Skrywer: admin (Page 37 of 343)
Skriflesing: Ps 46; Jes 8; Esegiël 47; Openb 22 (1983)
Teksvers: Eseg 47:6
By die Nagmaal kon jy verlede week in verwondering wees oor die teenwoordigheid van Christus en die heerlike gemeenskap met Hom en al sy gawes. Ons teks vra ons eintlik of ons die tyd gemaak het om ons te verwonder oor sy genade.
Ons kan tog so besig raak met allerlei dinge, dat ons die wonderlike genade van God nie net miskyk nie maar dalk ook misloop. Die psalmdigter én die die profete roep ons eintlik tot stilstand, sodat ons die werklike waarde van die veelvuldige genade van God in ons lewens kan besef.
My vraag vandag aan u in die Naam van die Here is ook… sien jy dit mens, sien jy dit raak?
Skriflesing: Lukas 4:14-32; Jesaja 61:1-3; Jesaja 66:2 (1983)
Teksvers: Lukas 4:18,19
Maak gerus ‘n tydjie om die twee teksverse van Jes 61 en Luk 4 se aanhaling daarvan met mekaar te vergelyk.
As Lukas die Here Jesus aan die Griekssprekendes (heidendom) bekendstel, gebruik hy hierdie spesifieke woorde wat nou in die koms van Jesus as die langverwagte Messias vervul is. Vir die Jode van sy tyd voldoen Hy nie aan hulle vereistes nie. So is die prediking van die Gekruisigde Jesus nie so baie aanvaarbaar vir die huidige wêreld met sy wellustige soeke na sukses nie.
Is hierdie Jesus vir jou genoeg?
In die bergpredikasie, sê Jesus: “Gelukkig is die wat dors na geregtigheid” Matt 5:6. Hy dra ons ook op, in Matt 6:33, om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Wat beteken God se geregtigheid?
Geregtigheid gaan oor verhoudings tussen mense maar meer belangrik oor die verhouding tussen God en die mens. God se geregtigheid is een van sy wesens-eienskappe wat Sy verhouding met ons beheers.
Hierdie eienskap behels dat Hy volmaak regverdig en billik is en altyd so teenoor ons optree. Hy lê reëls neer vir die mens en ongehoorsaamheid daaraan straf Hy met die dood (Gen 2:16–17). Elkeen van ons moet elke dag die erns van ons daaglikse ongehoorsaamheid besef – ons is almal skuldig tot die dood. Lees maar weer Rom 3:10–20.
God se geregtigheid sluit genadiglik ook in dat hy deur Jesus Christus ons sondes volkome vergewe. In 1 Johannes 1: 8 – 9 lees ons dat as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie, maar as ons ons sonde bely – Jesus Christus is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1).
Die sleutel tot hierdie vergifnis en die ware en ewige lewe lê in geloof in Christus. In Rom 1:17 sê die Heilige Gees deur Paulus dat elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo sal lewe. Die geregtigheid wat ek, sondige mens, nodig het, lê in die Evangelie van Christus. Christus is sentraal in God se geregtigheid – nie die wet, goeie werke of enige iets anders nie.
Wat ons benodig is ware geloof wat sigbaar moet word in ons daaglikse lewenswyse. In Jak 2:14 ev word ons aangemoedig om ons geloof uit ons dade te wys.
Ons jubel ook, Jak 1:4 ev, in God se geregtigheid wat Hy in Christus aan ons geopenbaar het.
Oudl. Koos Pretorius
Skriflesing: Matteus 27:32-56 (2020)
Teksvers: Matteus 27:46
Het jy al werklik eensaam, vergeet en verlate gevoel? As gevolg van die sondeval, kan selfs gelowiges soms ‘n verlatenheid ervaar. Die Bybel vertel ons van mense wat God verlaat. Ons lees ook dat God die Israeliete soms oënskynlik verlaat het. Ons hoor egter ook van gelowiges wat pleit dat God hulle nie sal verlaat nie.
Tydens die kruisiging hoor ons Jesus Christus se kreet: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” Hoe is dit moontlik dat God vir Jesus kon verlaat, terwyl ons tog bely dat die Drie-enige God, Vader en Seun en Heilige Gees onskeibaar is? Kan Jesus dan deur God verlaat wees en tog nie van God geskei wees nie? Waarom was dit dan nodig dat Jesus van God verlaat moes word? Wat is die troos wat ons put uit Jesus se Godverlatenheid aan die kruis?
Kom ons verwonder ons oor die blye boodskap, dat Jesus ter wille van ons deur God verlaat is en dat ons nou die sekerheid het dat ons op grond van Christus nooit van God verlate sal wees nie.