Verhoudings in jou lewe

Elke mens staan in ‘n klomp verhoudings in sy lewe. Dit begin met huweliksverhoudings, gesinsverhoudings, werksverhoudings, vriendskapsverhoudings en nog baie meer. Maar die belangrikste verhouding is sekerlik die verhouding met God.

Gesonde verhoudings is een van die belangrikste bepalers van lewensgeluk. Daarom is dit so belangrik om altyd aan jou verhoudings te werk, of jy ‘n groepsmens is of nie. Eerstens gaan dit oor jou verhouding met God. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en verstand.(Mat 22:34-40) Dit is die grond van jou gesindheid in verhoudinge. As jy respek en eerbied en ontsag vir God het, sal jy ook respek en eerbied vir jou naaste hê wat die tweede gebod in is.

Die res van die verhoudings waarin jy op aarde verkeer, hetsy huweliksverhouding, gesinsverhouding, werksverhouding, vriendskapsverhoudings moet jy nooit as vanselfsprekend aanvaar nie. (Ef 6:1-9) Elke verhouding waarin jy staan moet jy koester en aan werk.

In enige verhouding waarin jy staan, moet jy altyd respek en eerbied vir mekaar hê. Moet ook nie eerbied en respek verwag as jy dit nie gee nie. As jy nie ‘n vriend respekteer en uit jou pad gaan om liefde te bewys nie, moet jy ook nie respek en liefde terugverwag nie. Koester jou vriendskappe en dra mekaar op die hande. Wees goed vir mekaar. Laat die vrug van die Gees ook in jou verhoudinge tot uiting kom.

Gal. 5:22 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.”

Wat ‘n voorreg is dit om vriende te hê by wie jy veilig voel en is. Vriende met wie jy lief en leed kan deel. Vriende wat vir mekaar omgee as dit goed gaan en as dit sleg gaan. Vriende wat mekaar in die liefde van God op die hande dra. Veral vriende met wie jy jou geloof kan deel. Waardeer opnuut die vriendskappe wat jy het, koester dit, en wees goed vir mekaar. Moet nie net van ’n vriendskap voordele verwag nie, maar gee ook aan ander en vorm mekaar tot eer van God.

Spr. 27:17 Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”

Ds Gerrit

Genade op genade

Johannes maak hierdie besondere proklamasie in sy proloog in die Evangelie oor die koms van die Messias.

En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade“. (Joh 1:16)

In die Engelse weergawe staan iets soos ‘genade bo en behalwe die genade wat reeds gegee is‘. Met reg kan dit vergelyk word met die golwe van die see wat kom en weer kom… en weer kom.

Eerstens verwys dit na die genade wat in die tyd van Ou Testament, dws vóór Christus aan Israel bewys is, en wat nou opgevolg word deur die genade wat uit die koms van Christus na Israel en alle mense toe kom. God was geduldig oor die mense van die outyd. Nou kom Christus en God gee nog meer genade. Golf na golf.

So gee die Here nou nog ‘genade op genade…’

Elke dag weer genade. Elke sonde word keer op keer vergewe. Elke môre is sy genade nuut (Kl 3:23). Elke dag ‘n nuwe skoon blaadjie.

Elke keer as daar weer nuwe mense tot bekering kom. Elke nuwe sondaar wat by die reeds begenadigde gemeente toegevoeg word. Elke keer sing die engele oor een sondaar wat hom bekeer.

Elke dag wat ons opnuut weer onder sy voorsiening mag lewe en sy genadige versorging mag ontvang in middele en gesondheid en in geleenthede.

Ja, selfs in die uitdagings van beproewings is sy genade telkens weer daar om ons staande te hou.

Voorwaar kan ons bely dat ons van die begin af deel was van die belofte van die Messias wat die slang se kop sal vermorsel (Gen 3:15). Maar bo en behalwe die beloftes, is ons nou deel van nog meer genade omdat God sy woord gehou en sy Seun gegee het as versoening vir al ons sondes vir ewig en altyd!!

Waarlik genade op genade op genade!

Ds Maarten

 

Koppig!

Koppigheid is iets wat reeds vroeg na die sondeval sy kop begin uitsteek het. Die eerste keer wat ons van koppigheid hoor, is in Genesis 4:6 waar die Here vir Kain waarsku oor sy voorneme om Abel dood te maak. Daarmee saam het die Here aan Kain die opdrag gegee om oor die sonde te heers. Koppigheid hou egter in dat jy jou nie laat voorsê nie. Jy weet iets is verkeerd, maar jy doen dit nogtans.

In Spreuke 21: 29 (1933/53) word die koppigheid van die goddelose as volg beskryf: “Die goddelose trek ’n onbeskaamde gesig, maar die opregte gee aan sy weë die regte rigting.” Letterlik staan daar dat die koppige mens ‘n “harde gesig maak”. In Jesaja 48:4 sê die Here vir Israel dat Hy weet dat hulle hardkoppig is, dat hulle so weerbarstig soos ’n stuk yster is en dat hulle kop so hard soos brons is.

‘n Koppige mens wys nie wat hy dink of voel nie. Hy sal nie erken dat hy oor iets verkeerd is nie. Hy sal altyd sy optrede wil regverdig en homself wil verontskuldig.

Die koppige mens gaan doelbewus en arrogant voort om verkeerde en bose dinge te doen. Dit ten spyte van die gebooie van die Here. Hy sal homself handhaaf en teregwysings verwerp. Daarom word die koppige mens getipeer as ‘n goddelose mens wat nie sal toelaat dat sy gewete hom kan aankla oor die sonde en verkeerde dinge in sy lewe nie. Inderdaad loop ‘n koppige mens oor van gewaande selfvertroue en sal hy of sy ongeag vermanings van ander, net doen wat hy of sy wil. So ‘n koppige mens kry nie skaam oor sy sonde en die verkeerde wat hy doen nie. Inteendeel, hy is trots op homself en op al sy dwaasheid.

Hy is skaamteloos. Hy het geen gevoel vir ander mense nie. Hy het geen fyn aanvoeling vir dit wat die Heilige Gees in sy lewe volgens die Woord aan hom voorhou nie.

‘n Mens maak sy hartsingesteldheid bekend deur die manier waarop hy voorskrifte en opdragte hanteer. Koppige en slegte mense kom in opstand teen goeie advies en vermanings. Hoe meer hulle aangespreek word, des te harder word hulle harte en koppe. Hulle sal teen alle goeie advies eerder die destruktiewe pad kies om te loop.

Die koppige mens sal bloot uit beginsel goeie advies en onderrig verwerp. Hy verkies om eerder te rebelleer as om hom te onderwerp aan goeie leiding en advies.

Daarteenoor word die gelowige tereggewys en stel die Heilige Gees hom in staat om van koers te verander en om te lewe volgens die Here se wil. ‘n Mens se reaksie op God se voorskrifte maak baie meer van jou aard en karakter bekend as wat jy graag sou wil erken.

Ons kan nie met God speel nie. Hy wat elke koppige gedagte van jou ken, van elke koppige handeling weet, Hy weet dat jy nooit jouself kan onderwerp aan Sy leiding nie. Daarom het Hy sy Heilige Gees aan ons gegee om ons te vertroos en te vermaan. Mag jy deur die Heilige Gees in staat gestel word om bewus te word van jou eie sondige koppige geaardheid en mag jy in oorgawe groei in gehoorsaamheid aan die Here se wil.

Ds Paul

Kerkraadsvergadering en sy werking

Donderdagaand het die Kerkraad saam met die diakens vergader, volgens artikel 4 en 5 van die Kerkorde om te besin en te besluit oor ‘n tweetal predikante, vir beroeping na die gemeente. Enige ampsdraer wat verkies word is ‘n baie belangrike saak in die koninkryk, soveel te meer ‘n predikant wat die gemeente moet voorgaan in Skrifverklaring en leiding. Daar was oor die sestig kerkraadslede en diakens teenwoordig en almal het baie ernstig voor God gebuig na gebede en bespreking.

Op die kerkraadsvergaderings is daar baie sake wat bespreek word. Die hele gemeentelike bedrywighede word behandel en bespreek en verslag van gedoen. Drie baie belangrike kommissies is die wat spesifiek handel oor die Woordbediening. Daar is die bedieningskommissie wat handel oor alle sake rondom die bediening van die Woord. Daaronder word die prediking bespreek en al die werk van die predikante en die ouderlinge aangaande die Woordbediening. Die volgende kommissie is die katkisasiekommissie wat handel oor die katkisasie, die kinders se bywoning, die katkisasieonderwysers se voorbereiding, lesmateriaal en alle sake rondom die katkisasie. Die evangelisasiekommissie handel oor alle evangelisasiewerk. Die gemeente het ‘n beleid om veral betrokke te wees by die opleiding van predikante en daarom is ons baie betrokke by “Mukhanyo Theological School” waar ds. Maarten ook ondervoorsitter is van hulle raad. Ons is betrokke by Covenant College in Zambië, in ‘n minder mate nou by Hefsiba in Mosambiek. Ons is baie betrokke by Geref. Kerk Tembisa. Die evangelisasiekommissie se werksaamhede word opgedeel in drie dele, Binnelandse evangelisasie, Buitelandse evangelisasie, dan ‘n paar enkelpersone wat ons ondersteun. Bybelverspreiding word ook by die kommissie gereël. Dan is daar ook nog verskeie ander kommissies wat rapporteer onder andere die Jeug-, Finansies-, Instandhouding-, Diakonie en ook ad hoc (tydelike kommissies met spesifieke opdragte). Dit is elke keer ‘n baie lywige vergadering en alles gaan om die Eer van God en die uitbreiding van die koninkryk.

Dit is met groot dankbaarheid dat die Gereformeerde kerk Centurion, baie gawes (lidmate) het met verskeie talente wat in die Koninkryk gebruik word. Maar elke lidmaat is deel van die liggaam van Christus en saam dien ons God (1 Kor 12:12-31). Elke lidmaat van die jongste tot die oudste is belangrik in die kerk vir God. Ons leef vanuit ‘n diepe afhanklikheid van God (Mat 5:3) en Jesus Christus is die Hoof van die gemeente (Ef 1:22,23) en ons is sy liggaam.

Ef 1:22,23 “Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as Hoof van die kerk. 23) Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal ver- vul.”

Ds Gerrit

Aanwysing en beroeping

Die kerkraad besluit eerskomende Donderdagaand oor die verdere stappe tot die beroeping van ‘n nuwe jong herder en leraar vir die gemeente. Tot dusver het ons ons name uit die gemeente gevra en ‘n lang lys ontvang. Die kerkraad kon hierdie name sif tot daar ‘n kortlys oorgebly het.

Op sy komende vergadering sal die kerkraad dus waarskynlik tot ‘n tweetal kom wat aan die gemeente in ‘n verkiesingsvergadering (DV voor die Nagmaalsdiens volgende Sondag) voorgehou sal word. Die gemeente (alle belydende lidmate, mans en vrouens en ook die lidmate van die Engelse bediening wat teenwoordig is) stem dan per geslote stembrief oor wie hulle glo die persoon is wat beroep moet word.

Hierdie verkiesing verskil egter van ‘n politieke landsverkiesing daarin dat dit eintlik net ‘n instrument is vir die Here om vir ons te lei in die aanwysing van die regte persoon (Hand 1:15evv). Laat ons nie hier dink oor die gewig van ‘n stem en oor stemreg soos die wêreld dit doen nie, maar oor die voorreg om onder die biddende leiding van die Here te vra wie Hý wil dat ons moet beroep.

Indien sake verloop soos ons beplan sal die uitslag van die verkiesing dan so gou moontlik aan die gemeente bekend gemaak word, waarskynlik aan die einde van sodanige erediens en sal die kerkraad die te beroepe leraar mondelings en skriftelik verwittig. Daarna sal die kerkraad skriftelike ooreenkomste opstel en indien die leraar die beroep aanvaar is dit die wens van die kerkraad dat die persoon nie later nie as Januarie 2020 hier by ons begin werk.

Die grootste beroep in hierdie saak is egter dat elke lidmaat hierdie hele saak ernstig, biddend en gereeld aan die Here moet opdra. Wat die Here dan besluit sal goed en reg wees soos ons dit van Hom afgebid het.

Ds Maarten

Sondig en tog vergewe

In 2 Samuel 7 hoor ons Dawid se versugting om vir die Here ‘n tempel te bou. Tog sê die Here, ten spyte van sy mooi intensies, dat hy nie die tempel mag bou nie omdat hy in te veel oorloë betrokke was. Sy seun, Salomo, sou wel die tempel mag bou. Verder beloof die Here dat daar altyd ‘n koning in Israel uit die geslag van Dawid sal wees. Ons weet egter dat daar oor baie jare al geen koning in Israel is nie. Het die Here dan sy belofte vergeet? Nee, beslis nie. Jesus Christus wat uit die geslag van Dawid kom, het deur sy lyding en kruisiging hier op aarde heen, sy ewige Koning-skap oor die ganse heelal kom bevestig.

Kyk maar net Dawid wat ‘n besondere man van die Here was. Diep gelowig en tog sondaar. Wanneer die Here straf oor Dawid aankondig as gevolg van sy owerspel, bedrog en moord, aanvaar Dawid die Here se regverdige oordeel. Hy verootmoedig hom voor die Here en pleit om genade. Alhoewel die Here Dawid se sonde vergewe het, sterf die kind tog wat in owerspel verwek is. So leer ons dat die Here Dawid se sonde vergewe, maar die onmiddellike gevolge van sy sonde word nie sommer opgehef nie. Hierdie diep berou, anders as in Saul se geval, word verwoord in Psalm 32 en Psalm 51.

Leer dan hoe groot en genadig die Here is oor die gebroke sondaar wat sy toevlug tot die Here neem. Die Here maak die sondaar in Jesus Christus nuut. Die Here verseker ons deur die Woord en die Heilige Gees dat ons sondes werklik vergewe is.

In Psalm 32 erken Dawid dat hy die Here se liefde en genade en goedheid glad nie verdien nie. Hy erken in Psalm 32: 1 en 2 dat hy die wet en gebooie van die Here nie kon gehoorsaam nie. Dit ten spyte van die pragtige woorde wat hy in Psalm 119 oor die wet van die Here geskryf het.

Dawid bely in Psalm 51 dat hy al sondig was voor sy geboorte. Dit wys op die erkenning van die erfsonde wat in sy menswees ‘n realiteit is. Daar is niks goeds in hom as die Here nie die goeie deur die Heilige Gees in hom werk en hom gewillig maak om meer en meer te lewe soos wat die Here dit van hom vra nie.

In Psalm 51:11-13 erken Dawid dat hy nie gered kan word deur ‘n vroom lewe nie. Hy erken dat redding alleen ‘n genade daad van die Here is. Daarom kon hy pleit om ‘n “nuwe hart”. Hy pleit dat die Here nie sy Gees van hom af sal wegvat soos wat dit die geval met Saul was nie. Hy weet dat die Here alle reg het om sy rug op hom te keer. Sonder die Here se genade is daar nie vergifnis en lewe nie. Dawid het opregte berou oor dit wat hy teenoor die Here verkeerd gedoen het.

Vir ons is die realiteit van die genadige Here wat vergifnis gee deurslaggewend in ons daaglikse handel en wandel.

Ds Paul