Josef se lewe het vir ons so baie lesse om te leer. Vir die afgelope klompie weke het ek baie tyd spandeer om daaroor na te dink. Telkens vind ek myself bepeins oor die gebeure van my eie lewe en hoe anders dinge dalk sou uitdraai as iets op ‘n ander manier sou gebeur as wat dit het. Met elke gebeurtenis kan ek God se hand sien in hoe Hy my gelei het, al kon ek dit nie voorsien of verstaan op daardie oomblik nie. 

Een van die grootste uitdagings is om te sien wat God se plan is vir ons lewens wanneer ons teleurstellings ervaar. Waarom laat God dit toe dat Josef se broers hom ten onregte mishandel? Waarom kry hy nie eerbied of respek vir die wyse waarop hy teenoor Potifar se vrou optree nie? 

In kort sou die antwoord wees: want die lewe is nie regverdig nie. 

Dit is egter nie ‘n genoegsame antwoord nie. Want dit beteken dat Gods water maar oor Gods akker loop, en ek kan niks daaraan doen nie. Die lewe is maar net wat dit is. Jy moet maar net aanvaar wat met jou gebeur… 

Dit sou tog maar net ‘n halwe waarheid wees. Want in ons groot teleurstellings en onregte wat ons moet verduur, is die hand van die Almagtige aan die werk. God gebruik die “nee’s” van die lewe om op ‘n ander manier vir ons “ja” te sê. Hy gebruik ons gebrokenheid om tot sy heerlikheid te wees. 

Dink net daaroor: sou die verhaal van Josef so aangrypend gewees het, as Jakob die Farao se goeie vriend was en vir Josef ‘n plekkie in die kabinet gereël het? So is ook elkeen van ons se lewe uniek en kosbaar, want God is al die tyd daarin aan die werk. Daarom kan ons berus by die goeie en die slegte van die lewe, want God beskik oor al hierdie dinge. In sy voorsienigheid sien Hy vooruit en voorsien Hy in die toekoms. 

Daarom kan ons met vrede en gerustheid en geloofsvertroue bid: Laat U wil geskied, soos U dit wil in die hemel, dat U dit mag uitvoer in my lewe hier op aarde. 

Lourens (vdm)