Nehemia is bekend daarvoor dat hy op ‘n merkwaardige wyse die mure van Jerusalem kom help herbou het. Na die terugkeer uit Babel se ballingskap, was die herstel maar baie stadig. Onder Serrubabel het die ballinge stadig gevorder met die herstel van die tempel. Deur die aanmoediging van Haggai en Sagaria het dinge weer gevorder, veral onder leiding van Esra die priester.

Maar die stadsmure het steeds stukkend gelê bykans 50 jaar na die terugkoms. As Nehemia inspring en leiding neem, dan word die mure in ‘n rekordtyd van 52 dae herstel, sodat selfs Nehemia se vyande erken: dit was ‘n werk van die Here.

Min mense besef egter die belangrike sosiale herstel wat Nehemia gebring het. Die uitbuiting van die armes deur die ryk en adelike mense is weer reggestel. Die priesters en leviete is weer in hulle poste terug herstel en die tiendes weer ingevorder.

As Nehemia noodgedwonge terugkeer na Babel, waar hy as skinker van die koning opgetree het, dan is die verval net so vinnig. Ons lees dan in die laaste hoofstuk, as Nehemia weer terugkom na Jerusalem, dat hy weereens die volk moet suiwer van hulle verval.

Weer moet hy begin by die tempel en die priesterlike diens waar daar spesiale voordele aan sommige gegee is. Tobia word met al sy huisraad uit die voorraad kamers gejaag en die tiendes weereens herstel.

Alle handel word verbied op die Sabbat en die poorte van die stad word gesluit. As die handelaars opdaag om op die Sabbat hulle goedere te verkoop, word hulle weggejaag.

So ook word die ondertrouery met die heidense volkere verbied en die vreemdes word weggejaag. As Nehemia vermeld dat die kinders so vervreemd geraak het deur hierdie ondertrouery dat hulle nie eers meer Joods kon verstaan nie, sê hy: “Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie…” Neh. 13:25

Telkens, by hierdie hervormings pleit Nehemia: Dink aan my, my God! Nehemia verstaan iets wat ons baie maal vergeet: Hoe geduldig God met ons sondes is. Hoeveel keer moet ons nie van ons sondes bekeer en weer afsien van ons sonde nie! Hoeveel keer verval ons nie maar net weer terug in die gewoontes van die verkeerde nie.

Maar meer nog: hoeveel van ons is werklik besig met die werk van die koninkryk. Ons sal eerder pleit, Here moet tog nie aan ons verkeerde dade dink nie. So kan ons ook leer om ons geloofsarbeid aan die Here op te dra. Die Here vergeet nie die goeie werke van die gelowiges nie, nee, dit het ewigheidswaarde. (Op. 14:13)

Ds Lourens (vdm)