In hierdie Jubeljaar gaan dit allereers om lof en eer aan die Here. Jubel geskied veral deur sang en lied. Baie bekende en geliefde lofliedere (soos Psalms 103, 146 – 150) weerklink telkens gedurende ons eredienste, en met goeie reg. Hierdie lofliedere kom egter eers tot volle reg as die sanger nie net konsentreer op melodie en sang nie, maar veral ook op die woorde. Laasgenoemde word mettertyd verwaarloos, veral in die sing van baie bekende liedere, met as voorbeeld die dikwels gedagtelose sing van Psalm 146:1: 

Prys die Heer met blye galme, 
o, my siel, daar’s ryke stof! 
‘k sal solank ek leef, my psalme 
vrolik toewy aan sy lof 
en Hom, wat sy guns my bied, 
altyd groot maak in my lied. 

Die bewustelike sing van hierdie psalmvers behels die volgende: 

Prys die Heer met blye galme: Dit is die Here, die Skepper van hemel en aarde, en ons Vader in Jesus Christus, wat geloof word, en dit voluit, en met blydskap oor Sy genade. 

o, my siel, daar’s ryke stof!: Ek herinner myself daaraan dat die seȅninge van die Here in my lewe talryk is, en oor tyd en ewigheid strek. 

‘k sal solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan Sy lof: My lof aan God is met vreugde deel van my hele lewe, of dit nou goed, of minder goed gaan. 

en Hom, wat sy guns my bied, altyd groot maak in my lied: Dit is die Here wat in Sy goedertierenheid Sy helpende hand in Christus na my uitgesteek het, en my vir ewig Sy kind gemaak het. Daarom kan ek nie anders nie as om Hom altyd, in alle omstandighede, te loof vir die oneindige omvang van Sy liefde en majesteit. 

By al die baie seëninge van ons Here, het Hy ons ook geseën met die vermoë om te dink en te konsentreer. Laat ons Hom dus loof met die bewustelike sing van elke lofpsalm, en daarmee saam elke lied waarin ons tot Hom nader. 

Oudl Gerrit Kamper