Vyf bestandele vir geloofsvolharding

Skriflesing: Hebreërs 10:32-29; 12:1- 3; 4-12
Teksvers: Hebreërs 12:1-3

Die brief/preek aan die Hebreërs, die gemeente van gelowiges in Rome, is geskryf tot aanmoediging om in die geloof te volhard.

Hier neem die skrywer/prediker die beeld van ‘n wedloop. Die taak is op ons gelê om aan die wedloop deel te neem en dit te voltooi. Die veronderstelling van die teksverse is dat ons die wedloop kan en gaan voltooi. Soos ‘n goeie atleet moet ons deelneem en die regte stappe neem sodat niks ons verhinder om die wedloop te voltooi nie.

In die gedeelte word iets van ‘n wenresep deur ons Hemelse Afrigter aan ons voorgehou. Stel jouself die prentjie voor en hou by die raad van jou Afrigter, “dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie”.

Laai af

Trane word vreugde

Skriflesing: Jeremia 31 en Matteus 2
Teksvers: Jer 31:15,16 asook Matteus 2:18

In Matteus 2: 16-18 word vertel dat Herodes, toe hy agtergekom het dat die sterrekykers hom in die steek gelaat het, woedend geword het. Daarom het hy sy soldate na Betlehem en die hele omgewing gestuur om al die seuntjies van twee jaar en jonger dood te maak. So het die profesie van Jeremia 31:15 in vervulling gegaan. Daar staan dat daar ’n gekerm vanuit Rama gehoor was, ’n gehuil vol hartseer, want Ragel treur oor haar kinders, sy wil haar nie laat troos nie, want haar kinders was nie meer daar nie.

Teenoor die hartseer van Ragel het die Here egter volgens Jeremia 31:16 gesê dat die treurendes gerus maar stil kan word. Hulle hoef nie meer te huil nie en hulle hoef ook nie meer trane in hulle oë te hê nie! Die Here belowe dat daar teenoor al die swaarkry, ‘n heerlike verwagting sal wees. Die spreekwoordelike kinders van Ragel sal uit die vyand se land terugkom. Ja daar sal ’n toekoms vir haar nageslag wees.

Wat is dit wat Ragel se diep seer, wat sy in Rama ervaar het, in vreugde sal laat kan verander?

Hoe kan daar vreugde in jou lewe wees ten spyte van seer en swaar?

Laai af

Om die Here in Kersfees raak te sien

Skriflesing: Joh1:1-34; Joh 3:3; Eks 33:14 tot 34:10
Teksvers: Joh 1:14

Ons teksvers is seker een van die mees dramatiese woorde wat ooit in die wêreld uitgespreek of gehoor is. Niemand het dit nog ooit voorheen gesê of geskrywe nie en niemand het dit nog ooit weer nagedoen nie. Uniek is dit dus daarin dat die (af)gode van die mensdom nooit so iets sou doen nie. Hulle is té verhewe (transendent) en te magtig en groot en vér. Dit is juis dáárin dat die God van die Bybel, die enigste ware en lewende God, Skepper van hemel en aarde en alles daarin en daarop, so anders is. Daarom dat hierdie stelling van ons teks en die openbaring wat daarin na vore kom so dramaties-uniek en aangrypen-troosvol is. Om die waarheid te sê, dink ek dat dit juis die doel van die hele Godsopenbaring was en is: God maak Homself bekend aan mense en die hele skepping as die God van goedheid en genade. Hy is een wat haastig is om gena-dig te wees en sondes te vergewe. Die vraag is vandag of jy en ek soos Moses en die dissipels in staat is om dit raak te sien…

“As iemand nie weergebore word nie… kan hy…nie sien nie” (Joh 3:3)

Laai af

Ons Koinonia moet tog asseblief net aanhou!

Skriflesing: I Tess
Teksvers: I Tess 4:1 en 10

Ons sluit vandag die jaartema vir 2018 af. Die bedoeling met ons tema, “Ons gee om”, was om die gemeente te leer en te herinner om ware ‘koinonia’ (gemeenskap van die heiliges in die liefde en omgee vir mekaar) te beoefen. So het ons dan die tema op ons jaarprogram gehad en gereeld daaroor gehandel in ons prediking en toerusting van die gemeente. Ons kon uit die Woord van die Here leer wat dit is om mekaar lief te hê, soos Christus ons liefhet.

Paulus skryf aan die Tessalonisense om hulle te herinner aan ware koinonia, die broederliefde (Gr: filadelfia), soos hy dit noem. Die apostel is besorg oor die kerk dat hulle hul geesdrif sal verloor soos die tyd aanstap. Ons wil mekaar vanaand in die Woordbedie-ning en by die Nagmaal herinner aan die ware broederliefde wat ons met volharding en toewyding moet aanhou beoefen, ook nou dat daar ‘n nuwe jaartema aangekondig is.

Laai af

Jesus Christus is die Brood wat die ewige lewe gee

Skriflesing: Joh 6:22-40
Teksvers: Joh 6:35

Hoekom gebruik jy nagmaal? Is dit blote gewoonte of is jy werklik geestelik honger, en wil jy werklik versterk word met die ewige brood en die lewende water? Die Jode het ‘n wonderteken gesoek. Hulle wou sien en ervaar as voorwaarde voordat hulle sou glo. Hulle vra ook: “Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”

Hulle het so pas die vermeerdering van die brood beleef, met vyf brode en twee vissies het Jesus meer as 5 000 mense gevoed en daar het twaalf mandjies oorgebly. Hulle wil nog ‘n wonderteken sien en hulle sou iets vir God doen.

Hulle moet egter niks doen nie, maar hulle moet glo in God en in Jesus Christus as die Seun van God. Om nagmaal te gebruik is ‘n daad van geloof, van erkenning dat Jesus Christus vir my sondes betaal het aan die kruis, sonder enige verdienste van my kant af.

Laai af

Speel jy ook Morabaraba?

Skriflesing: Johannes 18 en 19
Teksvers: Johannes 19:1-3;14

Elders in ons nuusbrief vind jy die reëls vir die spel wat ons as kinders Meul genoem het. In my jong dae was dit veral die swartmense wat op straat hierdie spel gespeel het. Die doel was om die ander persoon te onttroon deur ‘n spel wat nogal vinnig gespeel word. Die swartmense speel dit nog deesdae gereeld en noem dit Morabaraba.
Die spel is egter donkiejare oud. Met ons toere deur die Bybelse lande het ons op ‘n paar plekke hierdie spel op die sypaadjies van die ou Romeinse stede uitgekrap gesien. Onder andere is daar so ‘n bordspel uitgekrap in die Fort Antonio, waar Pilatus se soldate hulle tyd met hierdie spel verdryf het (vlakby Gabbata, die Plaveisel). In daardie tyd is die spel in Grieks Basileus genoem, en word vry vertaal as die Konings-spel (The King’s Game). U kan seker u indink dat daar nogal heelwat geld met hierdie tydverdryf weggedobbel is.
Miskien speel ons vandag nog gereeld hierdie spel ten koste van die Here!?

Laai af