Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 274 of 328)

Epiloog van die Dordtse Leerreëls

Die voorgaande is dan die duidelike, eenvoudige openhartige verklaring van die regsinnige leer aangaande die Vyf Artikels waaroor in Nederland verskil van mening is. Tegelykertyd is dit die verwerping van die dwalings waardeur die Nederlandse kerke ‘n tyd lank in beroering was.

Die Sinode oordeel dat hierdie uiteensetting uit die Woord van God geneem is en met die belydenisse van die Gereformeerde Kerke ooreenstem. Hieruit blyk dit duidelik dat mense in stryd met alle waarheid, eerlikheid en liefde die volk die volgende wou wysmaak:

  • dat hierdie leer ‘n oorkussing van die duiwel en die sondige natuur en ‘n vesting van die Satan is, waaruit hy vir alle mense hinderlae opstel, die meeste verwond en baie met pyle óf van wanhoop óf van sorgeloosheid dodelik tref;
  • dat hierdie leer God tot outeur van die sonde, ‘n onregverdige, ‘n tiran en ‘n huigelaar maak en dat dit niks as die herleefde leer van die Stoïsyne, Manigeërs, Libertyne en Moslems is nie;
  • dat hierdie leer die mense sorgloos maak en dat hulle hulle daardeur verbeel dat, op watter wyse hulle ook al leef, dit nie die saligheid van die uitverkorenes verhinder nie en dat hulle gevolglik sonder kommer allerhande afskuwelike sondes kan doen;
  • dat dit die verworpenes nie tot saligheid strek nie, selfs al sou hulle inderdaad ook al die werke van die gelowiges verrig;
  • dat volgens hierdie leer God enkel en alleen deur sy wilsbesluit en sonder oorweging of inagneming van enige sonde van enig-iemand die grootste deel van die wêreld vir die ewige verderf voorbeskik en geskep het;
  • dat net soos die verkiesing die fontein en die oorsaak van die geloof en die goeie werke is, die verwerping ook so die oorsaak van die ongeloof en goddeloosheid is;
  • dat baie onskuldige kinders van gelowiges van die moederbors weggeruk en op wreedaardige wyse in die hel gegooi word, sonder dat die bloed van Christus of hulle doop of die gebede van die kerk by hulle doop vir hulle tot voordeel kan wees.

En watter baie ander soortgelyke bewerings is daar nie wat die Gereformeerde Kerke nie aanvaar nie, en totaal verfoei!

Daarom doen hierdie Sinode van Dordrecht in die Naam van die Here ‘n beroep op almal wat die Naam van ons Verlosser Jesus Christus gelowig aanroep, om die geloof van die Gereformeerde Kerke nie te beoordeel op grond van hier en daar saamgeroepte lasteringe of op grond van persoonlike uitsprake van verskeie ouer of jonger leraars nie.

Hierdie uitsprake word dikwels slegs met kwade bedoelings aangehaal of vermink en tot ‘n verkeerde betekenis verdraai. Hulle moet eerder op grond van die openbare belydenisse van genoemde Gereformeerde Kerke oordeel en op grond van hierdie uiteensetting van die regsinnige leer wat met algemene instemming van almal saam en van elke lid van die hele Sinode afsonderlik vasgestel is.

Vervolgens vermaan die Sinode hierdie lasteraars ernstig dat hulle moet besef watter swaar oordeel van God hulle oor hulleself bring as hulle teen soveel kerke en teen die belydenisse van soveel kerke valse getuienis gee, die gewetens van die swakkeres in beroering bring en naarstiglik streef om by baie mense die gemeenskap van die ware gelowiges verdag te maak.

Ten slotte doen hierdie Sinode ‘n beroep op alle mededienaars in die evangelie van Christus om hulle in die behandeling van hierdie leer in die skole en in die kerke vroom en gelowig te gedra. Hulle moet hierdie leer sowel mondeling as skriftelik tot eer van Naam van God, tot heiligmaking van die lewe en tot troos van die verslae harte uitlê. Hulle moet in ooreenstemming met die Skrif nie alleen na die reël van die geloof dink nie maar ook praat.

Eindelik moet hulle hulle weerhou van alle uitsprake wat die voorgeskrewe perke van die ware strekking van die Heilige Skrif oorskry. Sulke uitsprake kan aan die skaamtelose dwaalleraars ‘n gegronde rede gee om die leer van die Gereformeerde Kerke sleg te maak Of te belaster.

Mag die Seun van God, Jesus Christus, wat aan die regterhand van die Vader sit en aan die mense gawes gee, ons in die waarheid heilig. Mag Hy hulle wat dwaal, tot die waarheid lei en die lasteraars van die gesonde leer die mond snoer. Mag Hy die getroue die-naars van sy Woord die Gees van wysheid en onderskeiding gee, sodat al hulle uitsprake tot eer van God en tot opbouing van hoorders mag strek.

Amen

Bogenoemde paragrawe is ʼn slot wat die Sinode destyds self bygevoeg het ter verduideliking.

Goeie werke: Sodat… of … Omdat?

Skriflesing: Titus 3
Teksvers: Titus 3:4,5 (8b)

In Luther se groot-word-jare het die Roomse Kerk, destyds die enigste kerk, doodgewoon met vrees regeer. As jy sonde sou doen was dit sonde teen die kerk. Om dit reg te maak het die kerklike amptenary dan ernstige strawwe opgelê. Dinge wat jy moes doen om alles weer goed te maak. Goeie werke. Goeie dade. Solank jy net nie in onguns by die kerk sou kom nie! Dus was dit ‘n tyd dat dominees/priesters en biskoppe en pouse gevrees is, en daarom is God ook met ‘n onheilige vrees bejeën.

Vandat Luther egter monnik geword het en in die sombere klooster van Erfurt studeer het, het hy begin twyfel of God so ongenadig en kil en hard kan wees. En dan vind hy hierdie liefdevolle God van ons teks. Hy vind dit wel eers in Romeine 1:17, maar as jy mooi lees staan dit in byna elke geskrif van die apostel Paulus.

Die vraag vandag is: Doen jy goeie werke sodat…., of omdat?

Laai af

Katkisasie – Verbondsonderrig aan ons kinders

Lees Luk 1:1-4; 2 Tim 3:10-17; 2 Pet 1:20,21

Die woord katkisasie is welbekend in gereformeerde kringe. Dit kom van ’n Griekse woord “katecheu”. Alhoewel ons met katkisasie grootword, vergeet ons maklik die belangrikheid en doel van katkisasie. Katkisasie is om uit die Skrif onderrig te word. Dit is om die Bybelse waarhede uit die Skrif te ken.

Hierdie Bybelse waarhede is om God te ken soos wat Hy homself in die Skrif openbaar, om te leer hoedat God wil hê dat ons in gehoorsaamheid tot sy eer moet lewe. Ouers is verplig om hulle kinders op te voed en te leer en te onderrig in die Bybel.

Dit is eerstens die ouers se plig. Tweedens is dit die Kerkraad se plig. Daarom lees ons ook die volgende op die webwerf van GK Centurion: “Die katkisasiekommissie se doel is om die reëlings te tref rondom katkisasieonderrig.” Dit behels die praktiese reëlings wat nodig is sodat onderrig aan die dooplidmate kan plaasvind. In die doopsformulier word daar verwys na “onderrig en laat onderrig”.

Die kommissie sien toe dat die gedeelte “laat onderrig” gepas en toereikend gedoen word. Soos nodig, doen die kommissie verslag aan die kerkraad oor die werksaamhede. Dit is die ouderlinge se verantwoordelikheid om toesig te hou oor die onderrig wat aangebied word en te verseker dat die inhoud getrou en korrek is.

Elke graadgroep volg ‘n gepaste leerplan wat jaarliks deur die kerkraad goedgekeur word. Katkisasie is ‘n baie ernstige wyse van onderrig aan ons verbondskinders. Daarom moet ouers baie noukeurig toesien dat hulle kinders vir katkisasie voorberei en dit getrou bywoon. Sodoende word hulle voorberei om eendag openbare belydenis van hulle geloof te doen.

  • Ons dank die Here vir verbondskinders.
  • Ons dank die Here vir ʼn toegewyde Kerkraad.
  • Ons dank die Here vir ʼn Katkisasie Kommissie.
  • Ons dank die Here vir pligsgetroue ouers.

Ds. Gerrit Kruger

Bronne

https://proregno.com/2013/04/15/ons-roeping-om-onsself-en-ons-kinders-te-katkiseer/https://gkcenturion.co.za/kommissies/katkisasie/

« Older posts Newer posts »