God se Almag geopenbaar in sy Name!

Elke mens het ‘n naam. Ons weet gewoonlik nie wat ons name beteken nie tensy ons gaan navorsing doen daaroor. Sommige mense gee net mooi name aan kinders, ander familiename maar min mense gee name wat werklik die karakter van iemand beskryf.

God is so groot en Almagtig dat daar verskeie name is hoe God Homself aan ons openbaar. Ons kan nie praat van God se karakter nie, want God is volmaak en nie saamgestel uit kenmerke nie. Elke kenmerk van God is volledig Hy. ‘n Mens moet ook nie sy (Hebreeuse name) gebruik om daardeur “geleerd of gelowig” te wil klink nie. Gebruik God se name soos wat dit in jou taal vertaal is. Daar is nog baie ander name in Hebreeus en Grieks wat vir God, Vader Seun en Heilige Gees gebruik word.

Hier volg net ‘n paar Hebreeuse name:

EL, ELOAH: God “almagtig, sterk, allerhoogste” (Gen 7:1; Jes 9:6) ELOHIM: God “Skepper, almagtig en sterk” (Gen 17:7; Jer 31:33)

EL SHADDAI: “God Almagtig,” “magtige God van Jakob” (Gen 49:24; Ps 132:2,5) ADONAI: “Here” (Gen 15:2; Rigters 6:15) JHWH/JAHWEH/JEHOWA: “HERE” (Deut 6:4; Dan 9:14) – “Ek is wat Ek is” (Eks 3:14).

JAHWEH-JIREH: “Die Here voorsien” (Gen 22:14)

JAHWEH-RAPHA: “Ek, die Here wat julle gesond hou” (Eks 15:26) JAHWEH-NISSI: “Die Here gee my die oorwinning” (Eks 17:15),

JAHWEH-M’KADDESH: “Ek is die Here, Ek heilig julle aan My” (Lev 20:8; Eseg 37:28) JAWEH-SHALOM: “Die Here gee rus” (Rigters 6:24)

JAHWEH-ELOHIM: “Here God” (Gen 2:4; Ps 59:5)

JAHWEH-TSIDKENU: “Die Here verskaf reg aan ons” (Jer 33:16) JAHWEH-ROHI: “Die Here is my Herder” (Ps 23:1)

JAHWEH-SHAMMAH: “Die Here is daar” (Eseg 48:35) JAHWEH-SABAOTH: “Die Here vd leërskare” (Jes 1:24; Ps 46:7)

EL ELYON: “Allerhoogste” (Deut 26:19)

EL ROI: “U is ‘n God wat my sien” (Gen 16:13)

EL-OLAM: “Ewige God” (Ps 90:1-3) – God se natuur is sonder begin of einde, vry van alle tydsbeperkinge en Hy bevat in Homself die ware oorsaak van tyd. “Van ewigheid tot ewigheid is U God.” EL-GIBHOR: “Almagtige God” (Jes 9:6)

Bron: https://www.gotquestions.org/Afrikaans/God-name-van.html

VADER

(Aramees: ABBA Grieks: Patēr)

’n Mens loop dikwels die uitdrukking “abba” raak in meer populêre geestelike geskrifte. Daarom is dit goed dat ons ’n slag dieper daarna kyk. Abba is die Aramese vorm van die Hebreeuse ‘ab’ en kom voor in die uitdrukkings ‘abi’ (“my vader”) en abba (“ons vader”). Ons vind dit ook in ’n titel, soos byvoorbeeld by rabbi’s, soos abba Gamaliël.

Volgens die woord abba se gebruiksgeskiedenis was dit oorspronklik net deel van ’n kindergebed. Die pa van die gesin sou dan aan sy kinders sê: Julle kan die aanspreekvorm Abba vir God gebruik solank julle nog kinders is, maar nie langer as julle volwassenes is nie, en dan feitlik uitsluitlik in kultiese en liturgiese verband van eredienste.

Volgens die Ou Testament kom abba baie min voor en is dit dan te verstane in die sin van die Hebreeuse ‘ab’ (vader). Dit is die vaderfiguur wat die familie konstitueer, die orde in die familie handhaaf, familielede beskerm en die taak het om hulle op te voed. Hy moet ook toesien dat die verbondsbepalinge nagekom word. Vir koning Dawid is God ’n Vader volgens 2 Sam 7:14: “Ek sal vir hom ’n Vader wees en hy sal vir My ’n seun wees.” God se Vaderskap van die skepping loop soos ’n goue draad deur die hele Ou Testament.

Die Nuwe Testament gebruik abba slegs drie keer, telkens in ’n noemenswaardige verband: een keer in die Markus-Evangelie en twee keer by Paulus in die briewe aan die Romeine en Galasiërs.

Gewoonlik word die Griekse woord vir Vader, patēr, gebruik, en nie Abba nie, maar in die beslissende en intense momente kry ons abba. Ons kan dus tot die gevolgtrekking kom dat Abba as aanspreekvorm vir God “gereserveer” is vir die besondere momente. Selfs wanneer Jesus aan sy dissipels se versoek voldoen om ’n eie gebed te hê, net soos die ander rabbi’s en hulle skole, gebruik Matt 6:9-13 en Luk 11:2-4 nie Abba nie, maar die gewone Patēr.

’n Mens sou dink dat Jesus aan sy groep dissipels die besondere toestemming sou gegee het en hulle selfs sou aanmoedig om Abba te gebruik. Trouens, Jesus sou later van laster beskuldig word omdat Hy God sy Vader noem. Dit bevestig net weer die vasgestelde gebruik dat die Jode uit respek vir God Abba vermy het. Wat wel uitstaan, is dat daar tussen Jesus wat Abba in sy lydensgebed gebruik en sy hemelse Vader ’n unieke verbintenis was. Dit herinner ons nogal aan die Griekse patria potestas wat die mag van ’n vader beklemtoon het in die tipiese Griekse familie.

In die Nuwe Testament kom die term vader (patēr) in ʼn godsdienstige sin 245 keer voor. God is die goeie Vader (Matt. 7:9-13) wat verstaanbaar net soos aardse vaders versorgend en beskermend optree. Hy is ook geestelike Vader (1 Kor. 4:14). Abba verskil wel deeglik van Patēr wat algemeen gebruik is. Die Evangelies (vgl. Markus) plaas Abba slegs in Jesus se intense oomblikke van lyding (vgl. Mark. 14:30) en die bedoeling is dat ons as Christene dit moet respekteer. God se vaderskap word wel in biologiese sin in die Ou Testament in Genesis 1:28 vermeld. Psalm 103:13 verklaar die volgende oor God se geestelike vaderskap: “Soos ’n vader hom ontferm oor kinders, ontferm die Here Hom oor die wat vir Hom ontsag het.”

’n Belangrike aspek van God se Vaderskap is die eskatologiese betekenis daarvan. Die Gees as eindtydse gawe van die Vader begelei gelowiges om deel te wees van die eindgebeure en God daarom met die grootste respek Abba te noem.

God is die Vader van die skepping (Ef. 3:14) en ook van die verlossing, deur sy Seun se kruisdood. Die natuurlike beeld van die vader in die Joodse en Christelike huishouding kom voor, maar eintlik is sy Vaderskap die oorsprong en onderhoud van die hele skepping. Sy Vaderskap het alle verskille tussen Jode en Grieke, tussen slawe en vryes en tussen man en vrou in die eindtydse perspektief geplaas (Gal 3). Deur Jesus het die Vader ’n nuwe geslagsregister van gelowiges as familie van die Vader begin. En dié register sluit aardse en hemelse familie in. God se Vaderskap, deur die intieme Abba te gebruik, bevestig sy koningsheerskappy vir tyd en ewigheid.

Daarom buig ons eerbiedig saam met Paulus in Efesiërs 3:14 “… voor die Vader van Wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang”.

Verkorte uittreksel: Die Kerkblad dd Okt 2018 – Prof Jan Du Rand

Gees, siel en liggaam: Wat is die verskil?

Kom ons begin by wat die Bybel sê oor die skepping van die mens. Ons lees daarvan in Ge-nesis 2:7: “Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende wese (letterlik: “lewende siel”) geword het”. Hieruit kan ons die volgende afleidings maak:

Die mens is ‘n eenheidswese. Toe hy/sy gemaak is, is hulle tegelykertyd liggaam en siel gemaak. Ook uit Ps.139:13 is dit duidelik dat die mens ‘n eenheidswese van konsepsie af is.

•Die Bybel maak nie ‘n skerp skeiding tussen liggaam en siel, asof liggaam en siel twee “dele” is waaruit die mens bestaan, nie. Maar bedoel telkens die mens in geheel, as lewende wese. Net so ook praat die Bybel van “siel”. Vgl. Joh.10:11: “die goeie Herder lê sy lewe (letterlik: sy siel) af vir sy skape”.

•Al hierdie Skrifgedeeltes dui bloot aan dat dit nie voldoende (en volledig) is om te sê: ‘n mens het ‘n siel; of is ‘n siel nie. Net so ook: dat ‘n mens nie ‘n liggaam het of ‘n liggaam is nie.

•Die verste wat ons behoort te gaan is om te sê die mense lewe, en die lewe van die mens is sy lewe as liggaam en siel.

•Nog ‘n onderskeiding wat die Bybel ten opsigte van die mens maak (waarna jy vra), is “gees”. “Mag God… julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar…” (1 Tes.5:23). “Gees” wys egter ook nie op ‘n derde (ge)deel(te) van die mens nie, maar gee ‘n beskrywing van die wyse waarop die mens (as liggaam en siel) bestaan. Lees 1 Kor 2:10-12

•Hierdie eenheid (van liggaam en siel) word verbreek slegs by die dood, as gevolg van die skeiding van liggaam en siel. Die siel word onmiddellik deur God geoordeel en verkeer in die “doderyk” – vir gelowiges is dit by God in die (voorlopige) hemelse saligheid (wat die “finale” bestaanswyse van die gees van die mens is (Pred.12:7). Vir die ongelowiges is dit in die (voorlopige) helse smart (Luk.16:22-23). Met Jesus se wederkoms sal al die grafte oopgaan en die liggame opstaan en weer met die siel herenig word (Fil.3:20-21; 1 Tes.4:16-17). Hoe dit presies gaan gebeur, is die Bybel nie duidelik oor nie. Dit bly ‘n goddelike misterie, wat ek met verwagting en vreugde afwag.

Ds Charl van Rooy

Bron: http://www.gkrandburg.org.za/gesprekskamer/lysvrae/579-verdudelik-asb-of-ons-uit-liggaam-siel-en-gees-bestaan

DIS WEER VERKIESINGSTYD

Die vraag kan gestel word of Christen-gelowiges aan ‘n staatkundige bestel se verkiesings behoort deel te neem en daaraan mee te doen, terwyl daardie bestel se waardes en norme direk indruis teen die Christelike norme en belydenis. Wat se eer is daar vir God deur Christe-ne se deelname aan of instemming met ‘n humanistiese (mensgerigte) bestel? Oorwegings van bloot sekulêre en politieke aard geniet blykbaar voorkeur. ‘n Pragmatiese benadering vir die bevordering van belange word nagestreef deur deelname aan die verkiesing. Dit hoort egter nie so nie. Jesaja 65 : 12 sê iets van so ‘n situasie: “Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

Die Woord van God is baie duidelik omtrent die beginsels wat vir ons daaglikse lewe en ons menslike aktiwiteite behoort te geld. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10 : 31). As dit dan in die gewone dinge so belangrik is, hoeveel te meer in belangriker sake, soos byvoorbeeld verkiesings? Dit is die vraag wat elke opregte Christen-gelowige ten opsigte hiervan moet beantwoord.

Natuurlik kan ons leef en werk in enige vorm van staatkundige bestel, ook in die huidige. Maar kan ons as Christene ‘n humanistiese bestel ondersteun, propageer, bevorder en daarin opgaan? Nee, dit mag nie! Dit is in sekere sin vyandskap teen God en sy koninkryk, al is dit op ‘n indirekte wyse. Dan moet ons maar liewers die gevolge dra, soos wat dit tans op elke lewensterrein sigbaar is en daagliks aan die lyf gevoel of ervaar word. So verklaar Hosea 5 : 11 dan ook: “Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel” (Sien ook: Ps 146 : 3; Jer 17 : 5; Jes 2 : 22).

Die euwels (bv aborsie ens) van die huidige bestel word egter gewettig en as goed en reg verklaar op grond van daardie einste Grondwet waarvoor talle Christen-gelowiges in April 1994 gestem het. Toe was daar geen beswaar of teenkanting vanuit die kerklike gemeenskap of van die geestelike leiers teen die liberaal-humanistiese waardestelsel wat deur middel van die nuwe Grondwet gevestig sou word nie – inteendeel!

Nou is die tyd ryp vir deeglike besinning. Duidelike en sterk standpuntstelling is dringend noodsaaklik vir elke Christen-gelowige in ons land. Dan kan daar begin word om die sogenaamde “morele krisis” aan te spreek. ‘n Verknogtheid aan ‘n politieke party en sy beleid is hier onvanpas want dit belemmer ‘n onbevange besinning en verhinder ‘n suiwere beginsel-standpunt en -formulering.

Kom, laat ons dan in die geloof en getrou aan Gods Woord, vreesloos die regte pad loop. Die tyd is min, die verantwoordelikheid is groot en die gevolge is ernstig.

Marius Coetzer (Kerkpad)

Gewete

Wie het nie al geworstel in sy hart?

Moeg gewroeg en hartseer?

Die gewete wat jou agtervolg!

Die onsigbare oog wat jou vervolg!

Gewete is goed as jy reg doen,

maar is hard op jou as jy verkeerd doen.

Vanuit die hart die daad,

of dit reg of verkeerd is.

Gewete volg jou soos ‘n skaduwee.

Dit is die onsigbare oog wat jou dophou.

Getuie op jou voetspoor…

Dit kyk of jy nie ontspoor.

My gewete soek na kennis en vertroue.

Waar het ek verbrou?

Watter plek het ek gebou?

Met die gewete word gevra na goed en kwaad.

Die gewete in God is om saam te weet.,

geanker om nie gewetenloos te wees.

God moet my bewaar van gewetenloosheid,

Om nie te handel in liefdeloosheid.

In die gewete word gegroei na God’s beeld.

Wanneer sal ek dit bereik?

Wie sal bepaal die rus is finaal klaar?

Net God weet, geloofd sy God!

Dr Kobus Erasmus (Predikant van die Gereformeerde kerk Volksrust)

Loof en dank

Lof is ʼn ander woord vir “om vir God dankie te sê”. Aanbidding is om God te erken vir wie Hy is; lof is om Hom dankie te sê vir wat Hy in jou lewe doen.

Ja, dit is om te erken dat Hy in jou lewe besig is en dat wat daar gebeur van Hom af kom. As jy dus erken dat jou talente en jou gawes van God af kom en jy sê vir Hom dankie daarvoor, dán loof jy die Here. As jy vir die Here dankie sê dat jy gesond is en kan leef, dán loof jy Hom.

Dit beteken dat ons God op baie maniere kan loof. Ons kan stil op sy skoot gaan sit en net vir Hom daar dankie sê. Ons kan lekker luidkeels saam met ʼn orkes vir hom dankie sê vir sy redding en genade. Ja, glo dit of nie, ons kan selfs met stemmige orrelspel Hom heerlik loof. Dit gaan nie oor die manier nie, maar oor die opregte dankie sê.

Ons hoor partymaal na ʼn lekker singsessie dat iemand sê: “Ek het die Here nou lekker geloof”. Dit is goed om daarna lekker te voel, maar die groot vraag is nie of jy lekker gevoel het nie. Die vraag is of God lekker gevoel het.

Lof se doel is om Hom te erken vir wat Hy in jou lewe gedoen het. Dit sal vir God aangenaam wees. Maar kan ek nog die Here loof as dit swaar gaan? Waarvoor moet ek dan vir Hom dankie sê? Natuurlik kan jy God dan nog loof, al is dit net vir die voorreg om Hom te ken en te weet…

Hy sal jou nooit in die steek laat en jou ook nie bo jou kragte versoek nie. Soek dan jou krag in sy krag. Daaroor kan jy die Here vir seker loof.

Uit: Geloof in Aksie-Bybel