Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 256 of 328)

Armageddon…!

Skriflesing: Op 16:1-21
Teksvers: Op 16:15 en 16

Har Meggidon, die berg Megiddo, dit is waarna die woord Armageddon verwys, dit is die plek waar die bose magte van die wêreld vir ‘n laaste aanslag en opstand bymekaar kom en finaal verslaan sal word.

Hierdie woord is baie bekend en ons gebruik dit baie maklik as die verwysing na die finale oordeel wat sal kom. Tog besef ons nie altyd die werklikheid van hierdie vreeslike gebeurtenis nie.

Ons staan vanoggend stil by die 3de saligspreking van die boek Openbaring: Armageddon!

Laai af

Christus openbaar Homself as Verlosser deur Sy Woord regverdig

Skriflesing: Hebreërs 1:1-2:4
Teksvers: Hebreërs 1:1
HK: Sondag 6

Is u van harte oortuig dat die Bybel die woord van God is? Is u seker dat dit wat in die Bybel staan die waarheid is? Want die wetenskap is so oortuig dat die Bybel eintlik maar ‘n boek vol feeverhale is! Dit is maar ‘n boek wat gaan oor menslike ervarings van ‘n bo-natuurlike krag wat hulle God noem! Dit is maar een boek soos baie ander, word beweer!

So geliefdes word die Woord van God vandag in twyfel getrek asof daar geen sekerheid kan wees dat hierdie woord werklik God se eie woord is nie. Want ons bely dat die Bybel nie maar net ‘n boek vol stories oor God is nie, maar God se eie Woord! En uit hierdie woord alleen kan ons die weg na Verlossing vind, Jesus Christus.

Laai af

Pandemie en geloof

Op 10 Maart 2020 het die WHO die Corona-epidemie tot pandemie verklaar. Mense word nou op verskeie maniere dramaties geïsoleer om die pandemie te probeer hokslaan. Vroeër jare het mense in tye van epidemies en rampe méér kerk toe gegaan. Meer gaan bid. Dalk selfs vir verkeerde of bygelowige redes, maar hulle het kerk toe gegaan in hoop op antwoorde en genesing. Nou praat ons selfs daarvan dat om kerk toe te gaan gevaarlik kan raak! Hoe kan die plek waar jy die God van lewe en dood gaan dien en verheerlik en loof en prys, nou vir ons vrees inhou? Skielik word mense en selfs gebiede en lande in isolasie (lockdown) geplaas uit vrees vir wat gebeur of wat aan die kom is. Selfs kerke fokus meer op voorkomingsmaatreëls en word hande nie meer geskud en ons deel nie meer die een beker nie.

Ons het verlede week uit die Skrif gehoor-gevra of ons dalk banger vir Covid-19 is as wat ons vir God is. Wie vrees ons werklik: Dit wat jou liggaam kan skaad of Hom wat jou siel kan verwerp in die ewige helse vuur!?

By ernstige siekte het Job op sy ashoop met sy God bly worstel. Hiskia in sy dodelike siekte draai na die muur en smeek sy God in sy nood. Paulus kom uiteindelik by sy doring in die vlees tot besef dat God se genade genoeg is. En Jakobus leer ons dat ons in siekte die ouderlinge moet inroep om vir die siekes te bid.

Isolasie van die virus is sekerlik een van die moontlike voorkomingsmaatreëls. Tog wonder ek so by myself wanneer laas het jy jouself so bietjie van die dinge om jou heen geïsoleer, sodat jy op God kon fokus? Veertien-dae afsondering of langer is dalk God se manier van om ons weer tot nadenke te dwing. ‘n Soort vastyd. ‘n Tyd waarin jy as op jou kop uitgooi en oor jou sondes nadink. ‘n Tyd vir doelbewuste heiliging (‘heilig’ beteken letterlik ‘afsonder’). Soos die getroue God en Vader altyd doen, gee hy die sondaarmens en sy wêreld genadetyd, bekeringstyd, want Hy wil dat almal hulle sal bekeer (2 Pt 3:9). Tyd waarin jy weer kan besef dat jy selfs die dood nie vrees nie want jou lewe is veilig geborge in God, vir ewig.

Vroeër het ons meer geestelike vrae gevra. Deesdae is alles gefokus op fiksheid, vitaliteit en viriliteit. God as hoogste goed en geestelike nadenke is minder relevant. Miskien is hierdie virale aanslag op ons vlees eintlik ‘n Goddelike genade handreiking na sy mens om geestelike tyd te maak en na te dink en terug te keer na dit wat ons werklik nodig het.

Ds Maarten

Versoekings van Satan vs beproewings van God!

Skriflesing: 2 Sam 24:1-25; 1 Kron 21:1-27; 1 Kor 10:13; Jak 1:12-18; Mat 4:1-3
Teksvers: 1 Sam 24:1,2,10,14

Satan het gedink dat hy Jesus kon verlei deur Hom te versoek met drie sake. Maar die oorwinning is deur Jesus Christus behaal deurdat Hy aan geen versoeking toegegee het nie, inteendeel, Hy het die Satan tereggewys uit die Woord. So kom daar dikwels in ons lewens, versoekinge van Satan, van die wêreld en van ons eie begeertes, wat ons moet weerstaan. Daar kom ook beproewinge van God waar God aan ons krag gee om dit te weerstaan.

Ons gaan na drie sake kyk. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Verkeerde trots lei tot versoekinge. 2 Sam 24:1-9
  • Ware dankbaarheid lei tot bekering. 2 Sam 24:10-14
  • Bekering lei tot genade. 2 Sam 24:15-25

Laai af

Bewaar die Woord!

Ons lees telkens in die briewe van Openbaring 2-3 hoe ons Here Jesus Christus kom besoek aflê by die gemeentes om te sien hoe hulle optree. “Ek ken jou werke…” weergalm die woorde. Op grond van hierdie getuienis is daar een van twee dinge wat gebeur: beloning of straf. Ons kan dit verder beskryf as seën of vloek.

Deurgaans word die behoud van die Woord, geloof en beloon. Dit is tot seën. Ons word verder in die apokalips gewaarsku teen verleiding en misleiding. Die onheilige drieheid van die duiwel, die antichris en die valse profeet sal alles moontlik doen om die kerk van Christus te vernietig.

In vandag se wêreld sien ons hierdie misleiding en verleiding baie duidelik veral in die digitale wêreld. Daar is beswaarlik ‘n huis in ons land sonder tv en selfs die armste mens het vandag ‘n selfoon wat kan “youtube” en “whatsapp” en “facebook”. Maar ongelukkig het hierdie wonderlike tegnologie en platforms ons lewe ingesluk sodat ons begin skade ly aan ons persoonlike verhoudinge.

Kinders weet nie meer om in die sand te speel nie, tieners kan nie ‘n behoorlike gesprek voer met ingeligte opinies nie, jong werkendes het nie meer tyd vir ‘n huisgesin nie ens, ens, maar almal kan “facebook” en “youtube”.

Die grootste probleem lê nie soseer by hierdie wonderlike tegnologie nie, maar die inhoud wat dit bevat. As gelowiges het ons ook nie altyd ‘n oplossing hoe om van hierdie wêreldse invloede te ontvlug nie. Dit oorweldig ons so dat ons skoon omsingel voel.

Daar is natuurlik altyd die bekende veg of vlug reaksies wat kan volg. Of ons moet vlug en onsself geheel en al uit hierdie wêreld onttrek. Ons moet asketies raak en op ‘n eiland sit en vergaan terwyl ons wag vir die wederkoms.

Of ons kan terugveg, met goeie en gebalanseerde lewens wat midde die wêreldse invloede steeds soos ‘n helder lig, ‘n baken in die duisternis die blye boodskap van die evangelie laat skitter.

Die Gereformeerde Kerk het pas die nuutste terugvegpoging aangewend in die vorm van glomedia.tv. Op hierdie intekenplatform kan ons kinders enige program kyk wat geestelik en opbouend is in Afrikaans. Daarby is ons in gesprek met rightnowmedia om hulle dienste ook te gebruik, wat slegs op hierdie stadium in Engels beskikbaar is en kinderprogramme bevat sowel as Bybelstudies.

Mag die Here ons die wysheid gee om in die vinnige veranderende wêreld nie verskrik en bevrees te wees vir al die verleidings en misleidings wat so oorweldigend kan wees nie, maar dat ons in die midde van al hierdie uitdagings Sy woord sal bewaar!

Ds Lourens

« Older posts Newer posts »