Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 2 of 332)

Volg jou Koning in sy oorwinning

Skriflesing: Psalm 24 1; Korintiërs 2 (1983)
Teksvers: Ps 24:4; 1 Kor 2:14

Paulus vergelyk ons lewe met die optog van ʼn Romeinse generaal wat van sy veldslae af terugkom in Rome: Sy oorwinningsviering of segetog. 

Kyk gerus op internet na die ‘Arch of Titus in Rome’ om te sien hoe lyk die triomfboog van Titus, nadat hy in die eerste eeu feitlik al die volke en opstande in Midde-Ooste onderdruk en oorwin het. 

Is ons lewe as gedoopte gelowiges een van oorwinnaars en selfs méér as oorwinnaars? 

Wag! Wat kyk jy?

Hemelvaart 14 Mei

Handelinge 1:1-14

Skriflesing: Ps. 47:1 en 2

Die Belofte van die Vader, is die geskenk van Christus se verdienste. As die werk van ons Here Jesus
vervul is, en Hy na die hemele opvaar, dan beveel Hy die dissipels om te wag. Daar is niks wat ‘n mens uit
eie kragte kan vermag in die koms van die koninkryk van God nie. Hulle moet wag. Die krag uit die hoogte
sal hulle toerus om die werk te doen. As Jesus dan wegvaar, en hulle staar die hemele in, vra die engele vir
hulle waarna kyk hulle so verstom! Wag, en kyk, jy sal sien.

Twee Jode en die Vraag oor die Messias

 Justinus die Martelaar is in 100 vC in Palestina gebore en weens sy Griekse ouers raak hy bekend as filosoof en kom mettertyd tot geloof weens die woorde van ʼn ou onbekende man op die strand van Efese. Hy is in die tweede eeu bekend vir sy apologetiese geskrifte. 

Een van die merkwaardigste gesprekke uit die vroeë kerk is die dialoog tussen Justinus die Martelaar en Trypho, die Joodse gespreksgenoot in Dialoog. Dis nie bloot ’n debat nie; dis twee mense wat saam worstel met die Ou Testament en die vraag: Wie is die Messias werklik? 

Trypho kon nie verstaan hoe die gekruisigde Jesus die beloofde Koning van Israel kon wees nie. Vir hom moes die Messias in heerlikheid kom, sy vyande verslaan en God se koninkryk oprig. Justinus antwoord egter dat die Skrifte van twee komste praat: eers die lydende Kneg van Jesaja 53, later die komende Koning van Daniël 7. 

Dis merkwaardig hoe aktueel die gesprek vandag nog klink. Ons verkies ook dikwels ’n Christus van krag en oorwinning, maar sukkel met die nederige, lydende Christus wat sy lewe gee vir sondaars. Tog lê juis daarin die hart van die evangelie. 

Vir Justinus is die wederkoms nie ’n losstaande leerstuk nie. Dit vloei uit die kruis en hemelvaart voort. Die Een wat gekom het in swakheid, het oorwin en opgevaar en kom weer in heerlikheid. Deur lyde tot heerlikheid! 

Daarom leef die kerk tussen twee groot waarhede: Christus hét gekom, en Christus sál weer kom. 

Die vroeë Christene het dit met een Aramese woord bely: Maranata — “Ons Here kom” of “Kom, Here Jesus!” Vir gelowiges is dit ’n woord van hoop, troos en verwagting. 

Ds Maarten 

Veilig in sy Voorsienigheid

Skriflesing: Psalm 34 (1983)
Teksvers: Psalm 34:8,9
HK: Sondag 10

Laat ons onthou dat ons in die aanddienste besig is in die leerprediking om die Heidelbergse Kategismus te verklaar. Vanaand kyk ons verder na die eerste sin van die Apostoliese Geloofsbelydenis: “Ek glo in God die Vader…” 

Die aanddienste gee aandag aan ons gereformeerde geloofsleer en dit sal raadsaam wees om te sorg dat ook ons groter kinders saam met u saans in die aand-eredienste kom vir hierdie onderrig. 

Vanaand bedink ons die Woordjie “voorsienigheid” wat God se omvattende beskikking en sorg vir sy kinders beskryf.

Hy wat in julle is, is groter as hy wat in die wêreld is

Skriflesing: 1 Johannes 4:1-21 (2020)
Teksvers: 1 Johannes 4:4,18

Die liefde dryf vrees buite. As die liefde van God in jou is, en jy in God leef, en Hy in jou, dan is daar geen vrees en verskrikking wat jou sal afsit om jou liefde aan God te bewys nie. 

God het ons eerste liefgehad, en daarom kan ons Hom liefhê. God is liefde. En die liefde is uit God. Maar die liefde is nie God nie. Die liefde het nie goddelike status nie. 

God is ook nie net liefde nie. God is ook Lig. God is Waarheid. God is Lewe. Met ander woorde, die liefde vind alleen betekenis as dit in God is. 

Watter heerlike troos is daar om te weet, dat Hy wat in die gelowige sy woning maak, en sy liefde vestig, is groter as hy wat in die wêreld is. 

« Older posts Newer posts »