Bybelstudie by Eljada

Verbly julle altyd in die Here,…” Fil 4

‘n Groep van 10 eenvoudige mense sit om die tafel in die sitkamer van Eljada Huis, Daspoort. Ons sing die lied; “Verbly jou in die Heer…”. Ons praat oor Paulus wat die brief aan die gemeente in Filippie vanuit die gevangenis skryf en in die vier hoofstukke 13 keer oor vreugde skryf.

Vreugde in lyde. Vreugde in diensbaarheid. Vreugde in geloof. Vreugde in gee. Watter vreugde is dit? Dis beslis nie ‘n wêreldse vreugde nie, met kersliggies, lekker ete en geskenke nie… en as ek dit nie het nie voel ek eensaam en wil selfmoord pleeg, nie. Watter vreugde is dit dan wel?

Om Hom te ken en die krag van Sy opstanding en die gemeenskap aan Sy lyde terwyl ek aan Sy dood gelykvormig word” ( Fil 3:10). Vir Paulus het alles wat hy gehad het skade en rommel geword om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, sy Here te verkry (Fil 3;8). En as ons die vreugde ken, is die kersliggies en die fees en die oordadige ete en geskenke skielik niks in vergelyking met dit wat Jesus ons wil gee nie. Dan ervaar ons ‘n vrede “wat alle verstand te bowe gaan”. ‘n Vrede en vreugde wat nie afhang van aardse omstandighede nie, maar ‘n diepe besef van vreugde omdat God in beheer is van my lewe en dat Hy goed is en in ‘n verhouding met my wil staan.

Toe kom Annatjie van Schalkwyk (bestuurder van die huis) die vertrek binne, onlangs gediagnoseer met pankreas kanker. Sy straal die vreugde waaroor ons sopas gepraat het uit, en vertel dat dit nie saak maak wat gaan gebeur nie, haar lewe is in die hande van God. In daardie uur het daar nog meer gebeur. ‘n Nuwe meisie kom binne net toe ons met gebed geopen het. Haar naam is Hirra, wat diamant beteken. Sy is 19 jaar oud, in Pakistan gebore en vanaf haar twaalfde jaar in Suid-Afrika. Sy is opgevoed in die Moslem-geloof en ken die Koran baie goed. Toe hoor sy van Jesus in die Christelike geloof en begin om die Bybel te lees. In die Koran het sy ook oor Jesus gelees, maar nie as Saligmaker nie. Nou wil sy die Bybel lees en leer en ‘n Christen word.

Ons was amper klaar, toe Annatjie kom vra of die mense gou wil kom help om ‘n skenking af te laai, wat sopas besorg is. Daarna sluit een van die mense af met gebed en dank die Here vir die oorvloed wat Hy vir hulle gestuur het en nog stuur, meer as wat hulle kon dink of vra. Wat ‘n vreugde!

Toe ek terugry, is my hart vol vreugde en dankbaarheid oor die spesiale tyd wat ek by Eljada gehad het. Dit is deur die Here geseën.

Bid asseblief vir Eljada en die mense daar en ook vir Annatjie in haar siekte.

Indien jy een of twee keer per kwartaal na Eljada wil gaan en ‘n Bybelstudie/oordenking wil aan-bied, laat weet vir Petra Swanepoel, sel. 082 927 7324. Dink en bid daaroor. Eenvoudiges erf die Koninkryk!

Mieke van der Smit