Alle christene is een familie

Maandag 6 Maart 2023
Lees: 1 Petr 1: 22-2:3 ‘83 “22 Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23 Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Die voorreg van ‘n familie. Dit is ‘n baie groot voorreg om in ‘n familie gebore te word waar daar liefde en respek en omgee vir mekaar is. Om ‘n pa en ma te hê met broers en susters wat vir mekaar omgee is ‘n genade van God. Om deel van so ‘n familie te wees waar julle mekaar werklik liefhet vul jou met groot dankbaarheid en blydskap.
Hoe word jy deel van so ‘n gesin of familie.
Eerstens deur ‘n pa en ‘n ma uit wie jy gebore word.
Tweedens as jy ‘n wettig aangenome kind van so ‘n familie is.

Elke ware christen is deel van so ‘n besondere familie. Ons almal wat werklik in Jesus Christus glo en Hom liefhet en dien, is deel van die gesin van God. Ons is deel van die geeste-like familie. Ons is broers en susters deur ons Here Jesus Christus. God is ons Hemelse Vader.
Hoe word jy deel van die geestelike gesin van God?
Eestens en laastens deur die wedergeboorte.
Hierdie wedergeboorte word duidelik aan ons beskryf in Joh 3:1-16.
Jy word deur die Heilige Gees wedergebore om te kan glo in ons Here Jesus Christus as ons Verlosser en ons Koning. Soos daar twee ouers nodig is om fisies gebore te kan word, is daar by die wedergeboorte die Heilige Gees en die Woord.
1 Pet 1:23 “Julle is immers weergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Ons eerste geboorte was ‘n geboorte van die natuurlike liggaam. ‘n Natuurlike liggaam verouder en sterf af. Soos ‘n pragtige blom net ‘n tyd lank bestaan is dit ook met ‘n mens die geval. Jy blom vir ‘n tyd en dan word jy ook oud. Orals in die Bybel, vanaf die toringbou van Babel in Gen 11 tot met die groot Babilon in Open 17-18 het die mens se pogings tot ewige heerlikheid gevaal.

Ons tweede geboorte was ‘n geestelike geboorte, die wedergeboorte deur die Heilige Gees.
As ons eenheid in die kerk wil bou ons fisiese en natuurlike sake en middelle, sal dit faal.
As ons eenheid in die kerk egter bou op die eenheid van ons wedergeboorte, sal dit groei.

Elke ware gelowige het dieselfde Heilige Gees wat in hom/haar woon en werk. Rom 8:9
“Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.”
• Alle christene het net een Vader. 1 Petr 1:17
• Daarom is ons een groot Geestelike Familie.
• Daarom moet ons mekaar as broers en susters, ongeveins lief hê, vurig liefhê.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com