Augustinus uit Afrika

As gelowiges bely ons dat God Drie-enig oor alles en almal beskik. Juis daarom gee Hy op spesifieke tye in sy kerke se geskiedenis besondere persone met spesiale gawes en vermoëns om sy kerk te stuur, te rig en te lei. So sal dit wees tot en met die wederkoms. Een so ‘n persoon is Aurelius Augustinus. Hy is in die Noorde van Afrika gebore in die jaar 354.

Augustinus word deur God gebruik om sy kerk by die Woord te hou en dwalinge teen te staan. Augustinus sou een van die bekendste kerkvaders word. Die kerkvaders was persone, wat deur God beskik is wat die teologie uitgebou het en oor die kerkleer ge- skryf het. Van almal sou Augustinus die belangrikste word.

Augustinus se pad met die kerk was nie vanselfsprekend nie. Van sy geboorte in 354 tot hy biskop word van die kerk in Noord-Afrika is ‘n lang en moeisame pad. Sy vader is welgesteld, ‘n man van aansien, bekend en gewild, maar van godsdiens wil hy niks weet nie. Inteendeel hy is ‘n uitgesproke heiden wat godsdiens verag het.

Augustinus se moeder daarenteen was ‘n opregte kind van die Here. Sy bely Christus openlik en haar grootste begeerte was dat haar man en seun ook Christene sou word.

Augustinus het as jongman ‘n sedelose lewe gelei ver van God en sy Woord af. Hy maak ‘n draai in Rome waar hy in kontak kom met die preke en voordragte van Ambrosius. Deur die preke het die Heilige Gees in Augustinus gewerk sodat hy tot geloof gekom het.

In 387 word Augustinus deur Ambrosius gedoop. So begin sy dienswerk in die koninkryk van God. Toewyding en ywer sou sy lewe kenmerk. God het hom gebruik as ‘n groot bewaarder van die waarheid vanuit die Skrif. Augustinus het baie geskryf en van sy geskrifte is nog van baie groot waarde vir die kerk. Luther en Calvyn het dikwels daaruit aangehaal.

Die geskrifte van Augustinus getuig van ‘n diepe insig, besondere begaafdheid, gees- telike nederigheid en erkenning van sy eie swakheid en gebrokenheid.

Ds. Hannes Noëth

Noodsaaklik, maar swaar

Wat is in die lewe van ‘n gelowige noodsaaklik, terwyl dit terselfdertyd sleg en onaange-naam mag wees?

Spreuke 10:17 sê: “Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af.” Ja dit is verseker nie maklik om iemand tereg te wys nie, om nie eens daarvan te praat om self deur ander tereg gewys te word nie.
Teregwysing is noodsaaklik vir elke gelowige, maar dit is ook baie moeilik om tereg gewys te word.

So maklik sien ons die verkeerde in ander mense se lewens, maar dit is moeilik om die verkeerde in my eie lewe raak te sien en te erken. Nog moeiliker as iemand gedring deur die Heilige Gees met my kom praat oor verkeerde dinge in my lewe.

Dit is so belangrik om iemand wat gesondig het, en op ‘n dwaalpad is, te vermaan. Verma-ning en bemoediging word altyd saam gedoen. Soms is daar meer aanmoediging nodig as vermaning en soms is dit net anders om. Die een kan egter nie sonder die ander gebruik word nie.

Ons vermaan mekaar en stel onsself oop vir vermaning, omdat ons mekaar nie net kan oorlaat aan ons eie lot nie. Dán sal ons verlore gaan.

Vermaning hou egter in dat ons dit in ‘n gees van sagmoedigheid sal doen. So sê Galasiërs 6:1: “Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in ver-soeking kom.”

Verder sê Hebreërs 12:11 vir ons: “Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug, naamlik vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God.”

Mag jy met ‘n sagte hart ander gelowiges vermaan en mag jy deur die werk van die Heilige Gees jouself oopstel om self in liefde vermaan te word.

Ds Paul

Waar kom die Evangelies van Markus vandaan?

Die mense het nie destyds boeke geskryf soos ons nie – die meeste kon nie skryf nie en die materiaal was baie duur. (Daar was nie CNA’s waar mens vinnig papier kon koop nie). Omdat alles nie neergeskryf is nie, is die mense van kleins af geleer om te onthou – hulle moes dinge memoriseer. (Daar word vertel dat van Griekse kinders verwag is om bv. Die Iliad – ‘n reuse dik boek – te memoriseer). Juis omdat niks neergeskryf is nie, was dit ‘n storiekultuur. Die aand om die vuur is die stories wat belangrik was oor en oor vertel en die mense het daaruit geleer. So deur en saam met stories het hulle baie belangrike kennis opgetel oor die lewe.

So het dit ook gewerk met Jesus. Hy het niks neergeskryf nie. Sy dissipels het alles gehoor en… onthou. Na Jesus se hemelvaart het die dissipels die verhale oor wat Jesus gesê en gedoen het, oorvertel aan die Christene. Hulle het dit weer onthou en vir ander vertel. Dit was die eerste wortels van die Evangelies – die verhaal van Jesus was in die koppe van die Christene bewaar. Die dissipels/apostels het gesorg dat die ouens nie sommer die stories verander nie. Hulle was die waarborg vir die waarheid van die stories.

Toe die apostels begin doodgaan en die kerk begin uitbrei het dit nodig geword om ‘n ander plan te maak – die verhale is neergeskryf. So is die verhale “bewaar” – nou kan mense dit nie verander nie en het dit outentiek gebly soos die dissipels dit vertel het.

Markus was die eerste evangelis wat die verhaal van Jesus neergeskryf het. Die Markus-evangelie is dus ons oudste evangelie. Dit het so 30-40 jaar na Jesus se hemelvaart ge-beur, dus so tussen 60 en 70nC. Dit is belangrik om net weer te sê: die evangelie het nie toe tot stand gekom nie. Dit is net toe neergeskryf. Dit wat van die begin af in die geheue van die Christene was en elke dag aan mekaar oorvertel is, is toe net neergeskryf.

Hoewel dit altyd moeilik is om vas te stel wie ‘n boek geskryf het (hoe weet ‘n mens presies as jy nie die persoon self sien skryf het nie), is daar tradisioneel aanvaar dat Markus die skrywer was. Dit is ook nie seker waar hy presies was toe hy die evangelie geskryf het nie, maar Antiogië aan die Orontes (die hoofstad van Sirië) is ‘n goeie moontlikheid. Dit was in die eerste eeu die hoofstad van die Christene buite Jerusalem en was ook die stad vanwaar Paulus sy sendingreise onderneem het.

Prof Jan vd Watt

Dankbaarheid

Wat is daar waarvoor jy vanoggend werklik dankbaar is en kan wees? Dit is so maklik om beswaard en vol vrese te lewe. Dink maar wat nuuswaardig is? Ja, slegte nuus is nuus-waardig. Goeie nuus, het nie noodwendig ‘n positiewe impak in ons lewe soos wat slegte berigte van moord, staatskapings en bedrog het nie.

‘n Positiewe ingesteldheid teenoor God, my medegelowiges en die wêreld is nie iets wat maklik van ons as mense uitstraal nie. Die wonderlike in die Christelike geloof, is juis dat die Heilige Gees ons in staat stel om met ander oë na God, ons naaste en die wêreld te kyk. Jesus Christus is die Een wat die donkerte en die lelike kom verander het. So leer Romeine 12:2 dat dit God is wat ons innerlik verander om met ‘n positiewe en dankbare ingesteldheid te kan lewe.

Hierdie dankbaarheid hou in dat my verhouding deur Jesus Christus my leer om vir mense in my lewe, God in my lewe, ja, vir elke ding en vir elke dag dankbaar te wees.

Dankbaarheid fokus egter nie net op die wonderlike genade in en deur Jesus Christus nie, maar dit laat my ook in dankbaarheid lewe na buite. Ons leer in 1 Petrus 3:9 dat ons deur God se genade die slegte met die goeie kan beantwoord. So kan ons geloofwaardige getuies wees van God se liefde, sy goedheid en sy genade.

Dankbaarheid in Christus stel my in staat om na die wet te luister en my te verwonder oor alles waartoe ek opgeroep word en bemagtig word deur die Heilige Gees.

Dankbaarheid in Christus verander die aard en trant van my gebedslewe. In plaas van vrees kan ek dankbaar wees. In plaas daarvan om te vra en vra, kan ek God dank vir so baie wat ek onverdiend uit die Hand van die Here ontvang.
Dankbaarheid in Christus is een van die beste teenvoeters vir negatiwiteit, vrese en bekommernis.

Mag jy groei in jou dankbaarheidslewe vir al God se genade en mag jy bekend staan as ‘n vreugdeskind van die Here. Vergenoeg in alle omstandighede.

Ds Paul

Die aanloop tot Dordrecht (1618)

Die Dordtse Leerreëls is die geformuleerde reaksie van die Sinode van Dordrecht op die remon-stransie (protes of teenbetoog) van ’n groep predikante wat later as die Remonstrante bekend geword het. Die Sinode, wat in dié stad in Nederland plaasgevind het, word op 13 Nov geopen en sluit af op 29 Mei 1619.

Die aanloop tot die Sinode word ietwat vroeër gevind in die dispuut wat tussen twee professore ontstaan aan die teologiese fakulteit van Leiden en hul volgelinge, naamlik Jacobus Arminius (1560-1609) en Franciscus Gomarus (1563-1641). Die dispuut tussen hulle ontstaan oor die uitverkiesing wat vir Arminius daarop neerkom dat God van ewigheid besluit het om sommige in Christus vir wie Hy geloof skenk, te regverdig, tot kinders aan te neem en aan hulle die ewige lewe te skenk. Eweneens is die verwerping van ander ’n besluit van die toorn of van die streng wil van God waardeur van ewigheid besluit is dat hulle nie sal glo nie en buite die gemeenskap met Christus gestel is, verdoem tot die ewige dood. Eenvoudiger gesproke het dit ook gegaan oor die vraag of gelowiges ’n bydrae tot saligheid kan lewer al dan nie.

Die aanvanklike meningsverskil tussen Arminius en Gomarus en hul volgelinge verbreed en loop uit op twee strydende partye wat bekend sou staan as die party wat Arminius gesteun het, naamlik die Remonstrante, teenoor die Contra-Remonstrante wat uit die aard van die saak Gomarus se standpunt verder gevoer het. Behalwe die twee kerklike partye wat teenoor mekaar te staan gekom het, raak die owerheid ook betrokke – wat in dié tyd as normaal beskou is.

Die aard en omvang van die verskille tussen Arminius en Gomarus kom aan die lig in die dispu-tasies of openbare lesings wat respektiewelik op 7 Feb en 31 Okt 1604 plaasvind. Die spanning verhoog sodat dit uiteindelik vir die kerkraad van Leiden en die kuratorium duidelik word dat daar inderdaad diepliggende verskille tussen die twee professore was. Arminius wend hom tot die Staten van Holland en Wes-Friesland (die owerheid van twee Nederlandse provinsies), en op 30 Mei 1608 verskyn Arminius en Gomarus saam met vier predikante op las van die Staten voor die sogenaamde Hoge Raad. Die samekoms lewer nie die gewenste resultaat nie, selfs as onder leiding van Johan van Oldenbarnevelt (1547-1619) (raadspensionaris of landsadvokaat) op 12 Aug1609 verdere gesprek gevoer word oor regverdiging, predestinasie en hersiening van die belydenis. Die spanning neem toe en versprei verder in die kerk. Nog voor die vergadering formeel beëindig is, moes Arminius hom weens siekte onttrek; hy sterf op 19 Okt 1609. Tydens die Sinode van Dordrecht 1618 word egter beslis dat Arminius se dwaalleer nie aanvaar word nie en die Dordtse Leerreëls word as antwoord opgestel.

Ds Maarten

“Kuier onder die sterre”

Psalm 8:4,5

“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink,
die mensekind dat U na hom omsien?”

In hierdie lofpsalm word die Skepper, God, in die skepping in digterlike taal beskryf. Sy grootheid, sy almag, sy heerlikheid en sy wonderlike Naam word beskryf. Dawid wat sekerlik baie nagte in die natuur onder die sterre deurgebring het besing hoe glansryk en onbeskryflik groot is die hemelruim met die maan en die sterre daarin. Hy voel homself klein voor God en die skepping van God.

Dit vervul hom met soveel blydskap en vreugde dat hy ook diep onder die besef kom van sy eie nietigheid, sy kleinheid as mens voor hierdie pragtige skepping. Hierdie Psalm is so belangrik dat Jesus Christus dit self aanhaal met die reiniging van die tempel in Mat 21:15,16. Die mens is so belangrik vir God gewees dat Hy sy eie Seun Jesus Christus ‘n mens laat word het sodat Hy sy kinders kon red en verlos met sy dood aan die kruis. Heb 2. God kry al die eer vir die skepping, die maan en die sterre en ook vir die mens wat God as heerser geskape het.

Saterdagaand, 8 September gaan ons as gemeente onder die sterre kuier. Dit gaan daaroor dat ons as gemeente aan God die eer toebring onder die sterre met ‘n heerlike kuier, Koinonia, gemeenskap van die heiliges. Ons gaan ‘n paar Psalms sing, die groot-heid van die skepping beleef en lekker saam eet aan potjiekos en lekker kuier.

Mag ons die grootheid van God altyd raaksien in die skepping.

Mag ons God altyd eer en verheerlik.

Mag ons saam met die Psalmdigter altyd God se grootheid besing met die woorde: Ps 8:2,10

“Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!”

Ds Gerrit