Hierdie bekende Latynse spreuk beteken: Bid en werk. Dit wys op die twee

belangrike aspekte van ons bestaan. Die geestelike, dit is om te bid, en die vleeslike

naamlik om te werk.

Die verhouding tussen hierdie twee aspekte het deur die eeue heen baie spanning

veroorsaak. Watter een is nou die belangrikste? Ons kan nie lewe as ons nie werk

nie, maar om te werk is nie al waarvoor ons leef nie. As jy nie werk nie, mag jy nie

eet nie, maar as jy werk bring dit soms uitdagings om tyd te maak vir gebed.

Dit is hier waar roeping ‘n deurslaggewende rol speel. Roeping beteken in kort: om ‘n

uitnodiging te ontvang om deel te kry aan die ewige verlossing wat God gee. God

roep ons deur die evangelie, die blye boodskap, om deel te kry aan die verlossing

deur Sy Geliefde Seun.

Ons word egter vir meer geroep as om net gered te word. Ons word ook geroep tot

diens. Die Griekse woord klessis, wat ons as roeping vertaal, is die grondwoord van

ekklesia, wat uitroep tot gemeenskap beteken. Ons vertaal dit ook met gemeente.

Ons word geroep uit die duisternis tot die lig, maar ons word ook geroep tot

gemeenskap van geloof.

Roeping is aanroeping van God, sowel beroep tot diens. Dit is die twee tafels van die

wet. Liefde tot God en liefde tot jou naaste. Daarvan word beskryf in 1 Korintiërs 12

hoe ons hierdie liefdediens kan verrig in verskeidenheid van genadegawes,

bedienige en werkinge.

Nie almal ontvang dieselfde gawes, dieselfde bediening of dieselfde werking nie. Tog

word ons in die verskeidenheid van gawes geroep tot eenheid in en onder Christus

as Sy kerk. Daardeur word nie net ons ora nie, maar ook ons labora as diens aan

God gewy. Om biddend te werk. Dan word ons deur die geloof, medewerkers van

God, in sy diens, en tot sy eer.

 Lourens (vdm)