“Spurgeon, ’n beroemde Engelse prediker, (1834 –1892), het treffend teen die Arminianisme, ook bekend as die Remonstrante van die 16de-17de eeu gereageer deur hulle dwaalleer uit te wys. Hulle hang die leer van die vrye wil van die mens aan, asof God van ons besluite en wil afhanklik is, en asof dit in die geloof slegs maar om elkeen se persoonlike en individuele verhouding met God gaan. Hiervan het hy gesê: dis ‘n mooi godsdiens, soos ‘n beskilderde bootjie op ‘n spieëlgladde meer, maar in tye van krisis het ons die Calvinisme nodig.
Hoekom sou dit so wees? Omdat dit vir ‘n gereformeerde Calvinis om die vervulling van sy roeping oor die hele spektrum van die lewe en samelewing gaan, en nie meer net om sy eie persoonlike saligheid nie. Dit gaan om roeping.
Die kerk (ekklesia) beteken uitgeroepenes; geroep deur die Woord en Gees tot ‘n gemeenskap van gelowiges. Ons is geroepe uit die duisternis tot die wonderbare lig, lees 1 Petr 2:9. In die Ou en Nuwe Testament word hierdie volk van God aangespreek as geroepenis. Geroep tot diens in die koninkryk van God in hierdie wêreld. Ons sê dat ons in die Calvinistiese tradisie staan. Dit beteken nie dat ons volgelinge van ‘n mens is nie, maar dat ons grotendeels vanweë sy insigte onsself aan God en sy Woord gebonde ag.” (Du Plooy. Die Kerkblad. Mei 2009:15)
Dit is baie belangrik dat ons werklik kerk sal bly. Om kerk te bly beteken om EENSGESIND God te bly aanbid. Ons moet as Gereformeerdes werklik biddend God se wil in die Bybel soek en Hom daarvolgens dien en aanbid. Ons moet opnuut ons beloftes en voornemens wat ons tydens die belydenis van ons geloof gedoen het, nakom. Ons moet ywerig saam met die gemeente, een van gees, God aanbid. Moet daarom nie kerkvreemd word nie! Moet nie ophou om saam met die gemeente God te aanbid nie. As jy gesond is en nie onderliggende siektes het nie, kom ywerig saam om God te dien. Soli Deo gloria! – Aan God alleen die eer.
Ds. Gerrit