Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 275 of 328)

Versorg in die woestyn (Psalm 23:1-6)

Toe Dawid, die digter, hierdie woorde gesing en neergeskryf het, was hy die skaapwagter in die Judawoestyn. Ons moet hierdie Psalm dus lees soos ‘n woestyn-psalm. Die groen weivelde waarvan Dawid sing is dus nie die groen grasvelde of lusernlande van Suid Afrika nie.

Jou gedagtes word teruggeroep na die dorre landskap van die woestyne van Israel. Meestal is dit klipagtige en bergagtige woestyne. ‘n Harde wêreld. Hier kom niks vanself nie. Hier kan ‘n skaap nie eintlik oorleef nie. Hier vergaan jy maklik van die honger en van die dors.

En dit is presies die bedoeling van die lied: Alleen kan ek en jy nie. Ons is soos die skaap wat sonder ‘n herder in die woestyn sal verdwaal en in die hitte en onherbergsaamheid sal omkom. Die wêreld waarin ons woon het geen rus en geen vrede nie. Die wêreld is hard en ongenaakbaar, en dit nog des te meer teenoor die kinders van God, omdat ons anders is, vreemdelinge in die wêreld. Die lewe van God se kinders is ‘n moeilike en moeisame pad waar veiligheid ontbreek en vrees ons metgesel geword het.

Alleen en op jou eie gaan jy dit nie maak nie!

Nou kom Dawid en troos ons met die stok en staf (vs 4 OAV) van die Herder, die waarheid van die Woord van God: Jy kan nie alleen nie, maar jy hoef ook nie alleen nie. Die Here is jou herder. Hy ken die pad waarop ons moet gaan. Hy sal ter wille van Christus, wat aan die kruis deur God verlaat is, ons nooit alleen laat nie. Hy sal ons lei op die regte spore, en Hy sal vir ons rus gee by die waters van die lewe. Selfs in die donkerskadu’s van die lewe sal ons sy teenwoordigheid as Herder beleef. Sal ons Jesus Christus ervaar as ons goeie Herder (Joh 10).

Omdat Hy vir ons sorg sal ek en jy niks ontbreek of kortkom nie.

Ds. Maarten van Helden

Verdorde hand of verdorde hart?

Skriflesing: Matteus 12 en Markus 3; Lukas 6
Teksverse: Lukas 6:6-11

Het jy al nagedink oor die verandering, vernuwing en geloofsgroei in jou eie lewe? Verandering kom nie sommer nie. Dit is maar net as die Heilige Gees jou oortuig dat daar vernuwing by jou kan plaasvind. Die Fariseërs het aan ‘n manier van versoening, tussen hulle en God, deur wetsonderhouding vasgehou. Hulle wou eerder hulle eie siening en verdienste as weg tot saligheid navolg as om die genade in en deur Jesus Christus hulle eie te maak. Daarom dan vandag die vraag ook aan jou: Bring die besef van jou eie verdorwenheid jou by Jesus Chrisuts uit of is jy verhard in jou eie selfgekose manier van lewe? Verdorde hand of verdorde hart?

Laai af

« Older posts Newer posts »