Katkisasie – Verbondsonderrig aan ons kinders

Lees Luk 1:1-4; 2 Tim 3:10-17; 2 Pet 1:20,21

Die woord katkisasie is welbekend in gereformeerde kringe. Dit kom van ’n Griekse woord “katecheu”. Alhoewel ons met katkisasie grootword, vergeet ons maklik die belangrikheid en doel van katkisasie. Katkisasie is om uit die Skrif onderrig te word. Dit is om die Bybelse waarhede uit die Skrif te ken.

Hierdie Bybelse waarhede is om God te ken soos wat Hy homself in die Skrif openbaar, om te leer hoedat God wil hê dat ons in gehoorsaamheid tot sy eer moet lewe. Ouers is verplig om hulle kinders op te voed en te leer en te onderrig in die Bybel.

Dit is eerstens die ouers se plig. Tweedens is dit die Kerkraad se plig. Daarom lees ons ook die volgende op die webwerf van GK Centurion: “Die katkisasiekommissie se doel is om die reëlings te tref rondom katkisasieonderrig.” Dit behels die praktiese reëlings wat nodig is sodat onderrig aan die dooplidmate kan plaasvind. In die doopsformulier word daar verwys na “onderrig en laat onderrig”.

Die kommissie sien toe dat die gedeelte “laat onderrig” gepas en toereikend gedoen word. Soos nodig, doen die kommissie verslag aan die kerkraad oor die werksaamhede. Dit is die ouderlinge se verantwoordelikheid om toesig te hou oor die onderrig wat aangebied word en te verseker dat die inhoud getrou en korrek is.

Elke graadgroep volg ‘n gepaste leerplan wat jaarliks deur die kerkraad goedgekeur word. Katkisasie is ‘n baie ernstige wyse van onderrig aan ons verbondskinders. Daarom moet ouers baie noukeurig toesien dat hulle kinders vir katkisasie voorberei en dit getrou bywoon. Sodoende word hulle voorberei om eendag openbare belydenis van hulle geloof te doen.

  • Ons dank die Here vir verbondskinders.
  • Ons dank die Here vir ʼn toegewyde Kerkraad.
  • Ons dank die Here vir ʼn Katkisasie Kommissie.
  • Ons dank die Here vir pligsgetroue ouers.

Ds. Gerrit Kruger

Bronne

https://proregno.com/2013/04/15/ons-roeping-om-onsself-en-ons-kinders-te-katkiseer/http://gkcenturion.co.za/kommissies/katkisasie/

Versorg in die woestyn (Psalm 23:1-6)

Toe Dawid, die digter, hierdie woorde gesing en neergeskryf het, was hy die skaapwagter in die Judawoestyn. Ons moet hierdie Psalm dus lees soos ‘n woestyn-psalm. Die groen weivelde waarvan Dawid sing is dus nie die groen grasvelde of lusernlande van Suid Afrika nie.

Jou gedagtes word teruggeroep na die dorre landskap van die woestyne van Israel. Meestal is dit klipagtige en bergagtige woestyne. ‘n Harde wêreld. Hier kom niks vanself nie. Hier kan ‘n skaap nie eintlik oorleef nie. Hier vergaan jy maklik van die honger en van die dors.

En dit is presies die bedoeling van die lied: Alleen kan ek en jy nie. Ons is soos die skaap wat sonder ‘n herder in die woestyn sal verdwaal en in die hitte en onherbergsaamheid sal omkom. Die wêreld waarin ons woon het geen rus en geen vrede nie. Die wêreld is hard en ongenaakbaar, en dit nog des te meer teenoor die kinders van God, omdat ons anders is, vreemdelinge in die wêreld. Die lewe van God se kinders is ‘n moeilike en moeisame pad waar veiligheid ontbreek en vrees ons metgesel geword het.

Alleen en op jou eie gaan jy dit nie maak nie!

Nou kom Dawid en troos ons met die stok en staf (vs 4 OAV) van die Herder, die waarheid van die Woord van God: Jy kan nie alleen nie, maar jy hoef ook nie alleen nie. Die Here is jou herder. Hy ken die pad waarop ons moet gaan. Hy sal ter wille van Christus, wat aan die kruis deur God verlaat is, ons nooit alleen laat nie. Hy sal ons lei op die regte spore, en Hy sal vir ons rus gee by die waters van die lewe. Selfs in die donkerskadu’s van die lewe sal ons sy teenwoordigheid as Herder beleef. Sal ons Jesus Christus ervaar as ons goeie Herder (Joh 10).

Omdat Hy vir ons sorg sal ek en jy niks ontbreek of kortkom nie.

Ds. Maarten van Helden

Pinkstersondag

Vandag vier die Christelike Kerk regoor die wêreld Pinkstersondag. Dit is vyftig dae na die opstanding van Jesus Christus, en tien dae na sy hemelvaart.

Op hierdie dag dink ons na oor die sin, inhoud en betekenis van die Pinkstergebeure. Daar is by sommige gelowiges ‘n oortuiging dat die Pinkstergebeure weer en weer sal en moet plaasvind. So asof die Heilige Gees weer en weer uitgestort moet en kan word. Hulle glo dat elkeen sy eie Pinkster, dws sy eie uitstorting van die Heilige Gees, kan en moet beleef.

Dan is daar natuurlik die ongelowige mense wat meen dat die uitstorting van die Heilige Gees, Jesus se geboorte uit die maagd Maria, Jesus se kruisiging, sy opstanding en hemelvaart sommer net ‘n mite, ‘n storie is wat onwaar en onmoontlik is.

Ons leer egter uit die Woord van die Here dat hierdie gebeure ‘n vervulling was van God se beloftes wat al in die Ou Testament en deur Jesus Christus in die Nuwe Testament self belowe was.

In Handelinge 1:18 het Jesus Christus gesê dat die dissipels krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom. Verder word in Johannes aangedui dat Jesus self gesê het dat Hy weggaan, maar dat Hy hulle nie alleen sal laat nie. Hy het belowe dat Hy die Vader sal vra, en dat die Vader vir hulle die Voorspraak, die Gees van die waarheid sal stuur om altyd by hulle te wees.

Wat dus op Pinksterdag gebeur het, is God se belofte aan die dissipels en al die gelowiges oor die eeue heen. Die Heilige Gees het op ‘n sigbare wyse in gelowiges se lewens ingegryp om hulle te verseker dat God self altyd in hulle lewens ‘n werklikheid sal wees. Verder herinner die Pinkstergebeure ons daaraan dat die Heilige Gees in die gelowiges se lewens groot verandering, sekerheid en troos sal bring.

Van die Pinkstergebeure af, staan daar in Handelinge dat die gelowiges op die ware leer in Christus gefokus het, dat hulle die Woord van die Here verkondig het, dat hulle eensgesind was, dat hulle in gebede, in mededeelsaamheid, in liefde vir mekaar en in ondersteuning aan mekaar volhard het.

Die Woord van die Here dui verder ook aan dat niemand kan sê Jesus die Here is nie, behalwe deur die werk van die Heilige Gees. Galasiërs 5:25 sê verder: “Ons lewe deur die Gees, laat die Gees dan nou ook ons gedrag bepaal”. Kom laat ons dan, deur die werking van die Heilige Gees, lewe soos mense wat die Heilige Gees in hulle lewe ken en gehoorsaam. Die Heilige Gees stel ons immers in staat om die vrug van die Gees in ons lewens sigbaar te maak. Dit is byvoorbeeld die vrug van sagmoedigheid, liefde, geloof, vriendelikheid, vrede, geduld, getrouheid en selfbeheersing.

Mag jy wat glo dat die Heilige Gees op Pinkster uitgestort is, met oorgawe aanvaar en uitleef dat die Heilige Gees in ons lewens ‘n werklikheid is.

Ds Paul

God ‘n ervaarbare werklikheid in my lewe

In 2 Timoteus 3:5 word daar gepraat van die krag van godsdiens. Wat is hierdie krag van ons diens aan die Here?

Elke gelowige wat in ware geloofsgemeenskap met die Here staan, sal kan getuig hoe die krag van die Heilige Gees elke dag en elke oomblik in sy of haar lewe ‘n werklikheid is.

Vir die gelowige is dit baie belangrik om daagliks die persoonlike gemeenskap met die Here te kan beleef. Juis in die tyd van ons lewe, word dit net meer en meer ‘n behoefte om die Here as ‘n ervaarbare werklikheid te kan beleef.

As jy voel dat jou lewe vreugdeloos, sinloos, vol vrese, woede en uitdagings is, is dit nodig om te bid dat die Here deur sy Woord en Gees vir jou ʼn daaglikse ervaarbare werklikheid sal wees. Dit is dan wat die krag van God, in ons diens aan die Here, ‘n heerlike werklikheid word.

Vra jouself gerus maar af wat is die werklikheid en selfs wenslikheid van die Here in jou daaglikse lewe? Die Here wat by my huis, by die werk, by die skool en op die pad vir my ‘n werklikheid is, ‘n ervaarbare werklikheid, sal kan getuig dat sy of haar manier van dink en doen totaal anders geword het.

Om die krag van godsdiens te kan ken en te ervaar, is dit nodig dat ons die Here sal ken en vertrou soos Hy Homself in sy Woord aan ons geopenbaar het. Juis die geloof in die Here, sal soveel stukrag en moed vir jou gee in die uitdagende tye in jou lewe.

Mag jy deur die Heilige Gees gelei word om vanuit jou persoonlike verhouding met die Vader, Seun en die Heilige Gees, die strome lewende water wat uit jou binneste vloei, te ken en te kan beleef.

Ds Paul

WAAROM WAG?

Ons leef in die tyd waarin ons in besonder dink aan die uitstorting van die Heilige Gees. Het jy al gewonder waarom die Heilige Gees eers 10 dae na die hemelvaart uitgestort is? Waarom moes die dissipels 10 dae wag op die vervulling van die belofte van Jesus Christus volgens Johannes 16:7?

Die uitstorting van die Heilige Gees is een van die wonderlike gebeurtenisse wat in die Bybel verhaal word. Die Heilige Gees het gekom om altyd by ons te wees. Om hierdie wonderlike gawe te kon ontvang, was dit nodig dat die dissipels moes wag om ‘n paar dinge te leer.

Ons kan ons nie werklik indink wat in die gemoedere van die dissipels die voorafgaande tyd afgespeel het nie. Die een oomblik was Jesus nog hier op aarde. Hulle het gesien en gehoor en ervaar wat Jesus alles hier op aarde gedoen het. Dan die skok van die gevangeneming van die Here Jesus. Binne enkele ure die verhoor en die kruisiging van hulle Here en Meester. Binne drie dae van verslaentheid, die opstandig van Jesus uit die dood. Dan die 40 dae wat Jesus nog op die aarde is en dan die hemelvaart.

Hierdie tyd van wag was tyd van gebed en voorbereiding op die koms van die uitstorting van die Heilige Gees (Handelinge 1:4). Die wag hou in dat die Here hulle voorberei het om sy getuies te wees, om met oorgawe en vertroue die Here te kan dien. Die wag het ingehou dat hulle die gebeure van die afgelope tyd kon verwerk en werklik tot verstaan kon kom oor wie Jesus Christus werklik is en wat hulle opdrag was.

Mag jy nadink oor die tyd van afwagting wat die dissipels deurgegaan het tot met die uitstorting van die Heilige Gees. Mag jy ook leer om op die inwerking van die Heilige Gees te wag. Mag jy leer om te wag op die uitkoms en troos en bemagtiging van die Heilige Gees ook in jou eie lewe.

In Johannes 16:8-15 sê Jesus dat wanneer die Heilige Gees kom, dan sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan Jesus Christus se kant is, en dat die oordeel al gekom het. Die Heilige Gees sal die dissipels help om te verstaan dat die wêreld skuldig is aan sonde. Die dissipels sal sien dat die wêreld nie in Jesus Christus wil glo nie.

Verder hou wag op die koms van die Heilige Gees in dat die dissipels werklik die ware waarheid sal leer ken en verstaan. Die wag hou in dat hulle gereed is om dit wat deur die Heilige Gees verkondig is, te glo omdat dit van die Vader en die Seun af kom. Hy sal die dinge wat nog gaan kom, aan hulle verkondig. Hy sal Jesus Christus verheerlik in alles wat deur Hom aan ons geopenbaar is. Alles wat die Heilige Gees van Jesus Christus ontvang het, sal Hy aan hulle verkondig. Daarom was die wag die geleentheid om te verstaan, te glo en te gaan doen. Vanuit die uitstorting van die Heilige Gees kon die dissipels volhardend en met oortuiging die blye boodskap van redding en genade aan die wêreld uitdra.

Ds Paul

Om werklik op God te vertrou

Om op God te vertrou, ten spyte van die menslik onmoontlike, is werklike vertroue. Twee Sondae gelede het ons ‘n verootmoedigingsdag gehad. Ons het ons voor God verootmoedig oor ons sondes, die droogte en die onrus in ons land. En alhoewel ons besig is om die winter in te gaan het dit hier in ons omgewing BAIE goed gereën. Daar het ook goeie reëns oor groot dele van die land geval. Is dit toevallig of is dit geloofsvertroue dat God sal voorsien op sy tyd? Verseker is dit God wat voorsien.

Ons moet ook weet dat God droogte gee. Dit bely ons in Sondag 10 oor die voorsienigheid van God. “Die almagtige en oralteenwoordige krag van God waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.”

Ons lees dat Abraham werklik op God vertrou het. Rom 4:19 “Al was hy so-wat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie.”

Abraham het nie getwyfel in sy geloof nie. Abraham was eerder “ten volle oortuig dat God ook die mag het om te doen wat Hy beloof het” Rom 4:21.

God is getrou. God kan nie ontrou wees teenoor Homself of teenoor ons nie. God se beloftes is altyd waar. God sal vir ons sorg. God sorg nie altyd soos wat ons dit wil hê nie, maar Hy sorg soos wat Hy dit in Sy Raadsplan bestem het. Ons moet net bly glo, bly bid, bly vertrou, bly werk en dan kan ons verseker wees dat God altyd sorg, want Hy is barmhartig en genadig. ‘n Latynse spreekwoord leer: “Ora et labora.” dit beteken, “Bid en werk.” God sal voorsien.

Prys die Here!

Ds. Gerrit