Die krag het nou-net afgegaan. Ek bel die bure. Ja, hulle krag is ook af. Ek bel nog iemand in ‘n ander deel van die dorp. Hulle het ook nie krag nie. En daar sit ons nou met die halfgebakte pere. Die radio wat gelukkig met batterye werk laat hoor so ‘n uur of wat later van die kragkrisis. Eskom het probleme. Almal het nou probleme: ons het nie genoeg krag nie! Dit dreig om ‘n nasionale krisis te word, al sê die minister ook wat.
Skielik besef ek hoe afhanklik ons geraak het van iets wat ons as vanselfsprekend begin aanvaar het. Jy druk mos net ‘n knoppie, en siedaar… die ligte werk! Nooit gedroom dat ons weer in donker Afrika sou wees nie. En nou is dit so. Ons krag is te min. Gereeld sal ons sê: Ons het nie krag nie. Laat my toe dink hoe ons eintlik as mense ook maar nie krag het as dit nie van bo gegee word nie! Ons lewenskrag kom immers nie uit onsself nie. Eintlik is ons maar “net kleipotte wat maklik breek… die krag wat alles oortref kom dus van God, nie van ons nie” skryf Paulus (2 Kor 4:7). Krag wat alles oortref! In die voorafgaande verse gaan dit juis oor Christus wat in ons harte woon en daar skyn met die lig van die heerlikheid van God. Ons is “mense van die lig” omdat ons Christus het wat “die Lig vir die wêreld” is! In sy lig sien ons die lig (Ps 36:10). Deur sy krag en genade leef ons en beweeg ons en is ons!
Tog het ons al so in die gewoonte gekom dat die Here krag gee, dat ons dit ook maar as vanselfsprekend aanvaar het. Natuurlik gee God aan ons die nodige krag vir elke dag. Dit is sy genade. Juis in ons swakheid kom sy krag in ons beter sigbaar na vore. Dan kom al die eer ook Hom toe wat ons die krag gee. As ons te veel op eie krag sou staatmaak, dan maak Hy ons weer bewus van ons swakheid (deur beproewing of teenspoed) sodat ons kan bely: “As ek swak is dan is ek sterk” (2 Kor 12:10).
Ons het nie krag nie!
Ja, dit is waar die Here ons wil bring. Ons het self nie krag vir die lewe en sy aanslae nie. Uit daardie besef groei die gebed: Here gee ons krag! Gee vir elke dag die genadekrag wat ons nodig het. En vergewe ons as ons dit dikwels as vanselfsprekend aanvaar het. Ons prys U, want U is ons lewe! U gee krag na kruis. U skenk ons alles wat ons nodig het om te lewe en u te dien (2 Pet 1:3).
Al gaan die krag dus af. Vir my en my bure en ook vir u elkeen is daar krag by die Here te vinde… ja, ook hier in donker Afrika!
Ds Maarten