding van Jesus Christus. Vanoggend is daar ook 21 jong gelowiges wat met blink oë en met vaste oortuiging hulle geloof in die Drie-Enige God openlik voor die Here en voor die gemeente kom bely. Verder is vandag ook ‘n voorbereidingsdiens met die oog op volgende Sondag se nagmaal. Wat ‘n wonderlike dag vol geleenthede en uitdagings!
In 1 Timoteus 1:6-11 kom Paulus om onder leiding van die Heilige Gees die positiewe gedagte en oortuiging te verwoord dat God, wat die goeie werk in die gelowiges se hart en lewe begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.
Mag elkeen van ons wat deel het aan die verlossende liefde en genade van Jesus Christus toeneem in begrip, fyn aanvoeling en onderskeiding in die werklik saakmakende dinge in die lewe. Met die wederkoms van Jesus Christus sal ons dan onberispelik en sonder blaam vir altyd in die regte verhouding voor God kan staan om Hom ewig te loof en te eer.
Vandag is daar baie keer en op vele terreine groot druk op mense. Dit kan gebeur dat jy by die werk geweeg word en te lig bevind word. Jou werkstempo en -standaard kan byvoorbeeld nie voldoende wees na die mening van jou hoofde nie. Wanneer dit by bevordering kom, word jy weer geweeg en te lig bevind, want jy is dan weer dalk te onervare of oorgekwalifiseerd. In jou verhouding met ander mense, jou familie, gesin, huwelik en vriende kan dit ook gebeur dat jy geweeg word en te lig bevind word. By die skool is jy dalk nie “cool” genoeg om deel te wees van die “cool” groepie nie. Orals is daar “afknouers” wat jou laat voel dat jy net nie goed genoeg is nie.
Tragies genoeg kan jy soms eensaam en uitgestoot voel tussen gelowiges. Jy kan openlik en soms subtiel uitgestoot voel binne ‘n geloofsgemeenskap. Dan kom die onrus en soeke na die “geestelike rus wat elders” dalk op jou wag. Dalk ‘n ander gemeente, dalk ‘n ander kerkverband? Want die smagting om “gehê te wil wees” kan soms oorweldigend wees.
Dit is dan wat die woorde van Galasiërs 1:10 waarde kry. Paulus sê dat hy nie die guns van mense gesoek het nie, maar dat hy hom daarop toegelê het om die guns van God in sy lewe te vind. In die verkondiging van die boodskap van Jesus Christus het Paulus nie altyd die guns en goedkeuring van mense weggedra nie. Vir hom het dit om God gegaan. In alles wat hy gedink en gedoen het, het hy die Here voorop gestel. Daar het hy sy rus en vrede en aanvaarding gevind (Psalm 23). In die woorde van Daniël 5:25 word die Aramese woord “tekél” gebruik. Die woord bestaan eintlik uit twee begrippe: “op die weegskaal geweeg” en “te lig bevind” of “te kort geskiet”.
Wat sê ander mense van jou? Wat dink hulle van jou? Wat glo jy oor jouself? Dit maak egter voor die Here nie saak wat die duiwel, mense, die wêreld of jyself van jou dink en glo nie. In Sefanja 3:17 staan daar: Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.
Met die lyde en sterwe van Jesus Christus aan die kruis het Jesus voor sy sterwe gesê: “tetelestaai” – dit beteken: dit is volbring, dit is genoegsaam. Jesus Christus het gekom om jou weer in ‘n herstelde verhouding met die Vader te bring. Dit is die saakmakende saak. Nie wat ander mense, jou werk, die duiwel, jyself of die ongelowiges oor jou dink nie, maar wie ek in Jesus Christus voor die Vader is.
Mag jy in die vrede en vreugde leef dat God jou deur Jesus Christus geweeg het en reg bevind het. Mag dit wat die Here in sy Woord deur sy Gees vir jou sê genoeg-saam wees: God is stil tevrede in en deur Jesus Christus met jou.
Ds Paul
Skriflesing: Deut 13; Op 13
Teksvers: Deut 13:1-4; Op 13:8
In Deuteronomium 13 waarsku die Here teen mense wat beweer dat hulle sogenaamde profete is wat die wil van die Here kan openbaar en selfs drome kan uitlê. Hulle sal na die gelowiges toe kom en vir hulle vertel van tekens of wonders wat die Here vir hulle gegee het om te openbaar. Hierdie mense kan volgens Openbaring 13 selfs met mag en krag optree dat hulle werklik geloofwaardig ly. Van hulle voorspellings, tekens en wonders kan selfs werklik gebeur. Die toets of die mense wel van die Here is, sal wees in dit wat hulle vir jou vertel. Sodra so ‘n persoon vir jou egter sou sê: “Kom ons gaan dien ander gode al het jy hulle nie vroeër geken nie, al het ons hulle nie vroeër gedien nie, moet jy nie na hom luister nie.” Die Here jou God is dan besig om jou op die proef te stel om vas te stel of jy Hom werklik liefhet met jou hele hart en siel en met al jou krag. Die Heilige Gees sal elkeen wat in Jesus Christus glo (die uitverkorenes), lei om hierdie amper geloofwaardige dwalings in die Naam van die Here te kan teenstaan.
Mag jy net die Here alleen ken, dien en aanhang elke dag.
