Het jy al in jou lewe gewens dat jy weer nuut, ja weer oor kan begin? ‘n Nuwe begin is ‘n nuwe geleentheid vol vreugde en uitdagings. In Klaagliedere 3:18-23 verwoord die skrywer die wonder om nuut te begin na ‘n tyd van beproewings en swaar kry. Danksy die HERE, sê die skrywer, het hy nie omgekom nie, want daar is geen einde aan die Here se barmhartighede nie. In sy lewe jubel hy dat God se barmhartighede elke môre nuut begin.

Vir elkeen wat in Jesus Christus glo, word elke dag ‘n nuwe begin en ‘n nuwe geleentheid om oor bly te wees. Ons daaglikse bekering in Christus, verseker ons dat God daagliks, ja van oomblik tot oomblik nuut met ons begin. Sy genade is elke oggend van ons lewens opnuut vir ons beskikbaar en elke dag is sy getrouheid binne ons bereik. Dink net daaraan dat die Here se liefde en barmhartighede nooit deur ons uitput kan word nie.

So begin elkeen van die 21 jong belydende lidmate vandag met ‘n nuwe fase in hulle geloofslewe. ‘n Nuwe begin waarin elkeen sy of haar geloofsverantwoordlikheid oorneem by hulle ouers. Hierdie nuwe geloofsfase hou in dat elkeen met groot dankbaarheid teenoor hulle ouers en ander geloofsvormers nou self deur die werk van die Heilige Gees kan en wil bely dat Jesus Christus elke dag vir hulle die weg en die waarheid en die lewe is.

Ons het almal een of ander tyd in besonder ‘n nuwe begin nodig. Na ‘n tyd van terugslae en hartseer, verlang ons na ‘n nuwe begin waarin ons weer sal kan begin bou aan die positiewe in ons lewe. Soms verval ons in ‘n groef van sonde, perspektiefloosheid en vrese. Dan kom die Here en lei ons deur sy Woord en die Heilige Gees om op te staan en weer na die Here toe te gaan om so in die Naam van Jesus Christus weer nuut te begin. Ja ook vir jou is daar ‘n nuwe begin waar jy dalk in sorge en sonde oud en vaal geword het. Die wat in Jesus Christus glo, ontvang weer die sekerheid dat Jesus alles nuut maak en weer en weer nuut sal maak tot met sy wederkoms waar ons altyd in die vernuwende krag en genade van Jesus Christus sal kan lewe.

‘n Nuwe begin hou ook in dat jy net meer en meer van die Here se goeie guns en genade sal ontvang. Ja elke nuwe dag en elke nuwe begin in en deur Jesus Christus bring ons ook by hernuwing tot die besef van sy oorvloedige liefde en barmhartigheid. ‘n Nuwe begin in en deur Jesus Christus hou egter in dat ons sal bid om die vrylating van al die ou bagasie en die donkerte. Dit is die aantreklike van Jesus Christus se uitnodiging vir almal wat vermoeid en belas is. Neem sy juk op julle. Sy juk is sag en sy las is lig. In 2 Korinthiërs 5:17 staan daar dat iemand wat in Christus is, ‘n nuwe skepsel is; die ou dinge het verby gegaan, kyk, deur die Here het alles nuut geword.

Ds Paul