Soms ervaar ‘n mens die lewe asof dit net ‘n droom is. Dit is nou nie dagdroom, soos ons soms kan wegraak in ons eie gedagtes nie. Droom waarna hier verwys word is asof jou lewe onwerklik voel. Asof jy los staan van jou lewe. Dit gebeur veral wanneer jou lewe baie vol is en jy so besig is dat jy eintlik nie tyd kry om stil te word en tyd te maak vir mense wat vir jou belangrik is, of vir jouself nie. Dan kan die lewe verby spoed soos ‘n sneltrein sonder dat jy werklik die goeie van die lewe kan waardeer en geniet. Jou lewe word dan net ‘n oorlewingstryd. Jy het nie tyd om oor enige iets na te dink nie, jy neem net jou lewe oomblik vir oomblik.
Aan die ander kant kan dit voel of tyd gaan stilstaan. Dit gebeur veral in beproewinge. As jy daar langs iemand se siekbed sit, of wanneer jy aansoek doen vir ‘n nuwe werk. As jy wag op uitslae of as daar groot besluite gemaak moet word. Sekondes kan voel soos ure. Dit is of een dag ‘n ewigheid duur.
Om kop bo water te hou in hierdie uitdagende en soms onmoontlike lewe, gryp ons na geloof. Geloof is tog die dinge waarop ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien. Geloof help ons om rus en vrede te vind, om getroos te word, om seker te wees.
Maar geloof is nie ‘n placebo nie.
‘n Placebo is ‘n manier waarop daar veral in die mediese wêreld gekyk word na die effek van medisyne. Tydens kliniese proewe ontvang sommige pasiënte ‘n sekere soort medisyne, maar ander ontvang ‘n placebo (namaaksel). Dit lyk en proe soos die regte medisyne, maar dit is net suikerwater of ‘n “smartie”.
Die toets van die placebo is om te sien of mense glo die medisyne maak hulle gesond, al is dit nie die ware Jakob nie. ‘n Mens sou kon sê placebo is om mense te “truuk” om te glo hulle het medisyne gekry, soos wanneer ‘n driejarige sê sy maag is seer en jy gee vir hom “pilletjie” (smartie).
Nie geloof of Nagmaal is placebo’s van God se Woord of ‘n “truuk” van die Heilige Gees nie. God probeer ons nie om die bos lei of ons beter laat voel oor die gejaag van die lewe nie. Die Nagmaal is juis daargestel om ons geloof te versterk en ons te verseker van God se liefde en genade.
Hy wat aan ons die Nagmaal gee, is self die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, dit is Hy wat doop met die Heilige Gees en met vuur.
Lourens (vdm)