Die genade van die nagmaalsgebruik

Jesus Christus het in die nag waarin Hy verraai is brood geneem en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis.” Net so ook die beker na die ete met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit so dikwels as julle daaruit drink tot my gedagtenis.”

(1 Kor 11:23-28)

Jesus Christus het met ’n spesifieke doel aarde toe gekom en dit is om met sy liggaam en sy bloed te betaal vir ons sondes. Deur Jesus Christus se dood het daar vir ons versoening met God gekom. Jesus Christus het al ons sondes en oortredinge op Hom geneem en aan die kruis gesterf. Dit het Jesus gedoen in opdrag en gehoorsaamheid van God sy Vader. Dit was verskriklik om as sondelose mens, die hele mensdom se sondes op Homself te neem en die vervloekte kruisdood te ondergaan. Hy het in ons plek gesterf en is in ons plek gekruisig.

Wat ’n groot genade is dit nie vir ons nie. Daarom het ons die heerlike voorreg om gereeld die nagmaal te gebruik. Dit is so ’n groot genade dat ons dit nie eers ten volle kan verstaan nie. Maar God het dit uit sy soe-wereine genade aan ons geskenk. Die nagmaal is ook daar om ons te ver-sterk in ons geloof en stryd op aarde. Net soos wat enige mens moet eet en drink om jou liggaam te voed en krag te gee om te kan lewe elke dag, net so moet ons gereeld die nagmaal gebruik om herinner te word aan die groot genade wat God aan ons geskenk het.

Die nagmaal dien daarom ook as herinnering en geestelike versterking oor die geweldige daad van Christus waardeur ons verlossing ontvang het.

Die nagmaalsgebruik is daarom ’n geweldige vertroosting en versterking. Ons prys en loof en dank God vir die genade van die nagmaalsgebruik.

Ds. Gerrit

Vroomheid

Dalk het jy al gehoor dat iemand vroom is? Dalk het jy al gehoor dat iemand se vroomheid skynheilig is. Piëtisme of spiritualiteit word baie keer as sinonieme vir vroomheid gebruik.

Wat is vroomheid regtig? Luther het reeds in sy tyd standpunt ingeneem teen die Roomse beskouing van vroomheid in die Middeleeue. Gedurende die Middeleeue het die Roomse Kerk op uiterlike vroomheid gefokus. In daardie tyd was vroomheid op die uiterlike gerig. Mense het deur hulle uiterlike handelinge en deur uiterlike seremonies ander probeer beïndruk met hulle uiterlike vroomheid. Dit het onder andere ingehou dat jy op ‘n sekere manier gepraat, geloop en gelyk het.

Vir Luther het vroomheid nie oor die uiterlike gegaan nie, maar juis oor die verinnerliking van die gelowige se leefwyse voor die Here. Vroomheid verwys dus na die innerlike ervaringskant van die geloof in die Drie-enige God. Vroomheid fokus op die gelowige se lewe voor die aangesig van die Here. Dit fokus op die bewustelike lewe voor die aangesig van die Here. Vroomheid gaan oor die lewe wat beleef word as ‘n “wandel-met-God”.

Wanneer die gelowige in sy hart (innerlik) opreg voor die Here lewe, sal die vroomheid ook sigbaar word in die uiterlike handel en wandel van die gelowige. Vroomheid hou in om deurentyd bewus te wees dat ek voor die aangesig van die Here lewe. Ja ek weet dat die Here altyd by my en met my is. Elke oomblik van die lewe, op elke lewensterrein, in voorspoed en teëspoed, ervaar die gelowige die realiteit van die Here se teenwoordigheid. Innerlike vroomheid hou verder in dat ek deurentyd bewus is dat ek in diens van die Here staan.

Mag jy groei in jou verhouding met die Here (innerlik) en mag jou innerlike vroom-heid, jou lewe in en deur Jesus Christus, sigbaar word in jou lewe, in jou woorde, dade en gedagtes.

Aan die Here alleen kom al die lof en eer in my lewe toe.

Ds Paul

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika Loof die Here vir 160 jaar se genade!

Dit is vandag, 10 Februarie 2019, presies 160 jaar gelede wat ons geloofsvoorouers by Rustenburg biddend daartoe oorgegaan het om die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika te stig. Die diepste motief was en is nog steeds om ‘n kerk van die Here te wees wat die Woord van die Here voorop stel in alles wat ons doen, dink en sê.

Die Here het deur 160 jaar die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) instrumenteel gebruik om die boodskap van redding en genade in Jesus Christus uit te dra aan alle volke en tale in ons land en ook aan mense in lande buite Suid-Afrika.

Kyk ons terug, dan staan die GKSA daarvoor bekend dat hulle onvoorwaardelik aan die waarheid van die Woord vasgehou het. Wanneer daar in die kerkverband onrus of verskil bestaan het, is die vrede gevind deur die buig voor die gesag van die Woord van die Here.

Die GKSA het in die 160 jaar steeds reformerend gebly. Diep in ons harte bly dit staan om altyd te reformeer, terug na die Woord van die Here, nader aan die waarheid van die Woord van die Here.

Vele uitdagings en druk word tans van buite die GKSA beleef. So is daar druk van die kant van die regering en van sekere mense om te konformeer met die wêreldse standaarde en beskouings. Wetgewing in Suid-Afrika van die staat se kant om beheer en inspraak in kerke te probeer kry, is ‘n uitdagende saak. Die wettiging van lotery, aborsie op aanvraag, regstellende aksies, homoseksuele/lesbiese huwelike en moontlike grondonteiening is maar ‘n paar sake wat die lidmate van die GKSA mee gekonfronteer word.

Dan is daar ook druk en verskil wat binne die GKSA beleef word. So is daar onder andere vandag verskillende opinies oor die Bybelvertalings, oor die vrou in die amp, oor die nagmaalsgebruik, oor die sing van geestelike liedere bo en behalwe die Psalms en huidige Skrifberymings. Verder is daar ook groot kommer oor die dalende lidmaat getalle van gelowiges regoor die wêreld en veral in die GKSA.

Die GKSA het reformatories wonderlike groei en geleenthede beleef ten opsigte van die uitdra van die evangelie in Suid-Afrika en ander lande aan die mense wat nog nie tot geloof in die Drie-Enige God gekom het nie.

Mag die pad vorentoe vir die GKSA steeds wees:

  • Sola Scriptura – Die Bybel (Skrif) alleen
  • Solus Christus – Christus alleen
  • Sola Gratia – Genade alleen
  • Sola Fide – Deur die geloof alleen
  • Soli Deo Gloria – Aan God Alleen die Eer.

Ds Paul

Die enigste ware roem

Gal 6:14 Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.”

Paulus het in sy vroeër jare as ‘n Rabbi menslikerwys baie dinge gehad om oor te roem, Hy het bo die Jode van sy tyd uitgestyg vanweë sy fanatieke ywer om die kerk van die Here te vervolg, Gal 1:13,14. In Fil 3:1-10 lys hy waarop hy alles sou kon roem. Maar nou het Paulus tot bekering gekom en besef hy die mens het niks om op te roem nie. Alles is genade en ons genade is gesetel in die kruis.

Die kruis was in Paulus se tyd ‘n vervloekte, veragte dood en die uiterste voorbeeld van swakheid en skande. En tog het Saulus van Tarsus die krag van die kruis ondervind en Paulus die apostel geword. Die kruis was nou nie meer ‘n struikelblok vir Paulus nie maar die fondamentsteen van sy boodskap: “Christus het vir ons sondes aan die kruis gesterf en betaal.”

Paulus het besef dat die kruis Vryheid gebring het van homself, Gal 2:20, van die liggaam Gal 5:24 en van die wêreld Gal 6:14. Met die dood en opstanding van Jesus Christus is God se krag geopenbaar en aan ons gegee om vryspraak te kry van sonde en dood. Die vleeslike mens en selfs die wettiese gelowige blaas sy eie roem en ego vir wat hy/sy doen, bevredig sy aardse menswees en doen goed vir die wêreld. ‘n Ware Christen roem alleen in die genade wat ons ontvang het deur Jesus Christus se kruisdood en lewe volkome uit dankbaarheid.

Elkeen wat dan in Jesus Christus glo en Hom dien en aanbid is deel van die nuwe, ware Israel. Gal 6:16.

Daarom roem ons saam met Paulus in die kruis van Jesus Christus. Aan die kruis het Hy gesterf, betaal en in ons plek die vervloeking geword vir al ons sondes.

1 Kor_1:31

Daarom, soos daar geskrywe staan: “Dié wat wil roem, moet in die Here roem.”

Ds Gerrit

Die Dordtse Leerreëls

Na die Hervorming wat op 31 Oktober 1517 amptelik begin is deur Luther wat sy 95 stellinge teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker het, het daar weereens dwalinge ontstaan. Die Sinode van Dordrecht se bedoeling was om ‘n einde te bring aan die godsdienstige stryd wat die Remonstrante (Arminiane) teen die suiwer Bybelse leer gevoer het tov die uitverkiesingsleer.

Arminianisme het die uitverkiesingsleer verwerp en verkondig dat ‘n mens alleen gered kan word as jy glo maar dit hang van jou af of jy uitverkies is of nie. Dit was weer die leer van Pelagius (400 nC) wat geleer het daar is geen erfsonde nie, die mens het ‘n vrye wil en kan self kies vir sy saligheid of nie, daar is geen uitverkiesing nie maar slegs ‘n voorkennis by God en die dood is nie die gevolg van sonde nie.

Gomarus was die Kontra-Remonstrantse leier, ook voorsitter van die Sinode en onder sy leiding het die Sinode die Dordtse leerreëls opgestel. In hoofsaak handel die Dordtse Leerreëls oor die Predestinasie-leer of die Uitverkiesingsleer wat beteken dat God voor die skepping van die wêreld af al bepaal het wie eendag hemel toe gaan en wie nie. Die Kontraremonstrante verwerp die vrye wil van die mens wat bepalend is vir sy saligheid en die suiwer Bybelse siening word in vyf standpunte saamgevat (Calvinisme se standpunt):

  • Die totale verdorwenheid van die mens.
  • Die onvoorwaardelike uitverkiesing van die mens.
  • Die beperkte versoening.
  • Die onweerstaanbare genade van God.
  • Die volharding van die gelowiges.

Vir die volgende klompie Sondae gaan ons die Woord bring aan die hand van die vyf hoof-stukke van die Dordtse Leerreëls.

  1. Goddelike uitverkiesing en verwerping.
  2. Die dood van Christus en die verlossing van die mens deur sy dood.
  3. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind.
  4. Die verdorwenheid van die mens, sy bekering tot God en die wyse waarop dit plaasvind (vervolg)
  5. Die volharding van die Heiliges.

Ds. Gerrit

God regverdig?

Jy moet eers gou die gelykenis van Jesus in Matteus 20: 1-16 lees. Die konklusie is dat die eienaar van die wingerd kan doen wat hy wil…

God is die eienaar van alles wat Hy gemaak het. Hy kies sy kinders uit en gee aan hulle die lewe deur Jesus Christus. Dit is sy genade. Hy het baie genade! Baie! Hy kan dit gee vir wie Hy wil, wanneer Hy wil. Hy is die almagtige, vrymagti-ge, soewereine en enigste God! Daarvoor loof en prys ons (en alles wat asem het) die Here!

Daar is mense van die kant van die ongelowiges wat dink dat God onregverdig is. Dit is te verstane. Hulle insig skiet net vér tekort. Dat daar egter gelowiges is wat dink dat God onregverdig is omdat Hy vir sommige red en ander nie, gaan mens se verstand te bowe. Ek as verloste word dus “onregverdig” behandel.

Mense raak jaloers op mekaar as jy soos die wêreld na dinge kyk. In die wêreld is dit net die vinnigstes wat wen, en die eerstes kry die trofee. By God werk dinge egter ‘n bietjie anders, of soms heeltemal anders, ja selfs soos teenoorgestel-des… Daarom eindig die gelykenis met die sg. absurde: “Die wat laaste is sal eerste wees, en…”

God is nie regverdig omdat Hy vir alle mense dieselfde gee of dieselfde kanse gun nie. Nee, as God in daardie opsig regverdig moes wees, sou Hy geen ander keuse gehad het as om ons almal in die helse vuur te gooi nie. Ek glo nie dit is wat jy wil hê moet gebeur nie.

God is regverdig in die sin dat Hy geen sonde het of doen nie, en dit ook nie kan aanvaar nie. Hy kan wel daarmee ‘n plan maak, want Hy is soewerein (kan doen wat Hy wil). Hy het sy Seun gegee as die plan vir die wegneem van sondes en daarom vergewe Hy om-Christus-wil telkens weer.

Gaan aan die Nagmaal met die wete dat jy ‘n regverdige God dien. Die nagmaal-tekens is simbole van die plan wat Hy gemaak het om ‘n einde te maak aan son-de en straf.

Ds Maarten