Die eerste 10 van Martin Luther se 95 stellinge van 31 Oktober 1517 op die kerkdeur van Wittenberg, Duitsland klink in Afrikaans soos volg:
Uit liefde vir die waarheid en met die begeerte om die waarheid openbaar aan die orde te stel, sal daar in Wittenberg oor die volgende stellings gedebatteer word onder die voorsitterskap van die eerwaarde monnik Martinus Luther, met ’n magistergraad in Vrye kunste (geesteswetenskap) sowel as in die heilige teologie, tans volle professor te Wittenberg. Daarom versoek hy die mense wat nie teenwoordig kan wees en mondelings met ons kan debatteer nie, om dit in hulle afwesigheid skriftelik te doen.
In die Naam van ons Here Jesus Christus.
1. Omdat ons Here en Meester Jesus Christus sê: “Doen boete” (Bekeer julle) (Matt. 4:17) wou Hy gehad het dat die hele lewe van gelowiges ’n lewe van boetedoening (bekering) moet wees.
2. Hierdie woord (bekering)* kan nie in die betekenis van die sakramentele boetedoening verstaan word nie. (Dit is in die sin van bieg en vergoeding wat deur die amp van die priester uitgevoer word nie.)
3. Nogtans beteken dit, (bekering volgens Matt. 4:17) nie slegs ’n innerlike bekering nie; Eintlik is die innerlike bekering niks werd nie as dit nie uiterlik op baie wyses die afsterwing van die vlees bewerk nie.
4. Dus bly die straf daar, net solank as wat die vyandskap teen jouself bly (Dit is die ware innerlike bekering). Dit beteken dit bly tot met die binnegaan in die hemelryk in.
5. Die pous kan en wil geen ander soort straf kwytskeld as die soort straf wat hy volgens sy eie besluit of volgens die kerkreg opgelê het nie.
6. Die pous kan sondeskuld op geen ander manier vergewe nie as om net te verkondig en te bevestig dat dit deur God vergewe is nie. Die pous kan tog sekerlik net vergewe in die sake waarin hý die reg voorbehou. Minag ’n mens hom hierin, dan bly die (hierdie tipe) skuld verseker voortbestaan.
7. Eintlik vergewe God nie een se skuld wat hom nie ter selfde tyd aan die priester as God se verteenwoordiger geheel en al deemoedig onderwerp nie.
8. Die kerkregtelike boetebepalings is net van toepassing op mense wat lewe. Mense wat gesterf het, mag nie aan kerkregtelike bepalings onderwerp word nie.
9. Die Heilige Gees bewys deur die pous sy goedheid vir ons daarin dat wanneer die pous dekrete uitvaardig, hy elke keer die dood en uiterste noodsaak uitsluit (uit sy regsbevoegdheid uit)
10.’n Priester wat vir mense wat gesterf het nog steeds kerkregtelike boetestraf laat voortbestaan tot binne in die vagevuur, tree onkundig en sleg op.
Lourens (vdm)