Skriflesing: Rom 8:22‑30 en 31‑39
Teksvers: Rom 8:28
Ons leef in ‘n aksie/spanningsvolle tyd. Dinge is aan die gebeur. Mooi dinge en ook vreesaanjaende dinge: Ons hoor byna daagliks van oorloë en die verskrikkinge daarvan. Ook hier by ons is daar die bloedvergieting en
geweld en misdaad. Van besoedeling tot die pestilensies van ongeneeslike siektes, van kindermolestering tot gruwelike korrupsie, van misdaad tot openbare geweld, van valse profete tot ondermyning van alles wat Christelik is, van die selfsugtige eie ‑ ek wat net roem vir homself soek tot magspel van die politici en geldmagnate van ons tyd. En dan is daar nog die daaglikse katastrofes van u persoonlike lewe… Wat hou dit alles nog vir ons en ons
kinders in?