Oorlog is oorlog. Meesal is daar weinig winste uit ‘n oorlog. Eerder pyn en lyding en diepe hartseer. Oorlog is geweld en nogmaals geweld. Die duiwel sit daaragter. 

In die Bybel gebruik die Here oorlog as deel van sy Godsopenbaring. Ons mag nie vandag enige oorlog op dieselfde lyn stel as die oorloë van ou Israel waar die Here die heilige geslag (draers van die belofte van die komende Messias) teen die aanslag van die draak of slang van ouds (Op 12) beskerm het nie. 

Die oproep van beide Israel én Palestina is dat die huidige oorlog in die Midde-Ooste ‘n heilige doel het omdat dit gaan oor God se volk of die nageslag van Abraham. Die interessante hiervan is dat beide nasies biologies kinders van Abraham is! En God seën beide die kinders van Isak én die kinders van Ismael! (Gen 12:3) 

Die seën oor Isak was daarin spesiaal dat hy die bloedlyn van die beloofde Messias sou dra, die Verlosser wat gekom het en uiteindelik juis deur die nasie van Israel verwerp is. Noudat hierdie belofte vervul is staan al die nasies van die hele wêreld gelyk voor God, met die enigste uitsondering van diegene wat in Gal 3:29 bedoel word: 

En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.” Galasiërs 3:29 AFR20 

Die oorlog in die Midde-Ooste mag wel verstaan word as ‘n noodsaaklike optrede teen terreur, en moet natuurlik ook gestaak word as daardie doel bereik word, nl. die verhindering van terreur soos wat onder andere op 7 Oktober 2023 in Israel plaasgevind het. 

Die hele konsep dat ons hier te make sou hê met ‘n sg. “heilige oorlog” is nie ‘n Bybelse konsep nie. Behalwe dat God ‘n God van vrede is en vredemakers liefhet, weet ons dat sy Gees nie een van mag en geweld is nie, maar van liefde en selfbeheersing. Ook kom die wraak volgens die Skrif net aan God toe. Dus het die owerheid die swaardmag om sy onderdane te beskerm en te verdedig, maar steeds met die nodige beginsels van die Woord van God in gedagte. 

Ook die aanname dat Israel se grondgebied nou eintlik ‘heilig’ sou wees en daarom ook in die spreektaal die “Holy Land” genoem word, skep die valse idee dat ons nou in Israel met ‘n sg. heilige oorlog te make sou hê. Ons kan egter eerder glo dat elke duim grond (elke plek en elke hart) waar Christus se gesag onomwonde aanvaar en uitgeleef word, dit heilige grond mag wees. Daar waar Hy regeer daar het die koninkryk van God naby gekom!

Die naïewe idee dat God “aan ons kant is” is egter ‘n fout wat baie nasies in die verlede gemaak het, en nou waarskynlik in Israel weer. Die Moslems se Jihad is vir hulle niks anders as ‘n sogenaamde heilige oorlog nie, en insgelyks dink die Jode dieselfde aan hulle kant. Dit is net so kinderagtig sou twee rugbyspanne voor ‘n wedstryd bid dat God kwansuis hulle span moet laat wen! 

Veel eerder is dit van belang dat ons elkeen seker maak dat ons aan God se kant is. Dit is immers die les wat Josua by die Leërowerste van die Here moet leer voor hy die oorlog teen Kanaän aanpak (Jos 5 en 24). So behoort ons te bid vir die bekering van Jode én nie-Jode, omdat God sy genade slegs gee aan hulle wat aan sy verbond in en deur Jesus Christus getrou bly. 

Die enigste sogenaamde “heilige oorlog” sou dan die een wees, wat Jesus teen die duiwel en die sonde kom voer het en natuurlik ook gewen het! Ons moet egter weet dat die geestelike oorlog op ‘n ander terrein plaasvind en dat die Here belowe het om sy kerk deur hierdie stryd heen te suiwer en te bewaar. Ons moet ons dus gereed maak en onsself staal vir die ergste stryd en vervolging wat die kerk (= die ware Israel, bestaande uit Jode én nie-Jode) nog ooit beleef het, want deur kruis en stryd heen sal die oorwinning van die ware kinders van Abraham kom. 

Nie deur krag en mag nie, maar deur my Gees, sê die Here!” (Sag 4:6) 

As jy dus vir Israel wil bid, bid dan dat die Here die ware Israel (Rom 9:6), die ware kinders van Abraham, sal vashou in die uur van sware stryd wat oor die wêreld aan die kom is. (vgl. Ps 122:6).

Ds Maarten