In die klassieke verhaal White Fang lees ons van ’n wolf wat gebore word en op soek is na die sin van sy bestaan. Wanneer hy uiteindelik ontdek dat hy ’n roofdier is wat gemaak is om te jag en bloed te eet, begin hy met oorgawe leef. Hy ervaar dat hy aan die doel van sy maker beantwoord. Van daar af fokus hy al hoe meer op een ding: om te jag, dood te maak en te vreet. Hy word ’n vreeslike, vreetlustige wese wat voortdurend op soek is na sy volgende prooi.
Wanneer ’n mens egter werklik begin raaksien en verstaan wat sy of haar skeppingsdoel is – dat ons hier is vir die Here – begin ons iets van die Skepper se bedoeling met ons lewe verstaan. Dan leer ons om ons al hoe meer deur Hom, dit wil sê deur sy Gees, te laat lei sodat ons ons lewe aan sy doel kan wy.
Die tema van die jaar, en daarom ook die tema van hierdie naweek se gemeentekamp, wil ons help om weg te draai van ’n selfgerigte en eiewillige lewe en ons aandag al hoe meer op ons Skepper en Verlosser te rig. Wie werklik biddend na die wil van God soek, begin verstaan dat ons maar net deel is van God se veel groter plan.
Lees gerus weer Efesiërs 2:1–10. Daar word ons daaraan herinner dat dit uiteindelik nie oor onsself gaan nie, maar oor God en sy genade. Paulus skryf dat God in die tye wat kom, “sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.”
Laat ons daarom biddend nadink oor die wesenlike dinge van ons lewe en minder besorg wees oor die verganklike dinge. Ons Vader sorg vir ons. Hy sorg vir ons sodat ons met groter toewyding Hom kan dien en eer.
Mag ons al hoe minder om onsself draai en al hoe meer om Hom – ons Skepper en Verlosser.
Ds. Maarten