Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 39 of 268

Oordenking 9 Maart

Die volmaakte bouplanne vir die volmaakte huis.

Donderdag 9 Maart 2023
Lees: 1 Petr 2:2-2:10 ‘83 “4 Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. 5 Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. 6 Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”

Ek het gelees van ‘n groot boukontrakteur wat ‘n dubbelverdieping huis gebou het. Hy het ‘n subkontrakteur gekry wat die steenwerk moes doen. Die eienaar van die huis het die bouplanne ‘n paar keer gewysig. Toe hulle die eerste verdieping klaar gebou het, het alles goed verloop, maar met die tweede verdieping wou niks werk nie. Na ‘n lang ruk het hulle agtergekom hulle het twee verskillende stelle bouplanne. Toe hulle die oue weggegooi het, het die bouwerk sonder probleme verder gevorder.

So is dit dikwels met die kerk van die Here. Die bouplan vir die kerk is die Woord. Daarom moet die Woord noukeurig bestudeer word en ons moet daarvolgens die geestelike bouwerk van die kerk doen.

Hoekom is daar dan soveel verskillende kerke, denominasies? Dit is sekerlik omdat alle christene nie die “Bouplan” dit is die Woord biddend, in afhanklikheid, in gehoorsaamheid, in totale onderworpenheid aan die Woord lees nie. Daar is net een Verlosser Jesus Christus en daar is net een geestelike gebou en dit is die ware kerk.

“Wat was ‘n sluitsteen in ou geboue, en wat ‘n hoeksteen? Wanneer ‘n boog gebou is, soos by ‘n poort of selfs ‘n brug, was daar ‘n wigvormige steen in die middel wat skuins na beide kante
toe gekap was. Dit voeg dan die twee dele van die boog van weerskante saam tot ‘n eenheid. Hierdie steen as sentrale fokuspunt van die boog, was dikwels versier. Sonder hierdie steen
tuimel die twee dele van die boog ineen. Paulus en Petrus sê dat Jesus hierdie SLUITSTEEN is.” (https://bybelverskille.wordpress.com/2019/02/26/155hoeksteen/)

“Maar wat was dan ‘n “hoeksteen”? Dit was ‘n groot, perfek gekapte steen wat as deel van die fondasie van die gebou heel eerste op die hoek in presiese plek geplaas is. Al die afmetings en rigting van die mure van die gebou is dan van hierdie hoeksteen geneem sodat die hele gebou haaks en perfek gebou kon word.” (https://bybelverskille.wordpress.com/2019/02/26/155hoeksteen/)

In Ef 2:20 lees ons “Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ‘n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.”

Jesus Christus is beide die Hoeksteen en die Sluitsteen. As ons vanaf Jesus Christus werk as die Verlosser en die Hoof van die Kerk, as ons die Woord volg as die volmaakte bouplanne van die kerk, as ons die bouwerk biddend onder leiding van die Heilige Gees doen, as ons alles doen tot eer van God die Vader, dan sal die kerk waarlik die lewende geestelike gebou wees wat Jesus Christus self van gesê het in Mat 16:18 dat die poorte van die doderyk sal die kerk nie oorweldig nie.

Geliefdes maar ons moet ons volgens 1 Petr 1:5 die volgende laat welgeval: “Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.”
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 6 Maart

Alle christene is een familie

Maandag 6 Maart 2023
Lees: 1 Petr 1: 22-2:3 ‘83 “22 Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê. 23 Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Die voorreg van ‘n familie. Dit is ‘n baie groot voorreg om in ‘n familie gebore te word waar daar liefde en respek en omgee vir mekaar is. Om ‘n pa en ma te hê met broers en susters wat vir mekaar omgee is ‘n genade van God. Om deel van so ‘n familie te wees waar julle mekaar werklik liefhet vul jou met groot dankbaarheid en blydskap.
Hoe word jy deel van so ‘n gesin of familie.
Eerstens deur ‘n pa en ‘n ma uit wie jy gebore word.
Tweedens as jy ‘n wettig aangenome kind van so ‘n familie is.

Elke ware christen is deel van so ‘n besondere familie. Ons almal wat werklik in Jesus Christus glo en Hom liefhet en dien, is deel van die gesin van God. Ons is deel van die geeste-like familie. Ons is broers en susters deur ons Here Jesus Christus. God is ons Hemelse Vader.
Hoe word jy deel van die geestelike gesin van God?
Eestens en laastens deur die wedergeboorte.
Hierdie wedergeboorte word duidelik aan ons beskryf in Joh 3:1-16.
Jy word deur die Heilige Gees wedergebore om te kan glo in ons Here Jesus Christus as ons Verlosser en ons Koning. Soos daar twee ouers nodig is om fisies gebore te kan word, is daar by die wedergeboorte die Heilige Gees en die Woord.
1 Pet 1:23 “Julle is immers weergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God.”

Ons eerste geboorte was ‘n geboorte van die natuurlike liggaam. ‘n Natuurlike liggaam verouder en sterf af. Soos ‘n pragtige blom net ‘n tyd lank bestaan is dit ook met ‘n mens die geval. Jy blom vir ‘n tyd en dan word jy ook oud. Orals in die Bybel, vanaf die toringbou van Babel in Gen 11 tot met die groot Babilon in Open 17-18 het die mens se pogings tot ewige heerlikheid gevaal.

Ons tweede geboorte was ‘n geestelike geboorte, die wedergeboorte deur die Heilige Gees.
As ons eenheid in die kerk wil bou ons fisiese en natuurlike sake en middelle, sal dit faal.
As ons eenheid in die kerk egter bou op die eenheid van ons wedergeboorte, sal dit groei.

Elke ware gelowige het dieselfde Heilige Gees wat in hom/haar woon en werk. Rom 8:9
“Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle.”
• Alle christene het net een Vader. 1 Petr 1:17
• Daarom is ons een groot Geestelike Familie.
• Daarom moet ons mekaar as broers en susters, ongeveins lief hê, vurig liefhê.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Vergifnis vra en vergifnis gee!

Skriflesing: Lukas 7:47; Psalm 51 
Teksvers: Lukas 7:47 
HK Sondag 51 

Die VYFDE BEDE is die onmisbare verootmoediging wat God ons in sy teenwoordigheid leer. Die Kategismus het immers drie dele, waarvan die eerste en kortste deel (Son 2-5) handel oor ons kennis van ons eie sonde en ellendigheid. 

Voordat jy nie eerlik by jou eie sonde gaan staan en met ‘n gebroke hart voor God belydenis doen nie, sal die nood-saak en erns van vergifnis en verlossing in Christus ook nie by ons posvat nie. Omgekeerd is dit egter wel waar en troosvol en lei dit tot groter liefde teenoor God en veral ook teenoor ons naaste, ja soveel dat ons werklik meer en meer probeer om te vergewe soos God vergewe

Die Laaste Adam is Lewe

Skriflesing: 1 Korintiërs 15:1-58 
Teksvers: 1 Korintiërs 15:45 

In die Moederbelofte het ons gehoor van die ewige vyandskap tussen die nageslag van Eva en die satan. Daardie profesie getuig van lewe na die dood. Dit is die hoop van die belofte soos vermeld in Handelinge 24:15 et al. Uit die natuurverbond het ons die behoud van Noag gesien, hoe die Here rus gee aan die natuur vanweë die sonde van die mens en die heerlike teken van die reënboog. By Abraham het die Here sy genade bevestig, en Abraham vrygespreek op grond van sy geloof. Hy het ook die teken ontvang deur bloed in die nageslag, sowel as ‘n land om in te woon. 

Hierdie beloftes is herbevestig by Isak, Jakob en Moses. Die wet dien as grondwet van die koninkryk en getuig van God se verlossing en gemeenskap. Dit word bevestig deur Josua en later ook Dawid. Vanoggend wil ons graag stilstaan by die gewaarwording van hierdie ewige genadeverbond waaraan ons en ons kinders deel kry in Christus, die laaste Adam. 

Coram Deo

Hier staan ek, ek kan nie anders nie, mag God my help” So lui die bekende woorde van Luther op die Ryksdag van Worms. Dit was nie soseer die Keiser of die Pous wat Luther tot hierdie getuienis gebring het nie, maar die Woord van God en die werking van die Heilige Gees wat sy gewete gebind het aan die Waarheid! 

Tydens die afgelope week se 5de sessie van die Pastorale Versorgingskursus, was die tema: Coram Deo. Dit beteken: voor die aangesig van God. Elke mens moet voor die aangesig van God staan, en jou verantwoord oor jou optrede. 

Soos Luther, word ons nie net gedaag voor ‘n regter nie, maar voor die Regter. So het gelowiges deur die eeue heen, soms fisies voor God gestaan en beloftes ontvang of opdragte gekry. Wanneer ons as gemeente op die “Jom Jahwe”, die dag van die Here bymekaar kom, dan staan ons ook Coram Deo. Eerskomende week gaan ons die Nagmaal van die Here gedenk, deur saam aan die tafel van die Here deel te kry. 

In die Nagmaalsformulier word dit eksplisiet voorop gestel dat elke gelowige hulleself waarlik moet self ondersoek, dit is dat elkeen sy/haar: 

1. denke ondersoek: dink na oor jou sonde en vervloeking 

Reaksie: verootmoedig jou voor God 

2. hart ondersoek: Glo jy die vaste belofte van God 

Reaksie: Slegs Christus kan jou sondes vergewe en God se geregtigheid skenk 

3. gewete ondersoek: Wat is jou voorneme van vergifnis 

Reaksie: Bewys dank aan God en leef opreg deur te vergewe en jou naaste lief te hê 

Stel jouself op die proef, of soos Paulus aan die Korintiërs skryf in 2 Kor. 13:6 “Ondersoek jouself of jy uit die geloof is” Mag jy in die spieël van God se wet kyk en sien dat jy sonder Christus niks is nie. Kom dan na die Nagmaal, haastig, kruisig jou ou sondige natuur saam met jou Verlosser, sodat jy saam met Hom begrawe kan word in die dood van die sonde. Staan dan op, en leef in ‘n nuwe lewe, deur die krag van Sy sterkte Coram Deo… 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »