Ons kon laasweek Sondag ‘n kykie kry op die wonderbare hart van Jesus ons Verlosser. Sy hart is vol empatie en simpatie. “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is, …en Ek sal vir julle rus gee vir julle siele” (Matt 11).
D. Ortlund skryf in sy boek, Gentle and Lowly (p.200), dat Jesus waarskynlik nie deur die kruisiging self dood is nie, maar weens ‘n “broken heart”. Die lyding aan sy hart en gees oorweldig gewoon die fisiese kragte.
So leer ons van die sielkunde en kardiologie dat mens selfs aan ‘n gebroke hart kan sterf. Medici praat van kardio-miopatie. Weens trauma en skok raak die hart so onreëlmatig dat dit soos ‘n hartaanval presenteer. Ons oumense het ons geleer dat ekstreme hartseer, ‘n gebreekte hart dus, minstens twee jaar neem om genoegsaam te herstel! Diepe angs of droefheid of lyding moet dus nie sommer ligtelik afgemaak word nie.
Daar is selfs diegene wat beweer dat die bloed en water wat uit Jesus se sy vloei na die spiessteek, bewys is dat sy hartsak gebreek het en Jesus dus dood is aan ‘n gebreekte hart.
As ons net probeer verstaan dat Hy AL ons sonde op Hom geneem het… Hy wat nooit sonde gehad of gedoen het nie. Hy wat dag en nag in volle gemeenskap met sy Vader was, en weens ons sonde van Godverlate moes wees, dan kan ons aanneem dat ons sy hart gebreek het!
Daarom verstaan ons Verlosser en Hoëpriester ons hartseer en pyn, hoe diep en swaar dit ookal mag wees (Heb 4:15).
Mag u en ek ook in hierdie stukkende lewe ons vrede in Hom alleen vind en ook die troos van die Heilige Gees wat Hy vir ons verwerf het.
Ds. Maarten