Baie van ons het al vergeet wat dit beteken het om ons geloof te bely in die openbaar. Geloof het ‘n baie private saak geword. Dit is iets vir die binnekamer. Ons besef ook nie altyd hoe groot voorreg dit is om in die kerk groot te word, en nog altyd die binnekant van die kerk te ken nie! Ons is eintlik so gewoond en bekend met al die gebruike, dat belydenis en doop en nagmaal nie meer so spesiaal is nie. 

Tog is daar iets aangrypend en uitsonderlik in openbare belydenis. 

In Matteus 10:32 sê ons Here Jesus: “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. 33Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” 

Hierdie is aangrypende woorde. ‘n Tweesnydende swaard. Bely of verloën. Alles of niks. Lewe of dood. 

Belydenis is ‘n saak van verlossing. Dit is nie maar ‘n rand saak, ‘n middelmatige saak nie. Vir die belydenis van hulle geloof in Jesus Christus het menige gelowiges deur die eeue hulle lewens verloor. Vir hulle geloof en belydenis word daar vandag nog Christene oor die wêreld heen vervolg. So het ons ook die afgelope Sondae die aangrypende verhale gehoor van die vervolgde kerk. 

Vandag het ons weer so wonderlike voorreg om jong mense te sien wat hulle geloof in Jesus Christus voor die mense bely. Hierdie belydenis bring ook ‘n geweldige groot verantwoordelikheid daarmee saam. Nou moet jy jou belydenis uitleef. Jy moet doen wat jy sê. 

Daarvan is ook u as gemeente getuies. U dra ook ‘n verantwoordelikheid om hierdie jong mense te hou aan hulle woord. Om hulle deel te maak van die gemeente, om hulle te ontvang as broers en susters in Christus. 

Mag hierdie dag ook weer nuwe vreugde in u hart werk. Mag u weer u eie belydenis ter harte neem. 

9Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en jy glo met jou hart dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. 10Want met die hart glo ons, en word so regverdig verklaar; met die mond bely ons, en word so verlos. 11Die Skrif sê tog: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” Romeine 10:9-11 

Lourens (vdm)