Volg in Jesus se voetspore, al beteken dit lyding!
Donderdag 16 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:18-25
20 “As julle gestraf word wanneer julle oortree het, watter verdienste is daarin as julle dit verdra? Maar om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God.
21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg.
22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ‘n leuen gekom nie.”
23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.
24 Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.”
Alles wat Jesus Christus op aarde gedoen het, is die perfekte voorbeeld vir ons om na te volg!
Soos wat ‘n klein kindjie op die sand of stofpad dikwels in sy pa se voetspore probeer trap, moet ons altyd probeer om in Jesus se voetspore te trap!
Ons moet in sy voetspore volg!
Want alles wat Jesus op aarde gedoen het, was goed en reg en moet ons navolg.
In besonder moet ons navolg wat Jesus gedoen het ten opsigte van swaarkry en lyding.
Dit klink vir ons nie reg nie. Hoekom moet ons Jesus navolg ook in sy lyding?
Daar is tog ‘n algemene gedagte wat mense wil glo en dit is dat as jy in gehoorsaamheid aan God lewe sal jy nie swaarkry of lyding ervaar nie. Is God dan nie die God wat net goed is nie? Is God dan nie die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is nie, soos wat ons bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis art. 1 nie?
Jesus Christus was sonder sonde. Hy het NOOIT enige sonde gedoen nie. Uit sy mond het daar NOOIT ‘n leuen gekom nie. En dan lees ons dat Jesus ter wille van ons beledig is, gely het, gedreig is met die dood en dat Hy aan die kruis vir ons sondes betaal het met sy liggaam en bloed. Hy was totaal en al onskuldig, maar is skuldig verklaar.
Jesus het nie gesterf, omdat Hy ooit iets verkeerds gedoen het nie, maar omdat Hy reg gedoen het. Dit is wat ons moet navolg, ons moet altyd reg te lewe, volgens die Woord van God, uit dankbaarheid en gehoorsaamheid.
En dan die swaarste vir ‘n christen, wanneer iemand iets verkeerd teen jou doen of as jy moet opstaan vir wat reg is volgens die Woord van God, dan moet ons in Jesus Christus se voetspore volg. Al word ons beledig en kry swaar of word selfs in die tronk gegooi, omdat ons in Jesus se voetspore volg, moet ons nie terugdeins nie.
Geliefdes ons moet nie deelneem aan die sondige wêreldse praktyke nie!
• As iemand jou vloek moet nie terugvloek nie.
• As iemand jou vra vir omkoopgeld, moet dit nie doen nie.
• As iemand jou beledig omdat jy getuig van wat die Bybel sê, moet nie terugdeins nie.
Jesus Christus se onderdanigheid aan die owerheid toe Hy onskuldig veroordeel is, was nie ‘n teken van swakheid of onmag nie, inteendeel, ons lees met sy gevangeneming het Jesus die volgende gesê: Mat 26:53 “Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie?
Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.”
Ons word nie verlos en gered omdat ons in Jesus se voetspore volg en doen wat Hy vra nie, nee, ons word verlos omdat ons glo in wat Jesus Christus vir ons gedoen het aan die kruis en met sy versoeningswerk.
Kom ons volg ons Herder en die Bewaker van ons lewens deur in gehoorsaamheid in Sy voetspore te volg!
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com