Wat is in die lewe van ‘n gelowige noodsaaklik, terwyl dit terselfdertyd sleg en onaange-naam mag wees?
Spreuke 10:17 sê: “Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.” Ja dit is verseker nie maklik om iemand tereg te wys nie, om nie eens daarvan te praat om self deur ander tereg gewys te word nie.
Teregwysing is noodsaaklik vir elke gelowige, maar dit is ook baie moeilik om tereg gewys te word.
So maklik sien ons die verkeerde in ander mense se lewens, maar dit is moeilik om die verkeerde in my eie lewe raak te sien en te erken. Nog moeiliker as iemand gedring deur die Heilige Gees met my kom praat oor verkeerde dinge in my lewe.
Dit is so belangrik om iemand wat gesondig het, en op ‘n dwaalpad is, te vermaan. Verma-ning en bemoediging word altyd saam gedoen. Soms is daar meer aanmoediging nodig as vermaning en soms is dit net anders om. Die een kan egter nie sonder die ander gebruik word nie.
Ons vermaan mekaar en stel onsself oop vir vermaning, omdat ons mekaar nie net kan oorlaat aan ons eie lot nie. Dán sal ons verlore gaan.
Vermaning hou egter in dat ons dit in ‘n gees van sagmoedigheid sal doen. So sê Galasiërs 6:1: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in ver-soeking kom.”
Verder sê Hebreërs 12:11 vir ons: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug, naamlik vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”
Mag jy met ‘n sagte hart ander gelowiges vermaan en mag jy deur die werk van die Heilige Gees jouself oopstel om self in liefde vermaan te word.
Ds Paul