“Smaaklike ete”

Daar sit meer in ‘n heerlike ete as bloot net ‘n smaaklike ete. Het jy al deur die Bybel geblaai om te kyk na al die etes wat in die Ou- en Nuwe Testament beskryf word? Ons kan byvoorbeeld dink aan die heerlike kos wat voorberei was in die lewe van Abraham, Isak en Jakob. So kan ons dink aan die etes wat voorberei is in die tyd van Josef. Josef het byvoorbeeld by geleentheid die drome van die Farao uitgelê wat oor kos gehan-del het. Josef het selfs etes vir sy broers voorberei. Ons kan dink aan die offers wat die Here voorgeskryf het, waar die gesin saam geëet het. Verder die instelling van die Paasfees met die Paaslam, met al die simboliese betekenis wat daarin opgesluit is. Dink aan Jesus wat soveel wonders gedoen het rondom kos. Byvoorbeeld die eerste wonder waar water in wyn verander is op ‘n troue en by ʼn ander geleentheid waar broodjies en vissies genoeg was om ‘n menigte mense te voed. Dink aan die gelykenisse wat Jesus vertel het wat rondom kos gegaan het. So kan ons dink aan die etes wat Jesus saam met gelowiges en ongelowi-ges, vriend en vyand gehad het. Dink aan Petrus wat die visioen gehad het met die onrein en rein diere waar die Here aan Petrus opdrag gegee het om dit te eet. Verder het Jesus die nagmaal ingestel wat van-dag nog deur ons gevier word. Ook Sy belofte dat ons eendag in die ewigheid saam met Hom by die brui-lofsmaal sal gaan aansit.

Dit is juis met hierdie ewige feesmaal in gedagte dat ons onder andere na Jesaja 25:6-9 kan gaan kyk. Dit is Jesaja wat onder leiding van die Heilige Gees hierdie woorde aan Israel rig. Dit is nie net die Jode nie, maar alle volke wat hulle troos en redding by die Here soek, wat by die feesmaaltyd sal gaan aansit wat op die Sionsberg deur die Here die Almagtige gereed gemaak sal word. Hoor net hoe wonderlik hierdie fees sal wees wat deur die Here voorberei gaan word: Dit sal ’n feesmaal wees met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn. Die wat in Jesus Christus glo, sal die begenadigdes wees wat werklik sal kan verstaan dat die sluier oor hulle oë verwyder sal word. Hierdie fees is daarop ingestel om die oorwin-ning oor die dood te vier. Ons vier fees omdat Jesus Christus die dood doodgemaak het vir sy kinders. Dit is die Here God wat die dood vir ewig sal vernietig, en die trane op almal se gesigte sal afvee. Wat ‘n fees-vreugde dat die Here die smaad sal verwyder wat sy kinders ervaar het op aarde. Hierdie feesmaaltyd hou in dat elkeen wat by die feesmaaltyd is, sal kan getuig dat dit ons God is wat hierdie wonderlike dinge gedoen het. Hy is immers ons God op Wie ons vertrou het. Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het.

Daar is ‘n rede waarom mense saam eet. Dit hou in dat iets of iemand hierdie besondere groep mense saamgebind en saamgebring het. Vandag nog, is die saam met mekaar eet, vir ons as Christene iets beson-ders. Die nagmaal, die gemeenskaplike maaltye en etes saam met familie en vriende is vir ons meer as net ‘n blote ete. Medegelowiges wat mekaar in die Here vind en saam eet, maak iets bekend van hulle geloof in die gemeenskap van gelowiges. Ons saam eet, hou ook in dat ons mekaar graag werklik in Jesus Christus wil ontmoet en leer ken. Kom gerus, daar is vandag na die nagmaal, ‘n gemeenskaplike maaltyd waar jy jou liefde vir die Here en vir jou medegelowiges verder sal kan kom beleef.

Ds Paul

Is dit waar? Is dit mooi? Is dit noodsaaklik?

Ons gemeente het soveel wonderlike geleenthede. God seën ons met soveel mooi gelowi-ges wat lief het en omgee. Soveel wat met sagtheid met medegelowiges werk wat seer het.

Die teendeel kan ook waar wees. Kan jy dalk dink aan iets wat jy onlangs óór of vír iemand gesê het wat negatief was? Dit kan onnadenkend wees, of dit kan doelbewus wees. Tog weet ons dat die Here ons as geloofsgemeenskap oproep om teenoor mekaar en die wêreld positief te lewe. Waarom gebeur dit dat gelowiges mekaar soms so kan seermaak?

Waarheid sonder liefde, is tog nie die waarheid nie! Paulus roep ons op in Filippense 4:8 en 9 om te fokus op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is. Ja watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees, kom ons fokus ons gedagtes daarop. As ons doen wat die Here in sy Woord aan ons voorhou, dan sal God wat vrede gee, met ons wees.

Kan dit wees dat ek met my siening oor die waarheid en in die hantering van medegelowiges hulle dalk van die Here en die geloofsgemeenskap kan vervreem? Mag die Heilige Gees jou lei om met sagtheid te bemoedig, te vermaan en te vertroos. As dit nie waar is nie, as dit nie mooi is nie of as dit nie noodsaaklik is nie, bid dan eerder vir mekaar as om mekaar seer of verdag te maak.

Paulus waarsku ons telkens in sy briewe teen skeurmakery, verdeeldheid, afguns en jaloe-sie. So erg dat die gelowiges gewaarsku word dat hulle moet oppas dat hulle mekaar nie later sal verslind nie. Ons kan tog nie deel vorm van die spreuk: “Hond vreet hond” nie.

Die geloofsgemeenskap, ons tema vanjaar van “ons gee om” is deel van ons lewe om ‘n oog en ‘n oor en ‘n hart vir stukkende mense te kan ontwikkel.
Mag dit wees dat met dieselfde sagtheid wat die Here met jou werk, jy ook met ander sal werk. Mag jy eendag voor die Here staan en weet jy het gebou en nie afgebreek nie. Mag jy instrumenteel in die Hand van die Here wees om mense wat worstel, seer is, skaam, bang en bekommerd is te vertroos en toe te vou in die liefde van die Here.
Ds Paul

Vervulling met die Heilige Gees

Hoe word jy vervul me die Heilige Gees? Wat beteken dit om vervul te wees met die Heilige Gees?

“In die Nuwe Testament word daar nêrens aan die mense die eis gestel: word wedergebore of word met die Heilige Gees gedoop nie. Maar wel verneem ons telkens met betrekking tot die Heilige Gees ’n hele aantal bevele: “word vervul met die Gees” (Ef 5:18); “wandel deur die Gees” (Gal 5:16); “as julle deur die Gees gelei word” (Gal 5:18, voorwaardelik gestel); “wees heilig” (1 Petr 1:16).”
(Floor.1979:116)

God gee in Christus, uit vrye genade, aan al Sy kinders, sy lewendmakende Heilige Gees. Jesus Christus het ook aan ons geleer in Joh 14:16,17, “En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: 17) die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”

Ons moet onderskei tussen die “inwoning” en “vul” van die Heilige Gees. Die Heilige Gees word aan al God se kinders gegee, (Ef 1:13) die oomblik van wedergeboorte sodat hulle kan glo. Niemand kan uit eie inisiatief in God glo en die verlossing verkry as God dit nie aan jou gee of dit aan jou openbaar nie. (Gal 3:2) Daarom bly die Heilige Gees in al God se kinders.

Maar omdat ons die Gees ontvang het, die kosbare heilige geloof, moet ons ook groei in die geloof, in kennis en vertroue, Gal 3:2.

Daarom moet ons ook biddend die Bybel lees, en doelbewus van die sonde wegvlug en ons volmaak met die sake van God. In Psalm 19:14 leer ons: “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Om daarom met die Heilige Gees vervul te word, beteken dat ons elke dag biddend ons sondes moet bely, wegvlug van die sonde af, en in gehoorsaamheid ons aan God toewy in gedagtes, woorde en werke. Dan het die Gees ’n vrye werking in ons om ons te lei. Sodoende word ons ook elke dag deur God se genade gelei om ’n al heiliger lewe te lei en meer en meer met die Heilige Gees vervul te word.

Ds Gerrit

Kontra-Reformasie

Tydens die afgelope toer op die spore van die Reformasie het ek weer intens bewus geraak van die erns van die gereformeerde waarheid versus die dwalings van ons tyd. Behalwe die vyf Solas het ek weer die waarde van die Calvinisme besef en my liefde vir die gereformeerde leer is intens versterk.

‘n Mens het bewus geraak van die erns waarmee ons voorouers vir die waarheid gesoek en gestry het. Hulle was maar altyd in die minderheid teen die magtige Rooms-Katolieke Kerk, maar nooit skaam om op te staan vir alles wat hulle glo nie. Ek is weer besiel met ʼn nuwe lus en liefde vir die geskiedenis van die kerk en hoe die Here ons van die Roomse dwaling bewaar het.

Laat ons nie die fout begaan om te dink dat die Pous en Rooms-Katolieke Kerk altyd dinge stil en gela-te aanvaar het nie. Naas die openlike vervolging van die Protestantse ketters is daar in verskeie kerkli-ke vergaderings ingrypende besluite geneem om vas te staan in die Roomse beskouings. Ons praat hiervan as die Kontra-Reformasie. Later is die protestantse leer sinodaal vervloek!

Die Sinode van Trente het indringend op al die dispute ingegaan en oor byna 20 jaar (1545-1563), in drie hoofvergaderings sy dwalings herbevestig.

Daar is o.a. oor die volgende besluit (regstreeks teenoor die beginsels van die reformatore):

  • Die gelykwaardigheid van die apokriewe boeke met die kanonieke boeke van die Skrif.
  • Die Sakramente se saligmakende waarde en ook die nagmaaltekens wat werklik die liggaam en bloed van Christus word. Die beker word nie deur gewone lidmate gebruik nie,
  • Die selibaat van die geestelikes in diens van die kerk is goed vir die siel.
  • Besluite oor die huwelik as sakrament, en oor egskeiding wat hertrou onmoontlik maak.
  • Die interpretasie van die Bybel is die alleenreg van die pous (en hoogstens sekere kardinale wat hom kan bystaan)
  • Sinvolheid van aflate, ens.

In antwoord op hierdie sinodes volg die protestante weer met ‘n gereformeerde sinode wat nie alleen die Roomse dwaling nie maar ook die Armenianisme weerlê (in baie kort: Armenius en Pelagius maak ons saligheid afhanklik van die menslike keuse). Die Sinode van Dordrecht (1618-1619) bely die soe-wereiniteit van God. Ons kry uit hierdie Sinode die standaard Bybelvertaling van die Statenbijbel, ook die Dortse Kerkorde en die bevestiging van die Drie Formuliere van Geref Eenheid: Nederlandse ge-loofsbelydenis (NGB), die Heidelbergse Kategismus (HBK) en die Dortse Leerreëls ((DL).

Ons dank die Here wat volgens sy belofte sy kerk getrou deur al hierdie stormtye gedra en bewaar het.

Ds Maarten

Calvyn se Nagmaalstafel

Een van die grootste dorings in Calvyn se vlees in Genève was die Libertyne. Selfs nadat Calvyn vir meer as 15 jaar in St. Peter kerk in Genèvegepreek het, was morele verval oral aan die orde van die dag – selfs in die kerk. Vir die Libertyne het “gemeenskap van die gelowiges” (koinonia) beteken dat alles gedeel is – huise, besittings… en vrouens. Hulle was seksueel promisku in die naam van Christelike vryheid. Maar hulle wou nog steeds aan die Nagmaalstafel sit…
Die krisis rondom die Nagmaal het in 1553 tot breekpunt gekom. ‘n Welgestelde Libertyn genaamd Berthelier is deur die kerk verbied om aan die Nagmaal deel te neem, maar hy het by die Stadsraad appèl aangeteken teen die besluit. Die Stadsraad het die kerk se besluit omgekeer.
Dit het ‘n krisis vir Calvyn veroorsaak wat op geen manier ‘n Libertyn by die Nagmaalsta-fel kon toelaat nie. Sy beginsel was soos altyd – die glorie van God.
Op die dag het die Libertyne opgedaag om aan die Nagmaal deel te neem. Die preek was klaar en Calvyn het van die preekstoel afgeklim om die Nagmaal te bedien. Die Libertyne het opgestaan en in die rigting van die Nagmaalstafel beweeg.
Calvyn het sy arms om die brood en wyn geslaan en met ‘n harde stem uitgeroep:
“Hierdie hande kan julle verbrysel, hierdie arms kan julle afkap, my lewe kan julle neem, my bloed kan julle verspil, maar julle sal my nooit kan dwing om die tafel van my God te ontheilig nie”
Hierna het die Libertyne die aftog geblaas en die res van die gemeente het die sakrament in besonderse gewyde stilte gevier…
Ds Maarten

Die toepassing van die tug

In die kerk regeer Jesus Christus deur sy Woord en sy Gees. Dus is die toepassing van die tug die dissiplinering van die kerk deur Christus self. Die mense wat in leer en lewe afwyk word getug. Die tug is daar sodat sekere dele van Christus se liggaam (Christene) nie verlam word nie, maar ‘n gesonde lewende lid sal wees.

Die ouderlinge in die gemeente oefen Christus se gesag namens Hom uit. Die kerkraad het geen hoof behalwe Jesus Christus nie. Dit is dus een van die kerkraad se regeringspligte om die tug op afgedwaaldes toe te pas.

Die tug, saam met die evangelie, is praktiese sleutels tot die koninkryk. Dit kan die hemel vir iemand oopsluit (as die persoon hom bekeer) of toesluit (as die persoon hom nie bekeer nie en afgesny word). Die doel van die tug is drieledig: Die eer van God, die opbou/suiwering van die kerk. Die tug moet altyd in liefde bedien word. Daarom word soms gepraat van die tug as “die bediening van die versoening”.

Maar, eerstens moet die tug nie net deur die kerkraad toegepas word nie. As iemand teen jou persoonlik gesondig het, moet jy hom eers alleen aanspreek. As hy nie wil luister nie, moet jy weer gaan, maar dié keer met getuies saam. As hy/sy dan nie wil luister nie moet jy dit aan die gemeente (kerkraad) bekend maak. (Matt 18: 15 – 17).

Tydens die tugtiging van ‘n persoon moet die persoon van die sakramente (Doop en nag-maal) afgehou word (Kerkorde Art. 76). Daar word dan ook drie afkondigings aan die ge-meente gemaak. Daar kan ‘n hele tydperk tussen die afkondigings verloop. (Kerkorde Art. 77)

  1. Maak die saak aan die gemeente bekend, sonder om die persoon se naam te noem, en vra dat die gemeente vir hom moet bid.
  2. Maak die saak bekend en noem die persoon se naam.
  3. Finale afsnyding. (Daar is ‘n formulier hiervoor agter in jou psalmboek)

Die doel van die tug word gereeld misverstaan en mense bedank die kerk vanweë hulle onkunde. Ten eerste is die tug ‘n liefdeshandeling vanaf God (Spr 3:11,12), toegepas deur ‘n persoon of die kerkraad. Verder is dit daar gestel om die sondaars te red wat afgedwaal het en om die gemeente heilig te hou. Maar op die ou end is dit alles net tot die eer van God

Ds Maarten